Categories: NuusPublished On: 10th September 2025

Baanbreker-biohoutskoolprojek ontwikkel vir herstel van weiding in Noord-Kaap

By 3 min read
542 words

Prosopis in the Northern Cape

Danksy ’n baanbreker-biohoutskoolinisiatief (“biochar”) van Terraligna —’n filiaal van die privaat beleggingsnetwerk Kickstart Capital, kan boere in die dor Hantam-streek van die Noord-Kaap moontlik binnekort voordeel trek uit die herstel van gedegradeerde weidingsgrond en grondwater.

Die naam “Terraligna”, verduidelik Rian Genis, die besturende direkteur van Kickstart Capital, is die Latynse woorde vir “aarde” en “hout”.

Die teiken van die projek is die verwoestende verspreiding van die indringerspesie Prosopis (ook bekend as “mesquite”), wat reeds groot dele van die area se boerderygrond vernietig het. Die mikpunt van Fase Een, wat teen die einde van 2025 van stapel gestuur word, is om in die eerste jaar 3 000 hektaar op te ruim.  Die einddoel is om 23 000 hektaar op te ruim en in die proses sowat 10 000 ton bio-houtskool te produseer.

“Ons verwag dat die eerste fase minstens 100 werksgeleenthede sal skep,” sê Genis. “Dit is ’n volhoubare, uitbreibare oplossing wat ook die omgewing en die lewensbestaan van plattelandse gemeenskappe sal  bevoordeel.”

‘n Deurslaggewend belangrike deel van die projek is die twee bio-steenkooloonde wat binnekort in die Hantam-streek geïnstalleer sal word. Verdere eenhede sal bygevoeg word namate die projek groei.

’n Nasionale uitdaging, ’n plaaslike oplossing

Die wye en vinnige verspreiding van indringerplantspesies is ‘n enorme nasionale uitdaging, Prosopis synde een van die grootste bedreigings. Sowat 7,3 miljoen hektaar – ongeveer 6% van Suid-Afrika se totale grondoppervlak – is reeds deur indringerplantspesies aangetas, desnieteenstaande jarelange en duur pogings om die indringing te stuit. Ten einde internasionale teikens vir gronddegraderingsneutraliteit (“Land Degradation Neutrality”) te bereik, is Suid-Afrika daartoe verbind om teen 2030 indringerspesies op meer as een miljoen hektaar grond uit te wis en 633 000 hektaar aangetaste grond te herwin.

Wat is biohoutskool?

Biohoutskool is ’n koolstofryke, grondverrykende stof wat geskep word deur middel van pirolise,’n proses wat daarop gemik is om organiese materiaal in omgewings met lae suurstofvlakke te verhit. Biohoutskool hou ‘n wye verskeidenheid landboukundige sowel as klimaatweerbaarheidsvoordele in – van verbeterde grondvrugbaarheid en verhoogde waterterughouding tot die langtermyn berging van koolstof.

Van indringerlas tot ekonomiese geleentheid

Terraligna werk saam met hul sustermaatskappy Terravusa (afgelei van die Latyn vir “hernieu die aarde”).  Terravusa spesialiseer in die verskaffing van gepatenteerde boomvernietigingshormone wat ontwikkel is om Prosopis-bome selektief uit te roei sonder om omliggende plante of diere te benadeel. Binne 18 maande ná behandeling kan indringende boomspesies vir biohoutskoolproduksie geoes word.

Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Kickstart Capital se moedermaatskappy Laeveld Agrochem, wys daarop dat die inisiatief se voordele verder as grondherstel strek. “Dit sal ook vir boere inkomste uit die geoeste hout en herwonne weidingsgrond genereer en terselfdertyd opleidings- en werksgeleenthede skep,” verduidelik hy.

Veilig, volhoubaar en skaalbaar

Onafhanklike laboratoriumtoetse bevestig dat Terraligna se biohoutskool geen skadelike reste van die boomvernietigingsbehandeling bevat nie. Die produk sal aanvanklik aan plaaslike landbouprojekte verskaf word. Indien die vraag laag is, sal sustermaatskappy AgricultSURE opleiding, beginnerspakkette en ondersteuning bied om kleinskaalse boere en gemeenskappe te bemagtig.

HET JY GEWEET?

Sekere Prosopis-spesies is in die 1880’s na Suid-Afrika gebring om as voer en brandhout en vir skaduwee gebruik te word. Met verloop van tyd het die boomsoort egter toenemend indringend geword, veral in droë streke soos die Noord-Kaap. Die probleem met Prosopis is dat dit water uitput, inheemse plantegroei verdring, biodiversiteit verminder en digte bosse vorm wat boerdery en wildlewe belemmer. Beheermetodes sluit biologiese behandeling, meganiese verwydering en verbranding in.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0