Balfour Hooidag 2025: Boere stroom na grootste hooigeleentheid in die land

DCIM100MEDIADJI_0730.JPG
Balfour Hooidag 2025 bars uit sy nate!
Die grootste en mees indrukwekkende hooigeleentheid in die land was weer, soos elke jaar, ‘n reuse sukses. Die jaarlikse Balfour Hooidag, gehou op die plaas, Palmietfontein van PJ Kriek en seuns, het vanjaar die meeste uitstallers nog ooit en boere van regoor Suid-Afrika en verder gelok.
Met ‘n rekordgetal besoekers, voorste uitstallers, en die nuutste tegnologie in hooiproduksie en -hantering, het hierdie dag nie net verwagtinge oortref nie, maar ook die toon aangegee vir die toekoms van hooitoerusting. Dit was ’n viering van kundigheid, samewerking en die krag van die landbousektor om uitdagings te oorkom en groei te verseker.
Vinnige, gesonde groei kenmerk die belangstelling in Balfour Boerevereniging se jaarlikse hooidag. Die nat weer en reënbuie die vorige nag het boere, vervaardigers en uitstallers se betrokkenheid en deelname aan die dag beslis nie gedemp nie.
Dertien jaar gelede het ’n skamele 35 mense opgedaag vir die eerste Hooidag en vanjaar ‘n totaal van 1 300 besoekers en die meeste uitstallers tot op hede het die hooidag bygewoon. Die dag was ook gekroon met smullekker skaap op die spit.

Tydens Balfour se Hooidag het John Deere se vloot trekkers hulle staal en krag deeglik getoon.
Dawie Brits, boer en lid van Balfour Boerevereniging, vertel: “Wat vanjaar se Balfour Hooidag anders maak, is dat ons vroeër jare voordat Balfour Hooidag so groot geraak het, skaap gespitbraai het en vanjaar het ons besluit om dit weer terug te bring.” Daar was 25 skape gespitbraai.
“Ons het ook baie meer uitstallers as ander jare. Ons het 64 uitstallers op die terrein en 10 fabrikate wat hulle hooitoerusting demonstreer,” voeg hy by.
Die afgelope droogte het weer bewys watter waardevolle bate goeie hooi is en die Hooidag is daar om boere en verskaffers van hooimaaktoerusting bymekaar te bring sodat die boer al die opsies in aksie kan sien om sy eie hooiproduksie te verbeter. Die Hooidag is ook een van die Boerevereniging se belangrikste fondsinsamelingsgeleenthede.
Dawie sê: “‘n Maand gelede met die droogte het ons nie geweet hoe ons die dag suksesvol gaan deurvoer nie, en met genade en seën van wonderlike reën is dit vandag amper te nat vir sommige van die demonstrasies. Na ‘n droogtetydperk soos wat ons in 2024 ervaar het, dink ek boere begin al hoe meer besef waarom hooitoerusting en die maak van hooi vir droogtetye so belangrik is. Vandag het ons alle tipe hooitoerusting hier, van harke, balers, snyers en meer. Enigiets wat jy wil weet oor hooimaak en hooitoerusting is vandag hier!”
Die tien fabrikate het onder meer New Holland, Case IH en NMI (Northmec Implements), Rovic, Jupidex, John Deere, Claas, Valtrac, Landini, Kubota en Orbach Agri ingesluit. AFGRI is jaarliks die hoofborg van Balfour Hooidag en hulle het werklik boere, deelnemers en toeskouers op die hande gedra met die gasvryheid by hulle stalletjie.
Jacob de Villiers, Bedryfshoof van AFGRI, vertel: “Balfour Hooidag is nou al amper ‘n tradisionele instelling om die jaar af te skop. Ons kyk met groot dankbaarheid en vooruitsigte na die seisoen wat pas afgeskop het.”

