Categories: Artikels, BesproeiingPublished On: 27th November 2025

Agrico se ondersteuning maak kommersiële boerdery in Botswana moontlik

By 5 min read
944 words

IMG_5018

Shaun Buffee, eienaar van Ngangane Ranch net buite Francistown en MC Pretorius, projekbestuurder by Agrico Nylstroom, moes koppe bymekaar sit om die besproeiingstelsels so te ontwerp dat dit so effektief as moontlik kon werk in Botswana se uitdagende omstandighede.

Met vele uitdagings wat boere in die gesig staar, is dit vir seker nie konderspeletjies om in Suid-Afrika te boer nie. Tog, in sekere aspekte, is Suid-Afrikaanse boere ook geseënd met ’n wye keuse van diensverskaffers, spesialiste en produkte wat gewoonlik van die naaste dorp af verkry kan word.

Dit is egter nie die geval in meeste ander Afrika-lande nie. Shaun Buffee, oorspronklik van Zimbabwe, boer die afgelope agt jaar saam met sy span in die Francistown-omgewing in Botswana, en het geleer hoe waardevol goeie tegniese ondersteuning en toerusting vir kommersiële boerdery is.

“Ons het van voor af begin, sonder enige boerdery-ervaring,” sê Shaun. “Die grootste uitdaging vir ons was om die regte tegniese ondersteuning te vind. Die werklikheid is dat ons net kon uitbrei omdat ons uitstekende ondersteuning van Agrico ontvang het. Dit was die sleutelfaktor.”

Gereedskap vir sukses

Die boerdery gebruik ’n kombinasie van Agrico-toerusting en -oplossings wat voorsien in die plaas se unieke behoeftes. Van pompstasies, pyplyne, hoëgehalte-damvoerings, oorhoofse spilpunte tot drupbesproeiing – alles is deur Agrico voorsien. Die spilpunte word hoofsaaklik gebruik vir voergewasse, terwyl drupbesproeiing die groente water gee. Hierdie strategiese besluite is die resultaat van deeglike toetsing en konsultasie met Agrico se tegnici.

“Ons het verskeie opsies probeer,” verduidelik Shaun. “Die spilpunte werk die beste onder ons spesifieke omstandighede, en drupbesproeiing is ideaal vir waatlemoene. Sonder hierdie toerusting sou ons boerdery nie moontlik gewees het nie. Tegniese ondersteuning is van kardinale belang en wanneer iets verkeerd loop, kan ons dit vinnig herstel vanweë die diens wat ons by Agrico ontvang.”

Tegniese ondersteuning wat werklik tel

Een van die belangrikste uitdagings van hierdie projek en vele ander in Botswana, is energievoorsiening. Aangesien die plaas afgesny is van die netwerk, maak hulle staat op ’n kombinasie van sonkrag en kragopwekkers. Agrico se projekbestuurder, MC Pretorius van die Nylstroom-tak, het ’n sentrale rol gespeel in die ontwerp en implementering van die stelsel.

“Ons moes van die begin af die energiebehoeftes en gewasvereistes verstaan om die stelsel optimaal te ontwerp,” sê MC. “Ons het water uit sandputte in die middel van die rivier opgepomp na ’n dam, en van daar af word dit vervoer na die spilpunte. Die uitdaging is om dit met die minste moontlike kilowatt te doen, want enige oormatige gebruik kos geld.”

Praktiese ondersteuning was van deurslaggewende belang om die projek suksesvol deur te voer. Shaun beskryf ’n voorval waar ’n nuwe spilpunt probleme met bedrading gehad het: “Ek het MC en sy span gekontak, en binne ’n paar uur het ’n tegnikus van Agrico hier aangekom. Teen die volgende oggend het die spilpunt weer gewerk. Neem in ag dat hulle van Nylstroom in Suid-Afrika af tot by my naby Francistown in Botswana moes ry. Sonder so ’n vinnige reaksie sou ons gewasse ernstig benadeel gewees het.”

Een van die grootste uitdagings vir boerderye in Botswana is dat die nasionale energieverskaffer geen krag aan die plase lewer nie. Elke boer moet dus alternatiewe kragbronne aanskaf, soos sonkragstelsels en diesel-kragopwekkers om te sorg dat die toerusting op die plaas optimaal kan werk.

Unieke uitdagings in Botswana

Shaun wys daarop dat die beperkte tegniese ondersteuning ’n groot verskil is tussen boer in Botswana en in Suid-Afrika. “Die afstand beteken jy moet self-ondersteunend wees, en jy kan nie net vinnig ’n verskaffer bel as iets verkeerd loop nie. Dit maak goeie ondersteuning, soos wat Agrico verskaf, net soveel meer waardevol.”

Ten spyte van die uitdagings, het Shaun ’n passie vir die boerdery ontwikkel. “Ek hou van boerdery omdat dit vir my nuut en uitdagend is. Dit het ongelooflike potensiaal en om self oplossings te vind en te implementeer, is uiters bevredigend.”

Die voordeel van pasgemaakte oplossings

Die projek sou ook nie moontlik wees sonder die vermoë en bereidwilligheid om toerusting aan te pas by spesifieke behoeftes nie.

“Agrico het ’n stelsel ontwerp wat volledig aan ons energiebehoeftes en gewasvereistes voldoen,” vertel Shaun. “Ons het besef dat ander verskaffers nie dieselfde vlak van aanpassing kon bied nie. Hier in Botswana moet jy self-ondersteunend wees en jou oplossings aanpas by die omgewing en die beskikbare energie.”

Visueel toon die gewasse reeds goeie vooruitgang, selfs al is dit te vroeg om oor produksiewaarde te praat. Shaun sê laggend: “Na vyf weke sien jy reeds dat alles op koers is. Kom terug oor ’n jaar en ek kan meer definitiewe resultate gee.”

Toekomstige planne en uitbreiding

Die boerdery het groot planne vir die toekoms, insluitend uitbreiding van beesvleisproduksie en waatlemoenverbouiing. “Ons besef dat die plaaslike mark klein is, so uiteindelik sal ons moet kyk na uitvoer as ons produksie uitbrei,” sê Shaun.

Die vennootskap met Agrico het nie net die beskikbaarheid van toerusting behels nie, maar ook ’n strategiese samewerking om die boerdery se sukses te verseker. MC voeg by: “Ons het van die begin af saam met Shaun en sy span die projek beplan, van die waterbron tot die finale oprigting van die spilpunte. Ons het elke moontlike uitdaging oorweeg en oplossings ontwerp om die boerdery so effektief moontlik te maak.”

Die ervarings van Shaun Buffee en sy span by Ngangane Ranch toon hoe noodsaaklik tegniese ondersteuning en pasgemaakte toerusting is vir kommersiële boerdery in afgeleë gebiede. Agrico se Nylstroom-tak het nie net die nodige toerusting voorsien nie, maar ook die kundigheid en persoonlike aandag om ’n projek van die grond af te laat floreer. Hierdie vennootskap beklemtoon die waarde van goeie raad, kreatiewe oplossings en vinnige reaksie in die landbousektor, veral in uitdagende omgewings soos Botswana.

Kontak Agrico om uit te vind hoe hulle jou in jou boerdery kan bystaan deur hul webblad of stuur ’n e-pos aan info@agrico.co.za

Kyk die video hieronder:

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0