Categories: Nuus, Vee en WildPublished On: 11th February 2026

Wildbedryf nou ook by BEK-geveg betrek

By 5 min read
930 words

photo-1571566834017-471126f4e366

Die wildbedryf word nou ook ten nouste by die verbete stryd teen bek-en-klouseer betrek ten einde veral siektevrye buffels teen die siekte te beskerm Dr Gary Bauer van Wildlife Ranching South Africa (WRSA) is pas deur Landbouminister John Steenhuisen by die ministeriële taakspan wat vir die bestuur van die huidige bek-en-klouseer (BEK) uitbreking verantwoordelik is, ingesluit.  

Dr Bauer verteenwoordig die wildbedryf, wat onlosmaaklik is van die veebedryf en die stryd teen die hoogs aansteeklike, staatsbeheerde siekte wat tand dwarsdeur die land woed – moontlik selfs in die Noord-Kaap en Wes-Kaap, wat tot dusver die aanslag vrygespring het.

Afrikabuffels (Syncerus caffer) is natuurlike, asimptomatiese draers van al drie SAT-serotipes van die bek-en-klouseer virus in Suider-Afrika. Buffels is ‘n reservoir en draer van die virus wat die hoofbron van BEK-besmetting in vee en ander spleethoewige soogdiere is. Buffels binne rooilyngebiede bly draers en sodra ‘n trop besmet is, is dit onmoontlik om die trop weer BEK-vry te kry.

Die BEK-vrye buffelbedryf is uiters kwesbaar vir uitbrekings omdat Suid-Afrika se meer as 3 200 geregistreerde BEK-vrye buffelplase derduisende werksgeleenthede in landelike gebiede bied en jaarliks miljarde rande deur jag, toerisme, genetikaverkope en verwante dienste tot die ekonomie bydra.

Huidige protokolle vereis dat ‘n buffelkudde wat besmet raak uitgewis moet word. Dit is feitlik onmoontlik en het enorme logistieke, omgewings- en ekonomiese uitdagings waar duisende buffels in gebiede van derduisende hektaar voorkom.

“Die wildsektor moet ten volle by die BEK-Herstelplan ingeskakel word,” sê Steenhuisen. “Buffels speel ‘n sentrale rol in die epidemiologie van die siekte in Suider-Afrika en enige ernstige strategie om ons BEK-vrye status te herstel moet hierdie werklikheid in ag neem.”

Ander wildspesies soos koedoes en vlakvarke kan ook draers wees en verwaarloosde heinings, gedeelde watergate en intensiewe voerpraktyke vergroot die risiko van besmetting.

Vlakvark, trekwild en ‘n draer van die virus

Koedoe, ‘n draer van die virus

Inenting van geteikende beeskuddes rondom buffelsones, streng biosekerheidsmaatreëls en wetenskaplik-gebaseerde bewegingsbeheer is noodsaaklike elemente van die nasionale reaksieplan.

Volgens die verklaring is Steenhuisen se strategie duidelik: Die nasionale beeskudde sal in fases op ‘n gekontroleerde en verifieerbare ingeënt word ten einde BEK-vrye status met inenting van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) te verkry.

Die taakspan is deel van die struktuur wat die Departement van Landbou, die Tegniese en Wetenskaplike Taakspan en die BEK-bedryfskoördineringsraad insluit en die vennootskap verseker dat beleid, veeartsenywetenskap en operasionele uitvoering in lyn bly.

“Daar is baie op die spel, en as ons dit nie reg kry nie, sal dit geweldige gevolge vir die vee- en wildsektor inhou. Maar as ons gedissiplineerd en wetenskaplik-gedrewe bly en saamstaan, kan ons ons status terugkry en die hele waardeketting beskerm,” aldus Steenhuisen.

Die taakspan pas tans ‘n doelbewuste wetenskaplik-gebaseerde bloudruk toe wat gerig is op inenting, regionalisasie, naspeurbaarheid, toesig en markgereedheid vir hertoetrede.

Dr Bauer se aanstelling sal die poging versterk en verseker dat die wildbedryf se kundigheid by die Nasionale Siekteherstelplan ingesluit word.

Wildbedryf paraat

Die WRSA sê op sy webtuiste bek-en-klouseer bly ‘n ernstige bedreiging, veral vir siektevrye buffels wat nie ingeënt kan word nie.

‘n Nuwe protokol van die  Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVV) verskaf riglyne vir praktiese stappe om die risiko van besmetting te verminder, naamlik inenting van beeskuddes rondom buffelgebiede, streng biosekerheid, omsigtige beweging van wild en beheerde kontak tussen buffels en ander spesies soos koedoes en vlakvarke.

Volgens die verklaring het die WRSA belê in die ontwikkeling van gevorderde tegnologie met behulp van Buffalo & Livestock Analytics om wildboere te ondersteun met nakoming, kommunikasie en regstreekse siektebeheerbestuur

Die platform wat geskep is om te help dat buffels aan vereistes voldoen, het ontwikkel in die omvattendste siektebeheerstelsel in die land wat talle spesies, insluitend vee moniteer, karteer en risiko-analise verskaf wat tot ingeligte besluitneming lei en kan help om siektebeheer in alle sektore te koördineer.

“BEK hou ‘n ernstige bedreiging  vir siekte-vrye buffels in, want al toon hulle geen uiterlike simptome nie, kan hulle permanente draers word. Hulle kan nie ingeënt word nie en tans bestaan daar geen geneesmiddel nie. Voorkoming is die enigste haalbare opsie. Dit sluit streng biosekerheidsmaatreëls, verantwoordelike bewegingsbeheer en gekoördineerde deel van inligting in,” aldus die verklaring.

Buffalo & Livestock Analytics, in samewerking met Dunevax is besig om hoë risiko gebiede vir inenting te identifiseer. Altesaam 1,5 miljoen dosisse van Dollvet trivalente entstof (SAT1, SAT2, SAT3) word middel-Februarie verwag, terwyl Dunevax vir nog vyf miljoen dosisse aansoek gedoen het.

Voorts gebruik Buffalo & Livestock Anaytics intydse data om buffels as reservoir-gasheer en vlakvarke as versterker-gashere te prioritiseer, kwesbare ondernemings soos melkerye  te identifiseer, en buffersones deur geteikende vee-inentings te skep.

Die doel hiermee is om die bek-en-klouseer risiko onder beeste te verminder en siekte-vrye buffelkuddes te beskerm.

WRSA versoek buffel- en ander wildboere, veeboere, suiwelboere en varkboere om hulle eiendom onverwyld te registreer sodat hulle op hoogte van sake gehou kan word betreffende uitbrekings, risiko’s en bewegingsprotokolle.

“Bek-en-klouseer respekteer nie heinings nie en ons reaksie kan nie gefragmenteer wees nie,” aldus die verklaring.

In die lig van die jag- en wildvngseisoen wat op hande is, werk die WRSA nou saam met die owerhede, hou lede op hoogte, werk saam met Bufallo & Livestock Analytics en lei ‘n verenigde bedryfsaksie.

“Hierdie is ons bedryf. Dit is ons verantwoordelikheid, Dit is tyd om op te tree. WRSA doen ‘n beroep om alle lede en belanghebbendes om te registreer, ingelig t bly en aktief by te dra tot die gesamentlik poging om die nalatenskap van Suid-Afrika se vee en wildlewe te beskerm.”

Registrasie en permit

Plaasregistrasie:  https://forms.gle/KdWYx3v23syjM2rx5

Aansoek om bewegingspermit: https://forms.gle/JLjSEPHmpYKoVZar7

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0