Rovic demonstreer hulle Kuhn RW 1410-rondebaaltoedraaier. Hierdie Kuhn RW 1410 is ‘n sleepbare model, wat die bale self oplaai, toedraai en aflaai om die veelsydigheid en doeltreffendheid te bied wat boere wil hê.
Jacob sê: “Ons kom nou al ‘n lang pad saam met hierdie boeredag en die gemeenskap en ons loof die Balfour Boerevereniging vir die harde werk wat hulle doen om hierdie dag elke jaar ‘n sukses te maak; om hulle eie ondernemings aan die gang te hou, maar steeds daarop ingestel is om terug te gee aan die gemeenskap – ‘n gemeenskap wat dit ongelooflik baie nodig het, ‘n gemeenskap wat gegrond is daarop dat die platteland kan voortbestaan in hierdie deel van die land.
Hy sê dat dit vir AFGRI ook belangrik is om deel van Balfour Hooidag te wees, om ons eie toerusting te demonstreer. Hulle vennoot, John Deere, was ook betrokke by die demonstrasies saam met vele ander fabrikate. “Dit is goed vir ons om ook te sien wat ander handelsmerke doen.”

Leerders van Laerskool Hannes Visagie in Nigel het die uitstappie na Balfour Hooidag terdeë geniet.
Wat sê die boere?
JJ Pretorius, boer van Bronkhorstspruit, vertel dat hy die Hooidag bywoon om die nuutste tegnologie in aksie te sien en om te sien wat is beskikbaar in die mark. Wat vir hom belangrik is, is die feit dat die verskillende fabrikate hulle staal in dieselfde toestande moes wys. Wat vir hom die meeste van die toerusting uitgestaan het was Claas se toerusting, die trekkers en so ook hulle balers en hoe die trekkers en balers met die tegnologie in harmonie saamwerk.
Martin Ehlers boer ook buite Bronkhorstspruit vir JP Conradie Boerdery. Hy vertel: “’n Dag soos vandag gee ‘n mens die geleentheid om op een dag al die trekkers en toerusting, nuwe en ouer modelle, in aksie te sien. Ons het spesifiek ook kom kyk na die kragharke, en ook na van die nuwe balers.” Hy meen dat die 6175 R John Deere-trekker hom die meeste van alles beïndruk het tydens die Hooidag.
- Rovic se Cicoria 2749 S-blokkiesbaler in aksie.
- Wanneer die demonstrasies lank raak en die bene moeg raak, kom die varsgebaalde bale handig te pas as sitplek.
- Falcon het ook hulle F60/350VT Haymaker®-snyer se staal gewys.
- NMI (Northmec Implements) se Sitrex QR 12-hark in aksie.
- New Holland het gespog met hulle 1290 Bigbaler-hoëdigtheidbaler. Hierdie baler kan ‘n indrukwekkende baal van gemiddeld 735 kg maak! Dit is ideaal vir professionele baalkontrakteurs en baalhandelaars.

Valtrac se welbekende trekkers en Pöttinger-snytoerusting het weer die koppe laat draai by vanjaar se Balfour Hooidag. Hier is die Valtra TwinTrac in aksie met die Pöttinger Novacat X8 en die Novacat 351 Alpha Motion Pro.
- Claas se trekker- en balertegnologie werk in harmonie saam om die perfekte rondebaal te maak.
- Massey Ferguson se RK-reeks kraghark plaas die hooi in ‘n perfekte windry, reg om gebaal te word.
- Jupidex, die verspreiders van Kverneland-toerusting in Afrika, het die welbekende 4340 CR-skyfsnyerkneuseraan boere gedemonstreer.
- André Olwagen en Daniel Dames – tevrede manne van NMI (Northmec Implements) en Case IH na afloop van ‘n suksesvolle Balfour Hooidag.
- Boere bekyk die gehalte van die gras nadat dit gesny is.
- Orbach Agri was ook een van die vervaardigers wat hulle produkte tydens die hooidag gedemonstreer het. Hier wys hulle hoe egalig die Orbach DMH 3400 die gras sny.