Categories: MeganisasiePublished On: 14th April 2023

CNH Industrial loof SA boere

By 2 min read
445 words

CNH-Industrial

Suid-Afrikaanse boere het al die aanmoediging en ondersteuning nodig wat hulle kan kry, sê Jacques Taylor, besturende direkteur van CNH Agriculture & Construction in Suider-Afrika.

In reaksie op die jongste data van die Oesskattingskomitee wat deur Agbiz bekend gemaak is, het Taylor die werkywer en deurstettingsvermoë van Suid-Afrikaanse boere geloof weens die bemoedigende skattings van nasionale oesopbrengste te midde van verskeie struikelblokke, waaronder weerbekommernisse, stygende insetkoste, arbeidsonrus en beurtkrag.

Ten spyte van ‘n moeilike plantperiode oor ‘n groot deel van die land weens die wisselvallige weerstoestande aan die begin van die 2022/23 somerproduksieseisoen, bied die nuwe data goeie hoop dat Suid-Afrika voldoende stapelvoedselvoorrade in die 2023/24-bemarkingsjaar sal hê, wat ooreenstem met die 2022/23-produksieseisoen.

Aanhoudende beurtkrag het kommer laat ontstaan dat gebiede onder besproeiing swak opbrengste kan lewer. Gelukkig het die gunstige reënval, teen ‘n matige pas, vanaf middel Februarie ‘n broodnodige blaaskans en verbeterde oestoestande gebied. Binne die somergraan- en oliesade-afdelings word ongeveer 20% mielies en 15% van sojabone onder besproeiing geproduseer.

Kortom gestel, die Oesskattingskomitee se data plaas die verwagte opbrengste van stapelgraansoorte en -oliesade effens hoër as die vorige seisoen. Die verwagte verbetering in die mielie-oes volg op beter opbrengste, aangesien die oppervlakte-aanplantings marginaal laer is as die 2021/22-seisoen. Intussen is die sterk voorspelde toename in sojabone die gevolg van beide verwagte groot opbrengste en ‘n uitbreiding in aangeplante gebiede.

Die daling in die voorspelling vir sonneblomsaadproduksie is die gevolg van die verminderde aangeplante oppervlakte en opbrengste in sommige gebiede. Ander gewasse, soos sorghum en grondbone, het ook ‘n redelike groot verwagte oes as alles goed gaan.

CNH Industrial wens alle somergraanprodusente ‘n goeie oes toe. As ‘n toonaangewende verskaffer van landboutoerusting, met sy handelsmerke Case IH en New Holland, wat trekkers, stropers, planters, spuite en balers insluit, is CNH Agriculture ‘n jarelange vennoot van boere in die streek. Die maatskappy maak ook gebruik van meer as 175 jaar se erfenis en ervaring van die landboubedryf regoor die wêreld.

Hoewel sekere subsektore steeds onder druk is, bly die vooruitsigte vir plaaslike landbou as geheel gunstig. Met die ervaring van ons noue saamwerking met boere, kan ons nie die belangrikheid van hul harde werk en onwrikbare toewyding oorbeklemtoon nie. Te midde van ernstige uitdagings doen boere alles in hule vermoë om voedselsekerheid vir ons land te verseker.

Dit is geen geheim dat ‘n robuuste landbousektor, insluitend alle kleinboere, kommersiële boere en verwante ondernemings, nie net ‘n onvervangbare steunpilaar van die ekonomie is nie, maar ook noodsaaklik is vir voedselsekerheid, werkskepping en die welstand van talle gemeenskappe in ons landelike gebiede. Om hierdie belangrike redes doen ons ‘n beroep op almal in Suid-Afrika om aan te hou om ons boere te ondersteun.

Bron: CNH Industrial

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0