Agrico verf die Karoo groen

agrico 1 maart
“As ’n kliënt my op ’n Saterdagaand om nege-uur bel, dan beantwoord ek my foon… en dit is dieselfde vlak van dienslewering wat ek van my verskaffers verwag,” sê Christo Rothman, geoktrooieerde rekenmeester van Johannesburg en Karooboer.
Hy sê hy sal niemand onnodig pla nie, maar wanneer ’n spilpunt se werking die maak of breek van ’n oes beteken, dan moet die kundigheid en ondersteuning daar wees waar en wanneer dit nodig is.
Christo is baie tevrede met Agrico se dienslewering. In ProAgri 196 het ons berig oor Christo se sukses om na vele probeerslae goeie water raak te boor en die besluit om vyf Agrico-spilpunte op te rig, omdat Agrico die maatskappy was wat bereid was om sy hand te vat en die pad saam met hom te loop.
Met André Laubscher van Bloemfontein se ondersteuning is alle faktore oorweeg om die beste gebruik te maak van die beplantbare gedeeltes op die redelik bergagtige plaas, soos elektrisiteitskoste, grondvoorbereiding, aanplantingskoste en verwagte opbrengs.
Die oprigting van die vier 2-torings en een 4-toring het in Maart verlede jaar begin en sedertdien het die plaas verander in ’n vrugbare lushof vir die beeste, skape en wild wat uit die 6 000 hektaar ’n bestaan moet maak.
Die eerste snysel lusern, wat in Oktober geoes is, het 2,5 ton/hektaar gelewer en die tweede snysel 3,5 ton. Die spilpunte is ook gebruik om weiding deur die verskriklike droogte aan die gang te hou, nog lusern is gevestig, asook ’n land voersorghum.
Christo sê die voersorghum het so welig en hoog gegroei dat niemand dit nou meer waag om daar in te stap nie, want dit het ’n veilige hawe vir ’n hele klomp pofadders, geelslange en bosvarke geword – ’n regte klein paradys vir die Karoodiere!
Goeie reën het in Februarie op die plaas uitgesak, sommer so 120 mm net voor ProAgri se besoek, en die veld lyk op die oomblik baie goed, maar voor dit was dit kraakdroog.
Christo sê die besproeiing het dit moontlik gemaak dat sy beeste selfs deur die droë tyd gemiddeld 30 kg per maand kon optel. Nou is almal in baie goeie kondisie en daar word hard gewerk om voervoorraad op te bou vir die moeilike tyd van Oktober tot Desember.
Christo gaan ook nou hawer aanplant om gereed te wees vir die lamseisoen in September. Die spilpunte het geleenthede op die plaas geskep wat nooit vantevore moontlik was nie.
Wat gebeur nou?
Agrico se kundige ontwerpers het weer op die plaas gaan kuier, want daar moet nog drie spilpunte opgerig word, naamlik twee 2-torings en nog ’n 4-toring.
“Ek bly by Agrico, want hulle diens is goed en hulle gee doelgemaakte planne en oplossings vir jou unieke behoeftes, wat nie net jou plaas in ag neem nie, maar ook jou bestuurstyl,” sê Christo.
Die volgende stap is ook om die hele besproeiingstelsel te outomatiseer sodat dit van enige plek af ten volle beheer kan word met die hulp van ’n rekenaar of slimfoon.
Christo sê dit gaan oor goeie bestuur, besparing en veiligheid. Die plaas is op ’n Ruraflex-kragplan van Eskom en hulle besproei nie in die rooi tye wanneer die krag peperduur is nie. Groen tyd begin agtuur in die aand en dit is die tyd wanneer die pompe moet aan en die water moet loop.
Met veiligheid in gedagte wil Christo nie graag in die aand agtuur uitgaan om pompe te gaan aanskakel nie, en hy wil ook nie sy plaasbestuurder so blootstel nie. Omdat Christo nog die meeste van die tyd in Johannesburg is, steun hy swaar op Ben Modia om die plaas in sy afwesigheid te bestuur.
Met elektroniese beheer kan die besproeiing beplan en geprogrammeer word en Ben hoef net snags uit te gaan indien daar ’n foutboodskap gestuur word.
Agrico se afstandbeheerstelsel staan bekend as Advanced RAIN en boere kan kies tussen selfoonteksboodskappe of die Internet om hulle spilpunte te beheer en inligting oor hulle status en werking te ontvang. Deur die Internet kan ’n boer ook met behulp van ’n VSD (veranderlike spoeddrywer) die stelseldruk aanpas en die pomp aan- of afskakel.
Laat Agrico jou help om jou plaas se moontlikhede te ontgin. Kontak Alfred Andrag by 082-824-1214, 021-950-4111 of alfred.andrag@agrico.co.za.
