Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 7th December 2023

2023: ‘n Jaar van uiterstes!

By 9 min read
1668 words

Getty_202023_20on_20road

2023 was ‘n vol jaar. ‘n Jaar van beurtkrag, vloede, brande, skoue, viering van sukses en voëlgriep. Dit was ook ‘n jaar vir tegnologiese groei in die landboubedryf  en waarin ProAgri tot ProagriMedia gegroei het.

As deel van die groei het videos en die gebruik van sosiale media ‘n groter rol begin speel om inligting oor te dra. Gaan kyk gerus na al die videos wat ons boere en verskaffers se stories vertel op die YouTube-kanaal, ProagriMedia, en op ons webtuistes www.proagri.co.za en www.proagrimedia.com

JANUARIE 2023

Beurtkrag bedreig tot 25% van Suid-Afrika se stapelvoedsel-oes

Dit is beslis nie ‘n landbouhoogtepunt nie, maar wel iets wat vir altyd onthou sal word en waarmee boere klaarblyklik nog vir lank gaan sukkel. In Januarie 2023 is daar geraam dat tot en met ʼn kwart van Suid-Afrika se stapelvoedsel-oes, mielies, besig was om op besproeiingslande te verlep.

Volgens Vrystaat Landbou se Kommersiële Sakekomitee-voorsitter, Kempen Nel, was die mielie-plantseisoen op ʼn kritieke stadium. “Die aanplantings het baie water nodig in die hitte, maar spilpunt-besproeiingstelsels kon nie werk nie as gevolg van die onbetroubaarheid van ESKOM.”

Boere is genoop om hulle eie oplossings te oorweeg. Dit bly egter ʼn duur en onpraktiese uitdaging omdat rugsteun kragvoorsiening tot tien keer duurder is as ESKOM-krag. Baie boere het al planne gemaak maar talle staar nog die probleem rondom beurtkrag in die gesig en 2024 lyk nie of dit beter gaan wees nie.

FEBRUARIE 2023

Balfour Hooidag terug met reuse skouspel

Na ‘n onderbreking van twee jaar as gevolg van Covid-inperkings is die Balfour Hooidag weer aangebied – groter en beter as ooit. Die skouspel van hooimaaktoerusting is deur al die belangrike vervaardigers ondersteun en goed bygewoon deur boere.

Een van die aandagtrekkers by die demonstrasies was New Holland se  selfaangedrewe Speedrower 200 Plus. Wanneer jy nie hooi sny nie, kan jy die koringstropertafel haak en stroop met dieselfde masjien.

Kort na die Hooidag is die jaarlikse Balerwedstryd aangebied waar Case IH die veranderlikekamer-afdeling gewen het met die RB 455-baler, gesleep deur ՚n Case Puma 155. Case het ook die tweede plek in die vastekamer-afdeling behaal met hulle RB 545-baler gesleep deur ՚n Case Maxxum 125. Die vastekamer-afdeling is gewen deur Kuhn met hulle FB 3130-baler getrek deur ՚n Valtra N175V.

MAART 2023

Dr Erna Blancquaert is een van vier vlagdraers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf

Dr Erna Blancquaert is in Maart aangewys as een van vier vlagdraers vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat op die jaarlikse wynoesherdenkingsgeleentheid op Groot Constantia in Kaapstad, vereer is as rigtingwysers vir toekomstige geslagte. Erna, die eerste vrou van kleur wat ՚n doktorsgraad in wingerdkunde in Suid-Afrika behaal het, is voltydse dosent en navorser in Wingerdkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sowel as nagraadse toesighouer vir Meesters- en PhD-studente in wingerd en wynkunde, asook volhoubare landbou en biotegnologie.

ARAS 2023 vind in Durban plaas

Die derde Afrika-streek Apimondia-simposium (ARAS 2023), aangebied deur die SA Byebedryfsorganisasie (SABIO), het in Maart by die Internasionale Konferensiesentrum in Durban plaasgevind. Apimondia is die Internasionale Federasie van Byeboereverenigings en ander organisasies wat sedert 1895 binne die byeboerderysektor werk.

Die simposium het ‘n geleentheid gebied aan byeboere om navorsing, uitdagings en kommersiële geleenthede by werkswinkels en rondetafelbesprekings te deel. Daarbenewens is die eerste heuning-, meel- en byprodukte-kompetisie vir die vasteland gehou. Dit het getoon dat daar genoeg ruimte is om hierdie produkte te bemark en sodoende ‘n lewensvatbare bedryf verder te ontwikkel. Sewe temas is bespreek, waaronder byebiologie, byebewaring, byeprodukte, byeboerderytegnologie, beleidsontwikkeling en bestuiwing. ‘n Reeks artikels oor die simposium is op ProAgri se webblad beskikbaar.

