Bek-en-klouseer se entstof-invoer neem nuwe wending

DESIGN BILOGIX SE BKS-ENTSTOF MAGTIGING TERUGGETREK (3)
Terwyl Suid-Afrikaanse boere op hete kole sit en wag vir ’n einde aan die bek-en-klouseer (BKS)-epidemie en vir entstowwe om die land binne te kom, het die private Suid-Afrikaanse veeartseny-entstofvervaardiger, Design Biologix, op 3 Februarie laat weet dat hulle nie meer die middelman vir die entstowwe sal wees nie.
Design Biologix is aanvanklik aangewys om die alleen-invoerder en verspreider van die BKS-entstowwe van Argentynse entstofvervaardigers, Biogénesis Bagó, te wees.
In ’n Facebook-bladplasing het hulle egter laat weet dat hulle na afloop van ’n vergadering op 22 Januarie tussen Biogénesis Bagó en die Suid-Afrikaanse departement van landbou deur die Argentynse vervaardigers ingelig is dat die departement verkies dat hulle nie deur tussengangers werk nie, en dat Design Biologix voortaan nie as hul agent sal dien nie.
Karen Nel van Design Biologix het ook aan ProAgri Media bevestig dat hulle ingelig is dat die departement onderhandel het om die entstowwe direk van Biogénesis Bagó te verkry.
Laastens het die plasing voorspoed toegewens vir die departement, sowel as elke boer, voer- en melkkraal.
“Ons wens die allerbeste toe om entstowwe so gou as moontlik te bekom om hierdie verwoestende siekte onder beheer te bring. Soos altyd, is ons doel om die dieregesondheidsbedryf na die beste van ons vermoë te dien om die nasionale kudde gesond te hou,” het die plasing geëindig.
Biogénesis Bagó het in Januarie gedeel dat hul doelwit is om minstens 80% dekking in geteikende beesbevolkings te bereik, veral in afgeleë gebiede, en tot 100% van voerkrale en melkkoeie.
Hulle beoog om binne die volgende 12 maande uitbrekings met 70% in hoërisiko-provinsies te verminder.
“Ons kan verseker dat ons ’n gereed en betroubare voorraad kan hê met 1 miljoen dosisse wat gereed is om gestuur te word sodra die nodige permitte uitgereik word. En Biogénesis Bagó sal ook teen Maart 2026 ’n bykomende 5 miljoen dosisse kan lewer,” het hulle gesê.
In ’n persverklaring op 27 Januarie het die minister van landbou, John Steenhuisen, en die departement van landbou hul kommer uitgespreek oor ’n regsbrief wat van Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou ontvang is.
In die brief word geëis dat eienaars van vee toegelaat word om entstowwe privaat toe te dien, en die departement word ook met regstappe gedreig.
Steenhuisen het gesê dat bek-en-klouseer ’n beheerde dieresiekte is wat streng deur die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet Nr. 35 van 1984) beheer word, en het gewaarsku dat die departement verplig is om die wet in hierdie verband na te kom.
Die verklaring lui ook dat die staat reeds twee miljoen entstowwe van die Botswana-entstofinstituut (BVI) verkry, gemonitor en toegedien het.
“Daarbenewens het die uitreiking van permitte vir private maatskappye om entstowwe as plaaslike agente in te voer, reeds begin. Invoerpermitte vir die Dollvet-entstof is aan Dunevax uitgereik en ’n bykomende invoerpermit om die Biogénesis Bagó-entstof in te voer, is op hande,” het die verklaring gesê.
Die departement glo ook dat entstowwe wat gratis vir almal aangebied word, kortsigtig en roekeloos is, asook in stryd met gevestigde internasionale en plaaslike maatreëls vir siektebeheer.
“Ons het reeds die rampspoedige gevolge gesien van onbelemmerde toegang tot entstowwe wat onwettig deur sekere boere in KwaZulu-Natal ingevoer is, en die ernstige risiko wat dit inhou,” sê die verklaring.
“Die privaatsektor, bedryfsliggame en ander is by elke stap van die proses ingesluit, van die aanvanklike lekgotla oor bek-en-klouseer tot die Ministeriële Taakspan en nou ook in die Bedryfskoördineringsraad vir bek-en-klouseer. Die departement het hom verder reeds daartoe verbind om met privaat veeartse en dieretegnici saam te werk soos die uitrol van die entstof vorder,” het die verklaring verduidelik.