Agrico se resep vir volhoubare groei: luister, verbeter, brei uit

DSC00885
Walter Andrag, besturende direkteur van Agrico, het by hierdie NAMPO Kaap 2025 gesels oor waarom Agrico jaar ná jaar by landbouskoue soos hierdie betrokke is. Dit is meer as ‘n geleentheid om produkte en dienste ten toon te stel. Hier kan ons regtig na boere luister, insette ter harte neem en selfs kritiek opneem, om aan te hou verbeter. Dít is hoe Agrico die pad vorentoe aanpak.
Die waarde van een-tot-een interaksie
Vir Walter is die waarde van Agrico se teenwoordigheid by NAMPO onmiskenbaar. “Dis by hierdie geleenthede waar ons regtig hoor wat op die grond gebeur,” sê hy. “Ek is elke jaar verstom oor hoe vinnig tegnologie ontwikkel en wat nou moontlik is vir boere.”
Boere kom na die standplaas om vrae te vra, uitdagings te deel en idees uit te ruil oor besproeiing, gewasse, grondtipes, koste-doeltreffendheid en lewe op die plaas. Agrico kry hier ’n direkte insig in hoe hulle produkte in praktyk presteer, én wat verbeter kan word. Om naby aan die boer te beweeg, is van kritiese belang. Dis hierdie terugvoering wat help om die oplossings te verskerp en meer relevant te maak.
Van pomp tot pyp: Hoe Agrico boere help om water en krag slimmer te gebruik
Agrico se visie is duidelik: hulpmiddels wat nie net werk nie, maar wat boere help om meer effektief, meer produktief en meer winsgewend te boer.
“Ons het ‘n spesiale fokus op die mikro- en drup mark veral in die Wes-Kaap, dit is ‘n reuse mark en ons is besig om lekker te groei in daardie mark,” meen Walter.
Hy voeg by: “Agrico se doel is om oplossings te ontwerp en voorsien wat krag- en energiekoste verlaag sonder om oesproduksie in te boet.”
Die benadering is om elke komponent, van die ontwerp van besproeiingslyne en die keuse van filters tot by spuite en kleppe, optimaal te integreer. Die resultaat is stelsels wat meer doeltreffend werk, veral in droër gebiede, waar elke druppel tel.
By spilpunte, byvoorbeeld, kom die grootste energiekoste nie van die beweging van die spilpunt self nie, maar van die motor wat die pomp aandryf om water teen ’n spesifieke vloei en druk te lewer. Agrico fokus op die korrekte seleksie van spuitpakette om druk-behoeftes te verminder.
Daarby kan Agrico Web Control gepaard met GPS-tegnologie en VSDs (Engels “variable speed drives”), aangewend word om energie vermorsing te verhoed. Die tegnologie is gewild onder jong en ouer boere, en is veral handig in gebiede waar ’n spilpunt teen ’n helling staan en minder druk benodig word op een posisie as op ’n ander. In so geval, spoed motors en pompe outomaties op en af soos die torings oor die land loop, sodat energie nie vermors word nie.

Fokus op lae volume besproeiing én uitbreiding
Walter deel: “Ons is konstant besig om ons produksiekapasiteit uit te brei aan die vervaardigings kant, heeltyd besig om geld te investeer in ons PVC fabriek asook ons staalfabriek om seker te maak ons vervaardiging is so koste-effektief as moontlik.”
Vir die volgende 12 maande beoog Agrico om te fokus op die drup- en mikrobesproeiingsmark. Hierdie landbousegment groei sterk, juis omdat water skaars is, en boere meer beheer wil hê oor hoeveel, wanneer en hoe hulle water toedien.
Agrico brei ook die landwye netwerk van takke uit. Op 1 Oktober het ’n nuwe tak in Potchefstroom oopgemaak, terwyl ander takke beplan word regoor Suid-Afrika om die reeds nasionale verspreidingsnetwerk verder aan te vul. Hierdie uitbreiding van die besigheid beteken beter toeganklikheid vir boere, beter diens en meer deurlopende onderdele-voorraad.
Ander groot planne sluit in die uitbreiding van die Agrico PVC-fabriek se produksiekapasiteit. Hierdie uitbreiding sal help om die produksievolume en kapasiteit te verhoog, veral vir groot-volume-toepassings soos transmissielyne van damme, hoofpyp netwerke en ook kommersiële landbou.
Verbetering van diens: administrasie en verspreiding
Agrico se ambisie strek verder as net produkte. Diens is ‘n kernfaktor. Die afgelope jaar is daar belê in opgraderings van Agrico se administratiewe netwerk en verspreidingsentrums. Die doel is dat boere nie lank hoef te wag vir onderdele of herstelwerk nie, en dat ondersteuning vinnig, kundig en betroubaar is.
Hierdie verbeterings help om Agrico se diensvlak te verskerp. Van personeel se opleiding tot logistiek in takke: die strewe is om foutmarges te verminder, om kommunikasie tussen kantore, verspreidingsentrums en veldpersoneel te versterk, en bowenal, om die boer se ervaring te verbeter.
Wat Agrico vir boere bied
Aan die boer se kant beteken Agrico se benadering:
- Besproeiingstelsels wat aangepas is vir die spesifieke gewasse en omstandighede, insluitende spilpunt en spuitpakkette, mikro- en drup-stelsels, pompe, filters, kleppe en afstandbeheer-opsies (Agrico Web Control) wat samewerking tussen tegnologie en praktyk moontlik maak.
- PVC pype van verskillende diameters en drukklasse wat voldoen aan SANS-standaarde, insluitende Agrico se reeks van uPVC, mPVC en Sewage & Drain (S&D) pype.
- Effektiwiteit in energie- en watergebruik: VSDs, doeltreffende pomp- en motorkeuses, afstandbeheer en stelsels wat gemonitor kan word om koste te beheer.
- Betroubare ondersteuning: na-verkoopdiens, tegniese advies, voorraad onderdele, ontwerp-advies, en vinnige reaksie wanneer probleme opduik.
Met uitbreiding in produksie, nuwe takke, verbeterde administrasie en ’n voortdurende fokus op tegnologie en water-/kragdoeltreffendheid, wys Agrico dat hulle daarop ingestel is om met boere saam te groei, nie net om vooruit te beweeg nie, maar om saam te floreer.
Vir meer inligting oor Agrico besoek hulle webblad by www.agrico.co.za.