APRIL 2023

Nuwe reëls vir para-veeartsenykundiges kan dieregesondheidsorg in SA vir altyd verander

Suid-Afrikaanse landelike bewoners en kleinskaalse boere gaan moontlik makliker toegang tot primêre dieregesondheidsorg verkry met die promulgering van nuwe reëls vir para-veeartsenykundiges wat dieregesondheidstegnici (AHT’s) toelaat om hulle eie praktyke te open en te besit. Veeartsenykundige verpleegsters kan nou ook op hulle eie dienste aanbied.

MEI 2023

NAMPO was weer ‘n toonbeeld van skeppingskrag

NAMPO 2023 het ook sterk gegroei na die vorige jare se inperkings met 81 945 besoekers. Die skou was weer eens ‘n toonbeeld van tegnologie in die graanwaardeketting en die Suid-Afrikaanse landbousektor as geheel. Daar was 823 uitstallers en nagenoeg 200 vliegtuie en 75 helikopters het gedurende die week op NAMPO-park se aanloopbaan geland.

JUNIE 2023

Klein-Karoo olyfolie as beste ter wêreld gekroon

De Rustica Olyflandgoed in die hartjie van die Klein-Karoo is by die Evooleum-kompetisie in Spanje bekroon as die beste ‘Ekstra Virgin’-olyfolie(EVOO) ter wêreld.

Sedert 2006 is 100 000 olyfbome van onder meer die Coratina-kultivar in die Oudemuragie-vallei langs die Nelsrivier in die voetheuwels van die Swartberge aangeplant. De Rustica se Coratina is met 97 punte uit 100 bekroon as die ‘absolute beste olyfolie’ uit vyf ander soortgelyke inskrywings onder die top tien in die strafste olyfolie-kompetisie ter wêreld. Daar was meer as ‘n duisend inskrywings!

Hortgro toekennings

Staatmakers in die sagtevrugtebedryf is op 6 Junie vir hulle werk in die kern- en steenvrugbedryf met spesiale Hortgro-toekennings vereer. Joy van Biljon het die 1662 Hortgro Bedryfstoekenning ontvang. Die 1662-toekenning herdenk die eerste twee appels wat op 17 April 1662 in die Kompanjiestuin aan die Kaap geoes is. Sy was een van die stigterslede van die Koue Bokkeveld Opleidingsentrum, ook bekend as KBOS, en het hard gewerk aan haar droom om landbou deur opleiding te verander. Ná 20 jaar as KBOS se uitvoerende hoof het sy in 2020 uitgetree.

JULIE 2023

Bonsmarabul verkoop vir R4,4-miljoen

Up George Bonsmaras (die Ralfe-familie) het op 7 Julie 2023 ՚n uitsonderlike 25ste produksieveiling gehou met besondere pryse wat behaal is, asook wêreldrekords wat gespat het! 74 bulle en 72 vroulike diere is aangebied en verkoop. Die bulle het verkoop teen ‘n gemiddelde prys van R202 784. Sebadja Bonsmaras: Christoff Smit, Fouché en Bertus Blignaut het Lot 8, LAR19-373, gekoop vir ‘n top prys van R4,4-miljoen. Dit is ook ‘n nuwe Suid-Afrikaanse en wêreldrekord.

AUGUSTUS 2023

Groot, gulsige masjiene wys hulle staal by Grootpan se stroperresies

Die stroperresies op Grootpan bied elke jaar groot opwinding en ‘n lekker geleentheid om te demonstreer, te vergelyk en te spog. New Holland se CR 6.80 stroper het weggery as die wenner in die klas 6-afdeling. Case se 8250 het die klas 8-manne gewys hoe word dit gedoen.

SEPTEMBER 2023

Rekordgetal besoekers by NAMPO Kaap 2023

Altesaam 34 635 besoekers het die nat weer en sterk wind trotseer om vanjaar se NAMPO Kaap te Bredasdorp by te woon, ‘n rekordgetal teenoor verlede jaar se 32 000. Daar was 530 uitstallers in 625 uitstalruimtes, en die Voermolsaal het 60 bykomende uitstalruimtes gehad.

Oakdale toutrek wenners

Die Hoër Landbouskool Oakdale het vir die tweede agtereenvolgende jaar as die land se Proteaspan die 560 kg-afdeling in die kategorie vir Junior Mans in Switserland gewen. Verlede jaar het hulle die gesogte titel ook in Nederland verower. Die span van twaalf seuns van die bekende landbouskool het vanaf 31 Augustus tot 3 September aan die kampioenskap deelgeneem.

