Categories: Nuus, Vee en WildPublished On: 11th February 2026

Wes-Kaap in rep en roer oor bek-en-klouseer

By 6 min read
1181 words

Moselbaai padblokkade (002)

Die Wes-Kaap is in rep en roer oor die potensiële voorvalle van bek-en-klouseer wat onderskeidelik by Wellington en Mosselbaai aangemeld is.

Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie in die provinsie (RPOWK) word moontlike gevalle van bek-en-klouseer tans in die omgewings van Mfuleni, Makhaza, Kalkfontein en Mosselbaai ondersoek. Diere wat vermoedelik die hoogs aansteeklike siekte het, is voorkomend ingeënt en monsters is na ‘n laboratorium in Pretoria gestuur vir ontleding.

Mbekweni

In die Mbekweni indeksgebied is diere wat moontlik besmet is voorkomend ingeënt en die voorvalle word deurlopend deur die Wes-Kaapse Landboudepartement se Veeartsenydienste gemoniteer.

Die Wes-Kaap se Departement  van Mobiliteit, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Drakenstein-munisipaliteit, het sedert Vrydag 6 Februarie voltydse padblokkades opgerig wat deurlopend gemoniteer word. ‘n 10 km-kwarantynsone is rondom die indeksgebied ingestel en wetstoepassingsowerhede en patrollievoertuie is ontplooi om seker te maak die regulasies word nagekom.

Mosselbaai

Na aanleiding van inligting oor ‘n moontlike geval van bek-en-klouseer wat AWK en die RPOWK op 8 Februarie van die Veeartsenydienste ontvang het, is ‘n padblokkade onmiddellik op die R328 in Sonskynvallei opgerig. Nog padblokkades sal binne die volgende dae opgerig word.

Die padblokkades word deur verskillende belanghebbendes, insluitend die polisie, provinsiale verkeersdienste en wetstoepassingsbeamptes beman. Die staatsveearts en ander belanghebbendes het Dinsdag ‘n Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) geskep om voorkomende reaksie te koördineer. Meer inligting oor die geval by Mosselbaai  sal waarskynlik teen Woensdag 11 Februarie beskikbaar wees.

Dokumentasie

Enigiemand wat diere vervoer word daaraan herinner om die nodige dokumentasie byderhand te hê. Dit sluit in

  • Die eienaar se verklaring van die diere se gesondheidstatus
  • Gesondheidsverklaring wat slegs op veilings van toepassing is
  • Ontvanger se verklaring vir lewende hawe
  • Sertifikate in terme van Seksies 6 en 8 van die Veediefstalwet

Die beweging van diere in of uit die kwarantyngebied moet met behulp van die departement se vraelys https://tinyurl.com/AnimalMovementApp aangemeld word.

Biosekerheid  is die belangrikste manier om die verdere verspreiding van die siekte in die provinsie te voorkom. Daar word ‘n ernstige beroep op veeprodusente gedoen om te alle tye bi sekuriteitsmaatreëls toe te pas, om by die voorgeskrewe protokolle te hou en om enige  onnodige beweging van diere te vermy.

“Die verantwoordelike optrede van elke rolspeler in die veesektor is nou van kritiese belang om die situasie te stabiliseer en verdere verspreiding te voorkom,” aldus die verklaring.

Henry Meyer, AWK se verteenwoordiger in die Suid-Kaap en suiwelboer van Mosselbaai, se veeprodusente is op hulle senuwees oor die geval wat op ‘n suiwelplaas buite Mosselbaai aangemeld is. “Genadiglik val my plaas buite die 10 km-kwarantyngebied,” sê hy.

Volgens hom is monsters van die potensiële geval na die laboratorium in Pretoria geneem. “Ons hoor daar is ‘n agterstand van meer as 2000 monsters uit gebiede waar BEK voorkom, so ons hoop dat ons met die nuwe gevalle voorkeur sal geniet. Ons wag in spanning vir die uitslag.”

Volgens Henry is al die boere nou op hete kole oor die moontlike uitbreking. Buiten die geval wat verlede jaar by Gouda voorgekom het, was die Wes-Kaap tot dusver gelukkig om ‘n uitbreking vry te spring.

