Agri Wes-Kaap baklei vir boere

IMG_6071
Die span van Agri Wes-Kaap by NAMPO Kaap was Adele Changuion, Elandri Snyman, Helena van Eeden, Louis Wessels en, Jannie Strydom.
NAMPO Kaap het vanjaar van 14 – 17 September in Bredasdorp plaasgevind, en dit is tydens dié samekoms waar boere met die bestuur van Agri Wes-Kaap (AWK) in gesprek kon tree, om te hoor hoe AWK te werk gaan om produsente van die Wes-Kaap te verteenwoordig.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof, sê Agri Wes-Kaap is ‘n vrywillige lede-organisasie met 92 landbouverenigings regoor die provinsie met ongeveer 3 500 kommersiële boere wat tans by AWK geaffilieer is.
“Ons het verteenwoordigers in elke munisipale gebied, en kan ingelig argumenteer namens ons lede met betrekking tot wetgewing en beleid. AWK het ʼn poel van kundigheid onder ons lede en affiliasies en kan dus sinvol namens ons lede intree,” sê Jannie Strydom.
Die boublokke van dié organisasie bestaan uit ses beleidkomitees naamlik: landelike veiligheid, natuurlike hulpbronne, arbeid- en sosiaal-maatskaplik, kommersieel, transformasie en kommunikasie. Deur die komitees word landboukwessies bespreek en aksieplanne bewerk vir die verdere implementering van besluite.
Agri Wes-Kaap het jaarliks verskeie streekskongresse, ʼn jaarkongres en deurlopende besoeke aan landbouverenigings om in kontak met sy lede te bly sodat kwessies wat boere op grondvlak raak deur AWK gedryf kan word.
“Ons fokus is om ‘n gunstige omgewing te skep waarin ons lede kan funksioneer,” voeg Jannie verder by.
Louis Wessels van Agri Wes-Kaap se regsdienste-afdeling, sê die organisasie se hoofdoel is om na boere se belange om te sien. “Wanneer produsente saamstaan en uit een mond praat, kan allerlei kwessies sterk gedryf word – en dit is die doel van georganiseerde landbou,” meen Wessels.
Nog ʼn inisiatief wat gedryf word is AWK se Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie, wat jong boere die geleentheid gee om goeie blootstelling te geniet, terugvoer van kundiges te ontvang, en om ander jong produsente aan te moedig om by georganiseerde landbou betrokke te raak.
Is jy ‘n kommersiële produsent in die Wes-Kaap? Word betrokke by georganiseerde landbou. Skakel jou naaste landbouvereniging of AWK by 021-860-3800 of besoek awk.co.za vir meer besonderhede.