Categories: VeilingsPublished On: 26th May 2026

ANKO Bonsmaras: Beproefde genetika wat op die veld presteer

By 3 min read
648 words

ANKO 9 x 15 Stellalander 2026

Wanneer dit by winsgewende beesboerdery kom, lê die antwoord nie in ’n kraal nie, maar op die veld. By ANKO Bonsmaras is dit die beginsel waarop die kudde al sedert 1979 gebou word: Beeste móét onder natuurlike toestande kan produseer én reproduseer.

Op 22 Julie 2026 om 11:00 bied André en Ryna Höll hul 28ste jaarlikse produksieveiling aan by die Piet Theron Stoetkompleks op die Vryburg-skougronde. Hier kry kommersiële boere en stoettelers die geleentheid om te belê in genetika wat reeds oor dekades heen sy waarde bewys het.

Op aanbod:

  • 23 Bulle
  • 15 Vroulike stoetdiere
  • 250 Kommersiële vroulike diere (in alle produksiestadiums)

Vir ANKO gaan sukses nie oor mooi diere en hoe hulle vertoon nie, maar oor koeie wat jaar ná jaar onder veldtoestande ’n kalf grootmaak met minimale insette. Hierdie fokus op funksionaliteit en aanpasbaarheid het ANKO Bonsmaras gevestig as een van die mees gerespekteerde kuddes in die bedryf.

“By ANKO meet ons nie sukses in die kraal nie maar op die veld. As ’n koei nie op die veld kan presteer nie, hoort sy nie in ons kudde nie,” sê André Höll.

Sedert die ontstaan van die kudde is streng seleksie toegepas om diere te identifiseer wat vrugbaarheid, gehardheid, goeie groei en langlewendheid kombineer. Vandag, ná 47 jaar van doelgerigte teling, staan die kudde steeds uit vir sy vermoë om onder uitdagende toestande te presteer.

Die kudde word in natuurlike weidingstoestande bestuur met streng seleksiestandaarde. Slegs koeie wat konsekwent produseer en reproduseer bly deel van die stoet. Hierdie benadering het gelei tot ’n indrukwekkende tussenkalfperiode (TKP) van 371 dae, ’n bewys dat die ANKO-filosofie nie net mooi klink nie, maar prakties werk.

Volgens André is winsgewendheid die kern van hul teeldoelwit. ““Ons teelbeleid is gesentreer rondom winsgewendheid deur aanpasbaarheid. Ons streef daarna om koeie te produseer wat elke jaar met minimale insette kalf, wat ANKO Bonsmaras die winsgewende keuse maak.”

Hierdie praktiese benadering tot teling word ook weerspieël in die kudde se prestasies en erkenning binne die bedryf. ANKO Bonsmaras ontvang jaarliks Elite Goud-status van SA Stamboek. Vir kopers beteken dit toegang tot genetika waarop hulle met vertroue hul eie kuddes kan bou.

Een van die prentjiemooi bulle wat op aanbod sal kom tydens ANKO Bonsmaras se 28ste produksieveiling op 22 Julie: LOT 8 – KAN 23-061.

Wat om op die komende veiling te verwag

Die 2026-produksieveiling bied weer ’n keur van topgehalte-stoetbulle  wat deeglik onder veldtoestande ontwikkel is en gereed is om onmiddellik waarde in enige kudde toe te voeg.

Daarbenewens sal kommersiële vroulike diere asook uitgesoekte aanbiedinge van gasteverkopers beskikbaar wees. Hierdie verkopers gebruik reeds bewese ANKO-genetika in hul eie kuddes, nóg ’n bewys van die vertroue wat produsente in die ANKO-bloedlyne plaas.

Die aanbod is saamgestel om beide kommersiële boere en stoettelers die geleentheid te gee om genetika aan te koop wat aangepas, vrugbaar en winsgewend is.

Een van die grootste voordele van ANKO-genetika is die feit dat die diere reeds onder ekstensiewe toestande bewys is. Hierdie beeste is nie afhanklik van duur voerprogramme of intensiewe bestuur om te presteer nie. Hulle is geteel vir praktiese boerdery waar aanpasbaarheid en doeltreffendheid ’n direkte invloed op winsgewendheid het.

Vir die kieskeurige beesboer bied die ANKO-veiling dus meer as net goeie diere, dit bied die geleentheid om in beproefde genetika te belê wat reeds oor dekades heen sy waarde bewys het.

ANKO Bonsmaras beskryf hulself as:

Bred to perform where it matters most, on the veld” – en dit is presies wat kopers op hierdie veiling kan verwag.

Veilingbesonderhede:

  • Datum: 22 Julie 2026
  • Tyd: 11:00
  • Plek: Piet Theron Stoetkompleks, Vryburg-skougronde
  • Die veiling sal ook aanlyn deur SwiftVee aangebied word

Vir meer inligting of om vooraf diere te besigtig, kan jy kontak maak met André of Ryna Höll. Hou ook hul Facebook-blad en aanlyn katalogus dop vir foto’s en besonderhede oor die veilingdiere. André Höll (+27)83-260-6479, Ryna Höll (+27)83-947-5724, David Maasz (+27)82-856-0253, Jason Goosen (+27)71-475-4295.

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2