“Ons kom nou net uit die ergste droogte wat ek nog beleef het en ons diere het nog nie daarvan herstel nie. Die afgelope twee weke het dit darem bietjie gereën, maar daar is nog nie kos op die veld en aangeplante weiding nie, ons voer nog een stryk deur.”

Volgens Henry het die Tuinroete laas Maandag die ergste hitte ooit ervaar. “Dit was 34 °Celsius met ‘n dorre wind. Jy kon sien die wereld het nou aanstoot gekry, want die wind het alles wat nog nie vrekgebrand was nie, vrekgebrand.

“Dit het Donderdag begin reën en na die eerste 12 mm was my gemoed al klaar ‘n duisend maal beter. Teen Saterdag het die gras al twee duim gegroei. Ons noem dit ‘n ‘groen droogte’, want daar is nog nie kos nie.

Volgens Henry kon jy na die eerste bui reën sien hoe dankbaar die aarde is. “As elke mens maar so dankbaar soos die aarde is, sal die wêreld ‘n lekker plek wees…”

Maar nou hang bek-en-klouseer soos ‘n swaard bo die Tuinroeteboere se op. “Almal is nou besig met biosekerheid. Ons het geweet ons moet dit in plek kry, en dit was so halfhartig in plek. Nou word oral vergaderings gehou waar baie gepraat maar min gesê word. Daar’s ‘n vreeslike klomp protokolle, wette en regulasies wat die proses moet laat glad verloop.”

Henry meen bek-en-klouseer onder vleisbeeste is erg, maar onder melkbeeste is dit tienduisend maal erger.

“As jy melkkoeie inent, het die koeie die siekte. Dan moet die melk dubbel gepasteuriseer word, maar boere het nie die geriewe nie. ‘n Fasiliteit op Riversdal is opgeknap en al die melk van so ver soos Tsitsikamma, Overberg, George en Mosselbaai moet nou Riversdal toe aangery word vir die proses. Dan moet die melk weer terug gepiekel word na Mosselbaai om verwerk te word. Die koste is astronomies.”

Volgens Henry wil almal nou entstof hê, maar niemand weet eintlik wat die gevolge van inenting gaan wees nie. “Ons weet nie wat die besonderhede is nie, maar ons weet die regulasies sal moet verander, en dit word nie met die druk van ‘n knoppie gedoen nie.”

Volgens Henry sal die boere entstof uit Turkye verkies, want dit het ‘n merker in wat aandui of beeste net geënt is, of siek was. “Dit sal beteken dat ons meer dikwels sal moet bloed trek, maar dit sal die proses duideliker maak.”

“Die nuwe permitstelsel vir die vervoer van beeste wat die ou Rooikruisstelsel vervang, is darem in plek, maar ons weet nie hoe ons die boodskap gaan uitdra en hoe ons die permitstelsel gaan toepas nie…”

Daar was darem ‘n padblokkade in Sonskynvallei waar owerhede kyk na diere wat geskuif word, “maar dit was meer magsvertoon as iets anders”. “As ons nie ‘n punt daarvan maak om bek-en-klouseer te keer nie, gaan ons onder – daar is reeds minder as 800 melkboere oor.”

Intussen hoop hy dit reën nog sodat die bergstrome weer kan begin vloei.

Oor fel kritiek op landbouminister John Steenhuisen se oënskynlike onvermoë om bek-en-klouseer te stop, se hy:

“Afrikaners wat ongelukkig is, het ‘n manier om een van hulle eie te blameer. Dis lekker om een van jou eie mense pak te gee, want daar’s mos nie rassisme ter sprake nie. John moes ‘n sinkende skip teen ‘n sterk wind in omkeer, en hy kon dit nie doen nie. Nou wil hulle van hom wegjaag, maar wie gaan sy plek inneem? Rather the devil jou know…”

Hy gee erkenning aan die John vir alles wat hy wel gedoen het. “Daar is baie goed wat hy gedoen het waarvan mense nie weet nie. As jy nie deel van georganiseerde landbou is nie, weet jy niks. Daar is drie tipes boere: Diegene wat dinge laat gebeur, die wat kyk wat gebeur, en die wat wonder wat de hel het gebeur.”

Polisie beman ‘n voltydse padblokkade in Sonskynvallei nadat ‘n vermoedelike geval van bek-en-klouseer buite die dorp in die Tuinroete in die Wes-Kaap aangemeld is. (Bron: Mossel Bay Advertiser)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0