Aanplant van doringlose turksvye as alternatiewe veevoer: Deel 3

cactus-moth-5015068-ignacio-baez-ars
Bron: www.aphis.usda.gov)
Doringlose turksvye (Opuntia spp.) is besig om vinnig naam te maak as ՚n volhoubare en kostedoeltreffende bron van veevoer, veral in droër streke waar tradisionele weiding onder druk is. Bo en behalwe sy voedsaamheid en waterhouvermoë, bied die plant ook ekonomiese geleenthede vir boere wat hul produksiebasisse wil diversifiseer.
Om suksesvol met turksvye te boer, is dit egter noodsaaklik om ՚n deeglike begrip te hê van plae en siektes wat die plant bedreig, asook van die regte bestuurspraktyke soos onkruidbeheer en snoei. In hierdie derde aflewering van ons reeks kyk ons na sleutelpraktyke om plantgesondheid en opbrengspotensiaal te vermeerder.
Plaag- en siektebeheer
Turksvymot (Cactoblastis cactorum)
Hierdie mot verskyn hoofsaaklik in twee seisoene: vanaf September tot Oktober, en weer van Februarie tot Maart. Ná uitkoms paar die motte binne twee dae en begin wyfies reeds die volgende dag om eierstokkies op die plant se doringpunte te lê. Die eiers broei binne ure uit en die jong larwes dring die kladodes binne, waar hulle oor ՚n tydperk van drie tot vier maande tot volwasse, helder oranje larwes met swart strepe ontwikkel. Beheerstrategieë behels die tydige verwydering van besmette eierstokkies en kladodes. Hierdie materiaal moet onmiddellik uit die boord verwyder en vernietig word om verdere verspreiding van die plaag te voorkom.
- Kosjenielbesmetting.
- Die lewensiklus van die turksvymot; (a) volwasse mot, (b) eierstokkies, (c) eiers wat uitbroei, (d) volwasse larwes, (e) simptome op blad en (f) kokonne.
Kosjeniel (skarlakenluis)
(Dactylopius spp.)
Kosjeniel-insekte vorm gewoonlik kolonies op die blaaie. Die wyfies bedek hulleself met ՚n wasagtige laag wat hulle teen die omgewing beskerm, wat dit moeilik maak om hulle raak te sien. Elke wyfie kan tot 1 000 eiers lê, waarvan die nimfe vinnig uitbroei en maklik versprei – veral op warm dae wanneer hulle met hulle haartjies deur die wind na ander plante oorgedra word.
Hierdie insekte voed op die sap van die plant en skei ՚n giftige stof af wat die kladodes mettertyd doodmaak. Spesifieke insekdoders kan doeltreffend wees mits die waslaag eers gebreek word, aangesien dit andersins as ՚n beskermende versperring dien. Die gebruik van sprinkaanspuite is egter nie doeltreffend nie en word dus nie aanbeveel nie. Waar ernstige besmetting voorkom, kan sistemiese middels soos Kohinor of Bandit aangewend word. Let egter daarop dat hierdie middels nie spesifiek vir turksvye geregistreer is nie en dus op eie risiko gebruik word.
Swartvrot en sagte bruinvrot

Let op vir swart of donkerbruin kolletjies op die rande of oppervlak van die kladodes – ՚n duidelike teken van swartvrot of sagte bruinvrot. Sodra sulke simptome opgemerk word, moet aangetaste blaaie onmiddellik afgesny word. Maak seker dat snoeigereedskap na elke plant deeglik ontsmet word. Die afgesnyde blaaie kan as veevoer gebruik word, maar moet weg van die boord gevoer word om herbesmetting te voorkom.
Onkruidbeheer
Turksvye het ՚n uiters vlak wortelstelsel – tot 80% van die wortels lê minder as 10 cm onder die oppervlak. Dit beteken dat onkruid direk meeding vir beskikbare vog, wat groeipotensiaal kan benadeel. Onkruidbeheer moet dus met sorg toegepas word.
Meganiese metodes soos skoffels of tandimplemente word nie aanbe-veel nie omdat dit die wortelstelsel kan beskadig. In gebiede waar grasse problematies raak, kan ՚n grasdoder soos Agil gebruik word. Soos met die plaagbeheermiddels, moet boere egter kennis neem dat dit nie spesifiek vir turksvye geregistreer is nie en dus op eie risiko aangewend word.
Besproeiing
Alhoewel volwasse turksvye kan oorleef met so min as 200 mm water per jaar, is die optimale reënval vir vrugteproduksie tussen 400 tot 600 mm/jaar afhangende die grondtipe. Redelike vrugopbrengste kan in somerreënvalgebiede in droëlandtoestande behaal word, maar waar die reënval tydens die vrugontwikkelingstydperk (September tot Februarie) minder as 300 mm is, behoort aanvullende besproeiing toegepas te word.
Drupbesproeiing op swaarder gronde en mikrospuite op sanderige gronde is ideaal waar water skaars is. Ongeveer 20 tot 25 mm water/ha per besproeiing is voldoende. Boere moet let op die opgeloste soutinhoud van besproeiingswater aangesien turksvye sensitief is vir hoë soutvlakke.
Snoei
In boordtoestande waar voldoende water en voeding beskikbaar is, groei turksvye weelderig. Jaarlikse snoei is dus belangrik, nie net om vorm en grootte te beheer nie, maar ook om plaagbeheer te vergemaklik – veral teen kosjeniel, wat graag in digte, oorgroeide areas skuil.

Snoeiriglyne tydens die tweede en derde jaar na aanplanting (Liguori et al., 2015).
Snoeiriglyne sluit in:
•Behou slegs twee dogterkladodes per moederkladode.
•Plante moet nie hoër as 2 meter groei nie.
•Takke moet nie aan die grond raak nie.
•Vermy oorvleueling of kontak tussen blaaie – dit skep skuilings vir plae en beperk die doeltreffendheid van bespuiting.
•Verwyder en vernietig alle kladodes wat tekens van siekte of plaagbeskadiging toon.
•Alle gesnoeide materiaal en plantrommel onder die bome moet onmiddellik uit die boord verwyder word.

Deur hierdie praktyke toe te pas, kan boere gesonde turksvyplantasies handhaaf en die maksimum waarde as alternatiewe veevoer ontsluit. In deel 4 kyk ons na voerproduksie.
Bronverwysing
Witkraal. (2022, Maart). Turksvye as veevoer [PDF]. Witkraal Boerdery.
Vir enige ander navrae, besoek Witkraal Boerdery se webwerf by www.witkraal.co.za.

