Categories: Crop productionPublished On: 23rd November 2026

Biobrandstof in Suid-Afrika: Regulasies en  plaaslike groeigeleenthede

By 4 min read
725 words

BioFuel Images (5)

In verlede maand se artikel het lesers meer insig gekry oor wat biobrandstof is en hoe Suid-Afrika se bedryf moontlik kan groei. Ek het onlangs met Nanda Kishore Chanda, algemene bestuurder by Novonesis Suid-Afrika, gesels oor wat reeds gedoen is, wat nog gedoen kan word en wat tans ontwikkel word vir biobrandstof in Suid-Afrika.

“Ek kan met trots sê dat Novonesis ’n markleier is in die toepassing van tegnologieë soos etanolproduksie uit graan, hetsy dit van eerstegenerasiegrondstowwe soos sorghum en suikerriet afkomstig is, of selfs van landbou-afval,” verduidelik hy.

Kom ons kyk wat biobrandstof en bio-oplossings nog vir Suid-Afrika kan beteken en waarom daar tans soveel onsekerheid is oor die land se biobrandstof-ontwikkeling.

Vorige regulasies en hul impak op biobrandstof in Suid-Afrika

Teen die middel 2000’s het Suid-Afrika die eerste keer ’n strategie vir biobrandstof en bio-oplossings ontwikkel. Die onderwerp is in 2005 tydens kabinetsvergaderings geopper, en in Desember 2007 is die eerste beleidsraamwerk, die nywerheidstrategie vir biobrandstof (BIS), goedgekeur.

Dit was ’n sterk vertrekpunt vir Suid-Afrika se biobrandstofdoelwitte. Die strategie het die plaaslike biobrandstofmark aan die gang gesit en beoog dat biobrandstof sowat 2% van alle vloeibare brandstof vir padvervoer, diesel en petrol, moet uitmaak.

Hoewel dit ’n sterk vertrekpunt was, het die ekonomie en wêreldtoestande die strategie ingrypend beïnvloed. Weens die wêreldwye voedselkrisis in 2007 is mielies spesifiek as grondstof vir biobrandstof uitgesluit. Die strategie het ook daarop gefokus om landelike ontwikkeling te bevorder en ekonomiese geleenthede uit te brei.

Nanda sê: “Trouens, Suid-Afrika het reeds byna die afgelope 20 jaar lank ’n goed gevestigde beleids- en regulatoriese raamwerk gehad. Ons was een van die lande wat destyds reeds ’n beleid gehad het, lank voordat baie ander lande dit ontwikkel het.”

Ná die oorspronklike strategie is verpligte mengregulasies in 2012 ingestel. Dit het petroleumverskaffers verplig om ’n bepaalde hoeveelheid biobrandstof met gewone brandstof te meng: altesaam 2% tot 5% bio-etanol in petrol en ’n minimum van 5% biodiesel in minerale diesel.

Dit het ’n gereguleerde, gewaarborgde mark vir Suid-Afrikaanse biobrandstofvervaardigers geskep. Die grootste en ingrypendste verandering aan die biobrandstofregulasies is egter in 2020 gemaak, toe die departement van minerale bronne en energie die bygewerkte Suid-Afrikaanse biobrandstof- en regulatoriese raamwerk saamgestel het.

Die nuwe raamwerk het bygewerkte definisies vir tweede- en derdegenerasie-biobrandstoftegnologieë verskaf. Dit het ook duideliker en sterker regulasies oor pryse en kosteverhalingsmeganismes vir mengers vasgestel, en die nasionale protokol vir biobrandstofgrondstowwe ontwikkel.

“Daar is deurentyd gewerk aan die ontwikkeling van ’n raamwerk. Die uitdaging was nog altyd die implementering daarvan. Ek dink die beleid was sy tyd vooruit toe ons in 2007 begin het, maar as ek na die huidige situasie kyk, is daar lande wat dit baie beter as ons geïmplementeer het. Daar is egter wel wetgewing in plek,” voeg Nanda by.

Wat is die toekoms van biobrandstof in Suid-Afrika?

“Suid-Afrika verbruik jaarliks byna 25 miljard liter vloeibare brandstof, maar ons biobrandstofproduksie is minimaal. Hoewel daar reeds etanolaanlegte en klein biodieselproduksiefasiliteite bestaan, is dit nog lank nie genoeg om ’n volwaardige biobrandstofbedryf te vestig nie.”

Nanda verduidelik dat biodiesel reeds onder Suid-Afrikaners bekend is en landwyd gebruik word. Selfs metaangas wat deur biogasproduksie opgewek word, is nie nuut in Suid-Afrika nie. Daar is egter steeds baie ruimte vir biobrandstof en ander bio-oplossings om plaaslik te groei.

“Suid-Afrika produseer reeds biogas, bio-etanol en biodiesel. Hierdie brandstowwe is nie nuut nie. Biogas kan byvoorbeeld uit metaan vervaardig word wat op melkplase of uit landbou-afval gegenereer word, terwyl bio-etanol uit grondstowwe soos sorghum en suikerriet, of in ander lande uit mielies en rys, vervaardig kan word,” sê Nanda. “Daar is ook ander alternatiewe, soos groen waterstof.”

Een van die opvallendste kenmerke van Suid-Afrika se biobrandstofsektor is dat die produksie dikwels steeds op klein skaal plaasvind. Grootskaalse produksie het nog nie werklik posgevat nie. Hoewel dit ’n uitdaging is wat oorkom moet word, kan biobrandstof met die regte hulpbronne steeds aansienlike groei in Suid-Afrika beleef.

Nanda sluit af: “Ons werk saam met rolspelers regdeur die biobrandstofwaardeketting om internasionale tegnologie en kundigheid na Suid-Afrika te bring. Die vraag is nie of Suid-Afrika biobrandstof kan produseer nie, maar hoe ons dit kommersieel lewensvatbaar kan maak tot voordeel van die ekonomie, werkskepping en die hele waardeketting.”

In die volgende deel van Biobrandstof in Suid-Afrika kyk ons na van die huidige vervaardigers en die uitdagings wat hulle in die bedryf ervaar. Besoek Novonesis se webtuiste by www.novonesis.com/en vir meer inligting oor Suid-Afrika se biobrandstoftegnologie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0