Voëlgriep knou SA se pluimveebedryf

Die vernietegende avian influenza (HPAI), oftewel voëlgriep, het teen ‘n ongekende spoed versprei in 2023. Daar is vanjaar reeds meer as 7,2-miljoen hoenders vankant gemaak, wat veral tot ‘n tekort aan eiers gelei het. Dit het ook prysstygings veroorsaak.

Volgens woordvoerders van die bedryf is die uitbreking die ergste wat die land nog ooit getref het. Tydens die eerste uitbreking van voëlgriep in 2017 het die H5N8-virusstam gelei tot die vernietiging van sowat 2,7-miljoen hoenders, en in 2021 is nog sowat driemiljoen hoenders vankant gemaak..

OKTOBER 2023

Sagtevrugtebedryf steier onder vloedramp

Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf steier onder die impak van die oorstromings in belangrike produksiegebiede, veral in Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp (EGVV), dele van die Klein Karoo en Franschhoek.

Die Wes-Kaap Departement Landbou (WKDL) se aanvanklike beraming van die skade aan infrastruktuur was tussen R400 en R500 miljoen, net in die EGVV-gebied. Die sagtevrugtebedryf is die grootste landboubedryf in die streek.

Die wynbedryf het nuwe beheerligaam wat die regte van werkers bevorder

Die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Professionele Liggaam (SAWIPB), ‘n eerste-van-sy-soort selfregerende organisasie, is bekendgestel. SAWIPB sal die bedryf se groei en ontwikkeling ondersteun deur professionele ontwikkeling en kennisdeling te bevorder. “SAWIPB is gestig om mense te ontwikkel en bedryfsverwante entiteite te ondersteun om maatskaplike volhoubaarheid te verseker,” sê Kachné Ross, mense- en vaardigheidsontwikkelingsbestuurder by South Africa Wine.

Bron: https://www.bizcommunity.com/Article/196/786/243265.html

NOVEMBER 2023

Beste heuning by internasionale heuningkompetisie

Dawid Rooifontein (23) is in November vereer met die toekenning vir die beste heuning by ‘n internasionale heuningskou in die Verenigde Koninkryk. Dit was die eerste internasionale heuningkompetisie waaraan hy en agt ander lede van die Wes-Kaapse Byebedryfvereniging (WKBV) op uitnodiging van die Nasionale Heuningskou in Surrey, Engeland deelgeneem het. Die skou, wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar gevier het, is van die mees gesogtes ter wêreld. Dawid se sitrusheuning het met die louere weggestap.

Graan SA se Graanboer van die Jaar

Pieter de Jager van Albertinia in die Suid-Kaap is aangewys as Graan SA se Graanboer van die Jaar. Hy boer saam met sy broer André op verskeie plase in die streek en die boerdery word die afgelope drie jaar onder die naam Tartouwa (Edms) Bpk bedryf. Pieter hanteer die saaiboerdery bestaande uit koring, kanola, ander peulgewasse, hawer en gars op ՚n rotasiegrondslag, asook die geldsake en administrasie, terwyl André die vee-afdeling, bestaande uit Brangus-vleisbeeste en Merino-skape, hanteer.

WRSA se Wildboer van die Jaar

Tienie Bamberger is pas aangewys as Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se Wildboer van die Jaar. Hy het Warthog Safari’s van ‘n wildsplasie van minder as 200 ha op ‘n taai begroting oor twintig jaar ontwikkel in verskeie wildsplase van meer 10 000 ha wat vandag al die aspekte van die wildwaardeketting benut.

2023 finale sitrusuitvoersyfers: Laer as voorspelde groei

In die 2023-uitvoerseisoen het Suider-Afrikaanse sitruskwekers 165,1 miljoen (15 kg) kartonne gepak vir lewering aan wêreldmarkte. Hoewel dit ‘n toename van sowat 800 000 teenoor verlede jaar is, is dit steeds 500 000 kartonne minder as die voorspelling aan die begin van die seisoen. Dit is ook aansienlik laer as die verwagte groeikurwe wat gegrond word op aanplantings. Volgens die verwagting kan die bedryf moontlik in die volgende vier jaar 200 miljoen kartonne per jaar bereik en teen 2032 tot soveel as 260 miljoen kartonne. Die laer as verwagte groei beklemtoon dat produsente ‘n aantal uitdagings in die gesig staar om hulle vrugte by die sleutelmarkte uit te kry.

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0