Categories: NuusPublished On: 9th July 2024

Boerebemarkingsdag: Dis amper weer tyd vir Limpopo se grootste landbou-ekspo

By 2 min read
421 words

boere bemarkings

Hierdie jaar gaan die Vivo-Boerebemarkingsdag uit sy nate bars. Die landbou-ekspo vind hierdie jaar plaas in die hartjie van die Bosveld op 30 & 31 Augustus, met die hoofdoel om die boer en besigheid bymekaar te bring.

Die Vivo-boerebemarkingsdag, wat ontstaan het as ’n fondswerwingsprojek vir die plaaslike CVO-skool, het oor die jare van net ’n boeredag tot die grootste landbouskou in Limpopo gegroei. Die opbrengs uit hierdie landbou-ekspo word aangewend vir die finansiering van die CVO-skool se aktiwiteite. Dis die perfekte geleentheid om jou besigheid se handelsmerk ‘n hupstoot te gee en te weet jy saai in die gemeeskap van Vivo.

Tydens die 2 dae lange fees is daar iets vir elkeen. Van lanbou uitstallers, die MammaMall tot kosstalletjies is daar meer as genoeg om te doen. Deur die loop van die feesdae kan jy deel wees van die veeveilings, landboudemonstrasies, en werkswinkels. Die dames kan by die Vrouefees aansluit vir werkswinkels soos skuim-handwasklas, mosaïek ‘n sleutelhouer, decoupage ‘n skinkbord, of leer om jou eie mengeldrankie met Gin te maak, en ‘n kookklas om ‘n Hongaarse Paprika hoenderdis te maak. Die tentedorp is ‘n klipgooi weg van die feesterrein wat jou die geleentheid bied om altwee dae te kan bywoon sonder enige probleme.

Die immergewilde kunstenaars wat die jaar die verhoog gaan betree is Arno Jordaan, Jay, Adam Tas en Demi Lee Moore.  Die kunstenaars beloof om fantastiese vermaak te verskaf na al die bedrywighede van die dag. Die vertonings is oop vir elke persoon wat toegangskaartjies koop vir slegs R100 per volwassene per dag. Leerders van CVO Skool Vivo, laerskoolleerders en jonger geniet gratis toegang. Jy wil nie hierdie jaar uitmis nie.

CT van der Merwe, voorsitter van die Vivo-boerebemarkingsdag, sê die hooffokus van die ekspo is om die boer en die besigheid bymekaar uit te bring.

“Dis die ideale geleentheid vir besighede om met plaaslike en provinsiale boere op ‘n informele, boeremanier te netwerk. Verlede jaar het sowat 5 000 mense die ekspo besoek om die meer as 150 besighede te ondersteun. Vanjaar gaan dit nog groter en beter wees.”

CT wat ook die Uitvoerende Hoof van AL 3 BOERDERY is, het self al van die kennis en nuwe tegnologie wat aangebied word by die ekspo in sy eie boerdery aangeskaf. Hy is ‘n voorbeeld van die aanwins wat die landbou-ekspo vir ‘n besigheid kan wees.

Maak seker jy kom wees deel van die grootste landbou-ekspo in Limpopo die jaar. Of dit nou as uitstaller, besigheid of toeskouer is; dit beloof om jou verwagtinge te oortref.

Lees meer op die webblad.

Bron: Vivo Boerebemarkingsdag

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0