Categories: Artikels, Boer slim!, GewasproduksiePublished On: 31st January 2022

Baardknyp by mielies (“silkjamming”)

By 4 min read
694 words

shutterstock_295453547-scaled

deur Roelof le Roux, landboukundige

Baardvorming en bestuiwing is van kritieke belang by pitvorming van mielies. Elke bestuifde baard kan ՚n pit by die opbrengs voeg, maar ՚n onbestuifde baard is ՚n verlore pit. Enige hindernis vir die bestuiwingsproses het dus ՚n baie regstreekse impak op die opbrengs.

Hindernisse in die weg van suksesvolle baardvorming en bestuiwing sluit
die weer, insekte en kultivars self in. Droogte is ՚n algemene weerprobleem,
en afvreet van baard deur insekte kom jaarliks voor. ՚n Minder algemene, maar nietemin ernstige probleem wat voortspruit uit ՚n kombinasie tussen klimaat en kultivar, is baardknyp wat jaarliks voorkom in veral die kouer produksiegebiede van ons land.

Bestuiwingsproses by mielies

Die baard wat aan die pitte aan die basis van die stronk vasgeheg is, kom eerste te voorskyn aan die punt van die kop. Hierdie baard word dus eerste bestuif en daarna volg die res van die baard tot die laaste baard wat naby die bopunt van die kop vasgeheg is te voorskyn kom en bestuif word.

Baard verskyn aan die punt van die kop soos in Figuur 3 gesien kan word. Dit gebeur oor ՚n hele paar dae, maar wissel in die orde van 7 tot 10 dae.
Die proses van stuifmeelstorting gebeur gewoonlik gelyktydig met baardverskyning. Indien ՚n baard verskyn en stuifmeel val daarop, groei die stuifmeelkorrel in die buis afwaarts tot in die saadknoppie, waar bevrugting plaasvind.

Klimaat- en kultivarfaktore wat bestuiwing beïnvloed

Figuur 2: Gedissekteerde ontwikkelende kop, wat aandui dat die langer baard uit die basis van die kop voorkom en daarom eerste bestuif sal word.

Baardknyp word gekenmerk deurdat dit veral voorkom tydens tye van koeler weer wanneer baardverlenging en normale seldeling vertraag word. Kenners beweer dat dit veral koeler nagte is wat meer bydra tot die voorkoms hiervan. Hier kom ook baie kultivarverskille na vore. Veral kultivars wat meer geneig is om ՚n baie meer toe en stywe blaarskede om die kop te hê, is tydens sulke tye baie meer geneig om te sukkel om al die baard binne die normale tydperk by die punt van die blaarskede uit te kry. Dit kan hier baie duidelik in Figuur 4 en Figuur 5 gesien word.

Figuur 3: Baard besig om deur die blaarskede te breek en verder te verleng.

Kopblaarskedes kan tydelik ՚n versperring vir groeiende baard wees

Tydens die aktiewe groeifase van die baard kan koel nagte waarna ons verwys het die groei in so ՚n mate stuit dat baard ook nie so vinnig verleng nie. Baard begin dan effens groeikrag verloor en omdat sekere kultivars dan juis hulle blaarskede vaster teen die kop vastrek, begin die baard sukkel om deur die blaarskede te groei. Die baard begin dan weer afwaarts terug na die basis van die kop groei, siende dat dit die pad van minste weerstand is, maar daar kan geen stuifmeel die baard bereik nie.

Waarom juis die baard aan die punt van die kop meer benadeel word in tye van baardknyp

4: Baard besig om normaalweg deur die blaarskede te breek.

Terwyl baard wat van die basis kom groei en verleng en by die punt van die blaarskede uitkom, raak die opening waar die volgende baarde moet uitkom nouer namate meer baard daarby wil uitgroei. Dit verklaar waarom die laaste baard wat aan die voorpunt van die kop vasgeheg is, die meeste geraak word sodat hulle pitte swakker bestuif word.

Bestuur van “baardknyp”

Figuur 5: Baard sukkel om deur die blaarskede te breek. Enkele baarde kom tog deur en vertoon kreukelagtig soos wat dit binne die blaarskede vasgevang was.

Baardknyp word beste bestuur deur kultivarkeuse, asook plantdatum en kultivargroeilengte so te selekteer dat jou risiko’s verspreid is. Kultivars moet ook nie onnodig geëtiketteer word as kultivars wat meer baardknyp kry nie, omdat dit ՚n baie sporadiese verskynsel is en klimaatsfaktore ՚n groot rol in die voorkoms daarvan speel.

Bronverwysing

Nielsen, R.L. 2000. Scrambled silks, anyone? Corny News Network, Agronomy Dept., Purdue University. West Lafayette, IN. www.agry.purdue.edu/ext/corn/news/articles.00/SilkBalling-0718.html

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0