Bonsmara-vroueboer van die Noord-Kaap se beeste is soos haar kinders

20190815_172650
Colleen Jacobs van Leehan Bonsmaras by haar Bonsmara-beeste. Sy het ՚n groot liefde vir diere.
Colleen Jacobs van Leehan Bonsmaras het ՚n liefde vir haar Bonsmara-beeste. Sy ken elkeen se geskiedenis en elke bul op sy naam. Sy boer buite Douglas in die Noord-Kaap en sê dit is ՚n voorreg om te kan boer en in die natuur te werk. “Daar is vir seker plek vir ՚n vrou en dit raak al hoe meer algemeen vir vroue om self te boer,” sê Colleen.
Leehan Bonsmara-stoet se naam is afgelei van Colleen en haar man, Johan Jacobs, se name. Hulle het in 1994 met Bonsmaras begin boer, maar die stoet is eers in 2002 geregistreer toe 500 koeie gekeur is. Colleen is verantwoordelik vir die beesboerdery se bestuur en die teling van die kudde, stoetkudde en administrasie terwyl Johan na die weiding en infrastruktuur kyk en die besproeiingsboerdery (aartappels, koring en mielies) behartig.
“Ons vul mekaar goed aan omdat albei verstaan wat die ander een se rol is en mekaar ondersteun. Ek weet byvoorbeeld in strooptyd gaan ek sukkel om ՚n vragmotor te hê om kalwers te speen ensovoorts, en dan kos dit bietjie fyner beplanning, maar dit werk gewoonlik uit,” sê Colleen.
Verder noem Colleen dat ՚n vrou haar man moet kan ondersteun en belangstel in wat hy doen.

“Dit is nie nodig om elke dag saam met jou man te boer nie maar dit is belangrik om te verstaan dat boerdery nie werksure het nie, dit is ՚n leefstyl. Dit gaan soms beteken dat ՚n vers gehelp moet word om te kalf in jou Saterdagrugbytyd,” sê Colleen. Colleen se liefde vir boerdery het begin by haar grootwordjare op ՚n plaas naby Dealesville waar sy saam met haar pa met Merinoskape en beeste geboer het.
“My pa het die liefde vasgelê, ek het gereeld saam hom gery. Hy het moeite gedoen om my bewus te maak van diere se optrede en waarneming van die natuur. Colleen was die eerste vrouekeurder vir Merino’s in Suid-Afrika. Sy en haar man het ook eers met Dorpers geboer toe hulle getroud is. “My ma is besonder lief vir diere. Ons spot altyd en sê dit is eerste die honde dan die beeste dan die familie,” sê Elizca Jacobs, Colleen se dogter wat saam met hulle by die boerdery betrokke is en ook haar eie Bonsmarabeeste het. Colleen se ander dogter, Johandri en haar man, Todd Dugmore, boer ook met Bonsmaras en gebruik Leehanbulle.
“Ek en my sussie stuur vir my ma foto’s en video’s op WhatsApp van ons beeste as ons wil weet of een siek is of vir enige raad. Dit is soos ՚n veearts op speed dial. Dit is so ՚n groot voorreg om toegang te hê tot soveel kennis van my ma en pa,” sê Elizca.

Colleen Jacobs is altyd aan die glimlag op die plaas en by haar beeste.
Wanneer dit by die veilings van die beeste kom, besluit Colleen watter diere aangebied word en sy doen die plasings van lotte, tref reëlings met veeartse vir byvoorbeeld dragtigheid, DNA, vrugbaarheid by bulle ensovoorts. Boerdery is nie net lekker nie, maar het ook baie administrasie. “Dit is verseker lonend om al die data te hê en terug te kan kyk en te sien hoe spesifieke koeie jaar na jaar veilingsbulle teel,” sê Colleen. Colleen verduidelik hoekom Bonsmara so ՚n gewilde ras is.
“Die beeste het baie goeie temperament en is baie aanpasbaar. Die terugvoering wat ons vanaf ons kopers kry, bevestig keer op keer dat Bonsmaras werklik goed regoor die land aanpas. Ons het ook al bulle Mosambiek toe uitgevoer,” sê sy.
Die droogtes in die Noord-Kaap en die brande waaronder die boere in die omgewing die laaste paar jaar deurgeloop het, sal altyd ՚n uitdaging wees. Colleen het nie net ՚n liefde vir haar beeste nie, maar oefen ook graag en bestee tyd saam met haar kinders en kleinkinders.

Die hele Jacobs-familie van links: Todd en Johandri Dugmore, Elizca Jacobs (dogters van Colleen), Colleen en Johan Jacobs, Michael (seun) en sy vrou Tanja Jacobs. Die seuntjies voor is Colleen se kleinkinders.
“Sy is ՚n masjien op ՚n fiets en het onlangs gekwalifiseer om in Oktober Suid-Afrika in België te verteenwoordig vir gravel bike in haar ouderdomsgroep. Sy het ook al vier halfystermankompetisies voltooi (almal na 50). Sy en my pa ry ook gereeld saam stage races,” sê Elizca. Leehan Bonsmara hou twee keer ՚n jaar veiling.
Hulle volgende veiling is 23 Augustus 2024 in Kimberley. Kontak Colleen vir meer inligting by 082-553-1108. Leehan Bonsmaras is ook bekend vir hulle poena-bulle.