Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 26th May 2026

Boere, maak jou bestaande toerusting slimmer met PTx

By 5 min read
887 words

DSC_0360

Boere kon tydens NAMPO eerstehands sien hoe PTx-tegnologie bestaande toerusting slimmer maak.

Presisieboerdery is al lankal nie meer net ’n luuksheid vir grootskaalse boerderye nie, dit het ’n noodsaaklikheid geword vir boere wat slimmer wil werk, insetkoste wil beperk en elke hektaar optimaal wil benut.

By NAMPO 2026 het AGCO weer sterk klem gelê op tegnologie-oplossings met hul PTx-aanbieding, waar boere eerstehands kon sien hoe geïntegreerde presisie-oplossings hul boerderye na die volgende vlak kan neem, en hoe hulle hul bestaande toerusting slimmer kan maak met behulp van PTx se oplossings.

Volgens Emile Renke, produkbemarkingsbestuurder vir presisieboerdery-oplossings by AGCO, is PTx veel meer as net ’n nuwe handelsnaam. Hy verduidelik: “PTx staan vir presisieboerdery (P) en gevorderde tegnologie (T) wat die positiewe impak op jou boerdery eksponensieel (x) verhoog. Ons wil hê ons handelaars moet ’n eenstopwinkel wees vir boere se presisiebehoeftes, van slimskerms en GPS-stelsels tot planters, spuit- en waterbestuurtegnologie,” verduidelik Emile.

Slimmer spuittegnologie vir beter benutting

Een van die oplossings wat baie aandag by die PTx-standplaas getrek het, was die Symphony-stelsel uit die PTx Precision Planting-reeks. Die stelsel gebruik PWM-spuitpunte (Pulse Width Modulation) om optimale bedekking en beter benutting van spuitstof te verseker.

Die tegnologie bied individuele seksiebeheer, wat beteken dat seksies outomaties aan- en afgeskakel word om oorvleueling te beperk. Die stelsel doen ook draaikompensasie wanneer die spuit deur draaie beweeg.

“Die doel is om vermorsing van produkte tot die minimum te beperk en terselfdertyd maksimum doeltreffendheid te verseker,” sê Emile.

Die Symphony Vision-kamera voeg nóg ’n vlak van akkuraatheid by deur as ’n spot spray-stelsel op te tree. Die kamera kan onkruid tussen gewasse identifiseer en onderskei tussen groen-op-groen- en groen-op-bruin-toestande.

Emile Renke van AGCO het tydens NAMPO boere meer vertel oor die nuutste PTx- presisieboerdery-oplossings.

Waterbestuur word slimmer

PTx Trimble se waterbestuursoplossings het veral belangstelling onder groenteboere gewek. Hierdie tegnologie stel boere in staat om lande presies gelyk te maak om wateropdamming en gewasskade te voorkom. Die stelsel maak dit moontlik om lande teen spesifieke hellings te vorm sodat water teen ’n beheerde tempo afloop sonder om spoelslote te veroorsaak.

Volgens Emile kan die oplossing ook vir ondergrondse dreinering gebruik word.

“Ons sien al hoe meer dat waterbestuur ’n kritieke rol speel in winsgewende produksie. Hierdie oplossings help boere om water baie meer effektief te bestuur,” verduidelik hy.

Integrasie sonder komplikasies

Nog ’n hoogtepunt was die bekendstelling van die V-Connect Drive-oplossing. Hierdie stelsel laat boere toe om Precision Planting se bekende V-Drive-saadmeterstelsel te gebruik met hul trekker se bestaande ISOBUS-terminaal, sonder die behoefte aan ’n aparte of addisionele skerm.

“Daar was groot aanvraag van kliënte wat die voordele van V-Drive wou benut, maar dit eenvoudig met hulle bestaande stelsels wou integreer,” sê Emile.

Die oplossing bied saadmonitering en beheer op ’n eenvoudige en bekostigbare manier, terwyl boere later steeds kan opgradeer na die volledige Precision Planting 2020-skerm vir verdere funksionaliteite soos optimale plantestand en verbeterde opkoms.

Met die Symphony-spuitstelsel word optimale bedekking en minimale vermorsing verseker.

Data wat beter besluite dryf

Een van die nuutste toevoegings tot die PTx-oplossings is PTx Farm Engage – ’n handelsmerk-onafhanklike boerderybestuursagtewarepakket wat data vanaf verskillende platforms kan versamel en integreer.

Die stelsel kan data onttrek vanaf trekkers soos Massey Ferguson, Fendt, Valtra en selfs ander platforms deur oop Aplication Programming Interface (API)-integrasie.

“Boere sit met groot hoeveelhede data, maar die belangrikste is om daardie data bruikbaar te maak,” verduidelik Emile. “Met PTx Farm Engage kan alles op een platform saamgevoeg word sodat beter bestuursbesluite geneem kan word.”

Data kan ook deur die wolk teruggestuur word na verskillende trekkers in ’n vloot, wat werkvloei en bestuursbeheer verder verbeter.

’n Plantereenheid gebou vir presisie

Die CornerStone-plantereenheid het ook sterk belangstelling gelok. Hierdie plantereenheid is deur Precision Planting ontwikkel en ontwerp om verskeie “retrofit”-oplossings en tegnologieë te akkommodeer.

Die eenheid beskik onder meer oor verstelbare drukbeheer vir optimale saadplasing, V-Drive-saadmetertegnologie vir uitstekende singulasie (wat beteken dat ’n planter presies een enkele pit of saad op ’n slag op die regte plek en afstand in die grond laat val) en die WaveVision-sensor vir akkurate saadtelling. Die druk op die sluitwiele kan ook verstel word om optimale saadbedtoestande te verseker.

‘Retrofit’-oplossings vir enige trekker

PTx Trimble se “retrofit”-oplossings bly steeds een van die grootste trekpleisters vir boere wat bestaande trekkers slimmer wil maak sonder om noodwendig nuwe toerusting aan te koop.

Die reeks sluit die GFX 1260-, GFX 1060- en GFX 350-skerms in, wat funksies soos outostuur, veranderlike toediening en seksiebeheer bied.

“Ons glo aan ’n modulêre benadering,” sê Emile. “ ’n Boer moet kan begin met wat hy nodig het en later uitbrei soos sy behoeftes groei.”

Vir GPS-oplossings bied PTx Trimble die NAV-500- en die vlagskip NAV-960-ontvangers aan. Die NAV-960 bied akkuraatheid tot 2,5 cm deur middel van betaalde satellietkorreksieseine.

Selfs trekkers wat nie oorspronklik stuurgereed is nie, kan deur middel van ’n elektriese stuurwiel omgeskakel word na slim trekkers met volledige outostuurfunksionaliteit.

Tegnologie wat boerdery vorentoe neem

By NAMPO het dit duidelik geword dat presisieboerdery nie meer bloot oor tegnologie gaan nie, maar oor beter besluitneming, verbeterde doeltreffendheid en volhoubare winsgewendheid.

Met PTx se geïntegreerde benadering wys AGCO hoe tegnologie-oplossings prakties toegepas kan word om boere te help om meer akkuraat, slimmer en meer produktief te boer, ongeag die grootte of handelsmerk van hul toerusting. Vir meer inligting, besoek gerus PTx Trimble of PTx Precision Planting se webtuiste, of kontak jou naaste AGCO-handelaar.

 

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1