Wes-Kaap brandseisoen: Bly waaksaam, vra CapeNature

Heidelbergbrand 1
Die brand in die berge by Heidelberg in die Suid-Kaap het altesaam 2 400 ha verskroei. (Bron: Tuinroete-distriksmunisipaliteit.)
Uiteindelik is dit somer in die Suid-Kaap. Maar saam met die mooi van die seisoen kom die wind wat veldbrande deur die droë veld jaag, dikwels met ernstige gevolge.
Die Wes-Kaapse Departement van Natuurbewaring, oftewel CapeNature, waarsku in ’n verklaring dat veldbrande voorkom kan word indien tydig opgetree word.
Gedurende die 2014/25 brandseisoen het 97 afsonderlike brande altesaam 75 000 hektaar vernietig, waarvan sowat 60% deel was van reservate onder CapeNature se beheer en die res op eiendom in private besit.
Dit kos geld, want gedurende die brandseisoen het CapeNature meer as R20 miljoen bestee aan brandbestryding. Infrastruktuur is in puin gelê en private grondeienaars het groot verliese gely. Regskoste vir skade aan bosbougebiede en infrastruktuur het meer as R300 miljoen beloop.
Die koste van veld en goed wat letterlik in vlamme opgaan, is maar deel van die verlies: Dink maar aan die emosionele en ekologiese tol wat brande eis.
Natuurlike brande is deel van die fynbos-ekosisteem omdat fynbos vuur nodig het om die saad te laat ontkiem. Hoewel die natuur byvoorbeeld deur weerlig brande laat ontstaan, word meer as 80% van die brande in die Wes-Kaap deur mense veroorsaak, hetsy deur ’n beheerde brand of braaivleisvuur wat hand uitruk, of ’n sigaretstompie wat onnadenkend – of moedswillig? – by ’n motorruit uitgeskiet word.
Voorsorg is beter as nasorg, sê die spreekwoord. Dit help om plantegroei rondom ’n huis of ander plaasstrukture vry van brandbare materiaal te hou, nooit ’n oop vuur alleen te los nie, en om tuine en heinings netjies te hou.
“Wanneer ’n brand uitbreek, betaal almal die prys deur lewens wat verlore gaan, huise wat vernietig word, of biodiversiteit wat beskadig word,” sê dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature. “Maar wanneer ons optree vóór ’n brand ontstaan kan almal wen.“
Brand by Heidelberg
Dit vat egter net een vonk om ’n verwoestende brand te laat ontstaan. ’n Brand wat ses dae lank in die omgewing van Heidelberg gewoed het, het opnuut bewys dat voorsorg beter is as nasorg. Dié keer het die vlamme wat in ruie uitheemse plantegroei wat tot 60 jaar gelede gebrand het, die brandspanne se moed, durf en kundigheid tot die uiterste beproef.
Verloop van die brand
Op 21 Oktober het ’n beheerde brand noord van Heidelberg weens sterk wind in ’n wilde wegholveldbrand verander wat eers ses dae later onder beheer gebring kon word.
Brandbestryders van die Tuinroete-distriksbrand- en reddingsdienste, asook die Hessequa-munisipaliteit, CapeNature en Werk-vir-Vuur se brandspanne en ’n helikopter is ontplooi.
Teen skemer het die spanne daarin geslaag om die voorste linie te stuit en nabye grasdakke te beskerm. Maar diep in die klowe het twee vuurflanke stadig, maar hardnekkig bly brand. Brandspanne wat deur die nag gewerk het, het gekeer dat die brand weer weghol.
Op 22 Oktober het ’n sterk noordwestewind die gloeiende kole weer teen steil berghellings laat opspring en dit in uiters hoë temperature van tot 38 °C in die rigting van die Duiwenhoksrivier aangejaag. Die brandspanne het verbete teen die vlamme geveg en geen huise het in die slag gebly nie.
Teen 23 Oktober het die vuur op die noordelike flank steeds wild in die ruie uitheemse plantegroei voortgewoeker terwyl grondspanne onverpoosd geveg het om die vlamme van infrastruktuur soos plaashuise, boorde en selfoontorings weg te hou.
Brandspanne het strategiese teenbrande teen die laer hange waar die plantegroei minder ruig was, aangesteek. Teen die aand was die brand redelik onder beheer al het die rook steeds bo die ruie berghange gehang.
Terwyl brandbestryders op 24 Oktober die oorblywende smeulende kolle met waterkarre en ander brandtoerusting onder beheer gehou het, het ’n ligte reëntjie begin uitsak.
Op 25 Oktober het dit met mening begin reën en altesaam 10 mm het die brand, wat sowat 2 400 ha veld verskroei het, uitgedoof. Teen halftien Sondagoggend op 26 Oktober is die brand amptelik as geblus verklaar.
Die berig is saamgestel uit mediaverklarings van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en CapeNature.