Bye: Klein blombesoekers ken hul sappige storie

WhatsApp Image 2026-07-07 at 08.14.22 (2)
Wanneer jy aan bye dink, dink jy waarskynlik aan heuning. Maar hierdie klein insekte speel ՚n veel groter rol in ons daaglikse lewe as wat meeste mense besef. Sonder bye sou baie van die kos wat ons elke dag eet eenvoudig nie bestaan nie.
Klein insekte met n groot verantwoordelikheid
Het jy geweet dat bestuiwers verantwoordelik is vir ongeveer een uit elke drie happies kos wat ons eet? Bye is die bekendste bestuiwers in die wêreld, maar skoenlappers en selfs vlermuise help ook om plante te bestuif.
Die koningin van die korf
In elke byekorf swaai die koninginby die septer. Sy is die enigste wyfie met volledig ontwikkelde eierstokke en kan tot 2 500 eiers per dag lê. Wanneer ՚n koningin sterf, kies die werkerbye haar opvolger. Hulle voer ՚n jong larwe met ՚n spesiale voedingsryke stof genaamd koninginjellie (royal jelly). Hierdie dieet verander die larwe in ՚n vrugbare nuwe koningin.
Vinnig en vlytig
՚n Heuningby kan teen ongeveer 25 km/h vlieg en haar vlerke sowat 200 keer per sekonde beweeg. ՚n Gemiddelde byekolonie bestaan uit meer as 40 000 bye. Ongeveer 13 000 van hulle is daagliks besig om nektar, stuifmeel en water te versamel, terwyl die res die korf skoonmaak, ventileer bewaak en na die jong larwes omsien.
Hoeveel werk gaan in een teelepel heuning?
Een heuningby produseer gedurende hul hele leeftyd slegs sowat een twaalfde van ‘n teelepel heuning. Elke by kan tussen 20 mg en 60 mg nektar per vlug dra. Om slegs 1 g-heuning te vervaardig, moet bye ongeveer 20 versamelvlugte voltooi en meer as 1 000 blomme besoek. Wanneer bye nektar versamel, voeg hulle natuurlike ensieme by en verminder die voginhoud totdat dit die goue heuning word wat ons ken en geniet.
Die enigste produk van insekte wat eetbaar is
Heuning is uniek omdat dit die enigste eetbare produk is wat deur insekte vervaardig word. Dit is nie net lekker nie, maar ook ՚n natuurlike energiebron. Interessant genoeg kan heuning feitlik vir altyd hou. Argeoloë het selfs heuning in antieke Egiptiese grafte gevind wat, ondanks die verloop van duisende jare, steeds eetbaar was.
Ses byefamilies in Suid-Afrika
Suid-Afrika huisves verskeie verskillende soorte bye:
1. Heuningbye (Apidae)
Dit is die bekendste bye en die enigstes wat groot hoeveelhede heuning produseer. Suid-Afrika het twee spesies: die Kaapse heuningby en die Afrika-heuningby.
2. Sweetbye (Halictidae)
Ten spyte van hul vreemde naam is hierdie bye besonder kleurvol. Hoewel hulle hoofsaaklik donkerkleurig is (swart of bruin) het baie spesies ՚n reenboogkleurige glans. Sommige spesies is egter gedeeltelik groen, met ander wat rooi, blou of pers is. Sommige spesies produseer klein
hoeveelhede heuning.
3. Metselaar- en blaarsnybye (Megachilidae)
Hierdie bye gebruik modder of blare om hul neste te bou en is uitstekende bestuiwers.
4. Houtbye (Anthophoridae)
Hulle boor tonnels in hout waarin hulle hul eiers lê. Die bekende hommels behoort aan hierdie groep, hoewel daar geen ware hommels in Suid-Afrika voorkom nie.
5. Olieversamelbye (Melittidae)
In plaas van stuifmeel versamel hierdie unieke bye blomolie om hul larwes te voed.
6. Membraanbye (Colletidae)
Hulle voer hul neste uit met ՚n afskeiding wat soos sellofaan verhard en die broeiselle beskerm.

Het jy geweet?
Daar is meer as 20 000 verskillende byespesies wêreldwyd. Buiten Antarktika, kom bye op elke
vasteland voor. Verskillende plante gee aanleiding tot verskillende heuninggeure, soos bloekom-, sitrus-, avokado-, lietsjie-, mango- en aalwynheuning. Die verlies van hierdie bestuiwers kan tot wêreldwye voedseltekorte lei.
Die volgende keer wanneer jy ՚n lepel heuning geniet, onthou hoeveel duisende blombesoeke, vlugte en ure se harde werk dit hierdie merkwaardige insekte neem om dié soete
lekkerny te vervaardig.
Bronne:
AnimalTalk. (g.j.). 10 cool things about the South African honeybee. https://animaltalk.co.za/10-cool-things-about-the-south-african-honeybee/
Southerns Beekeeping Association. (g.j.). Honey bee facts.
https://beekeepers.co.za/honey-bee-facts
The Gardener Magazine. (g.j.). All About Bees.
https://www.thegardener.co.za/grow-to-eat/pollinators/all-about-bees/
WWF South Africa. (30 April 2026). Meet some of our biggest bees.