Besproeiiing uit Hardapdam kan hervat

dam
NamWater, in konsultasie met die Ministerie van Landbou, Water en Grondhervorming, is verheug om die hervatting van die besproeiingswatertoevoer vanaf die Hardapdam aan te kondig, met ingang van 20 Januarie 2025.
Namibië Landbou-unie (NLU) berig in hulle weeklikse nuusbrief dat die besluit deur die Minister van Landbou, Water en Grondhervorming, Calle Schlettwein, goegekeur is. Die besluit bevorder die nasionale prioriteite om landbouproduksie en ekonomiese stabiliteit in die streek omdat die Hardap-besroeiingskema ‘n kritieke rol in die ondersteuning van landbouers en die plaaslike ekonomie speel.
Besproeiings uit die dam is in Oktober 2024 opgeskort toe die damvlak 5,5% bereik het. Goeie reëns vroeg in Januarie het egter die damvlak stadig maar seker laat styg tot die huidige 16,6%.
Goeie reëns in die opvanggebied het die watervlak laat styg. Die Hardap Boerevereniging het NamWater genader om besproeiing uit die dam te hervat. De vereniging het voorgestel dat besproeiing op 80% van die besproeiingsgrond hervat word, terwyl 20% water gespaar word om volgehoue gebruik te verseker.
NamWater het na ‘n ontleding van die beskikbare water vir landbou en huishoudelik gebruik vir Mariental en die omliggende gemeenskappe, besluit om met die goedkeuring van die owerhede, water vanaf 20 Januarie uit die dam vry te laat.
Die ontleding het getoon dat 80% van besproeiingswater beskikbaar tot Julie vanjaar beskikbaar gestel kan word en dat daar dan genoeg water vir huishoudelike gebruik in die dorp en gemeenskappe sal oor wees.
Intussen is water sedert 15 Januarie in die besproeiingstelsel vrygelaat om voorsiening te maak daarvoor dat lug wat weens die toedraai van die krane in Oktober verlede jaar in die pype mag wees, uit die stelsel verwyder kan word.
Die besluit is geneem na indringende onderhoude met belanghebbendes, ‘n gedetailleerde ontleding van die beskikbare water en opgedateerde inligting oor die moontlike invloei van water uit opvangsgebiede van riviere wat uiteindelik water na die dam bring.
Boere word aangeraai om waterbesparende landboupraktyke toe te pas om te verseker dat die waterbronne volhoubaar benut kan word.
NamWater is verbind daartoe om die behoeftes van landbou en huishoudings in ag te neem om nie net watersekerheid nie, maar ook volhoubare ontwikkeling en ekonomiese veerkragtigheid in die Hardapgebied te ondersteun.