Werkskepping in landelike gebiede is uiterste prioriteit
Werkloosheid en werkskeppingprojekte moet as ‘n nasionale prioriteit in landelike gebiede toegespits word. Die nasionale werkloosheidsyfer het met 30 basispunte na 27,5% in die derde kwartaal van 2018 toegeneem en die uitgebreide werkloosheidsyfer, wat ontmoedigde werkers insluit, is tans 37,3%.
Die situasie is egter veel erger in landelike gebiede waar uitgebreide werkloosheid op gemiddeld op sowat 41% te staan kom. Landelike werkloosheid en dus die nasionale syfer, kan grotendeels verlig word indien beleidsonsekerheid soos Onteiening Sonder Vergoeding (OSV) rondom landou dringend aangespreek word.
“Agri SA was betrokke by die pas afgelope ‘Jobs Summit’ waar verskeie vennootskapsprojekte voorgestel is, maar die grootste impak van hierdie tipe projekte kan binne landbou wees,” sê Neil Hamman, voorsitter van Agri SA se Arbeid en Ontwikkeling Sentrum van Uitnemendheid. “Vir elke rand wat die regering aan werkskepping in landbou spandeer, sal die opbrengs in werksgeleenthede enige ander sektor in die stof laat byt.”
Daar is 1 000 minder landbou-werksgeleenthede, wat tans op 842 000 in die derde kwartaal staan. Verskeie faktore kan hierdie syfer beïnvloed, siende dat seisoenale arbeid by die totale werksgeleenthedetelling in die landbousektor ingereken word.
“Die ganse Afrika se deure staan oop vir ons landbou-produkte, en Suid-Afrikaanse kommersiële boere is uiters kompeterend, daar is enorme potensiaal om landbou die werkskeppingsentrum te maak. Die kritiese vereiste is egter konsekwente ondersteuning van die regering.”
Agri SA is ook baie bekommerd oor die aantal jong werklose mense. ‘n Geraamde 31,1% van mense tussen die ouderdomme van 15 en 34 jaar is tans nie betrokke in enige vorm van studie, werk of opleiding nie.
Agri SA sal voortgaan om beleidsprobleme wat werkloosheid vererger met die regering en ander belanghebbendes bespreek en ook as ‘n vennoot in hoë-impak-werkskepping-projekte optree.
Kommentaar vanaf Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom, oor die werksgeleenthede in die landboubedryf:
Werksgeleenthede in die landbou sal oor die volgende dekade dramaties daal weens die abnormale uitvloei van arbeid wat toegeskryf kan word aan die uiterste ekonomiese druk waaronder die landboubedryf gebuk gaan, die nuwe ongekende tegnologiese ontwikkeling wat voortspruit uit die vierde nywerheidsrewolusie in die wêreld en die onteiening van grond sonder vergoeding.
Die huidige algemeen aanvaarde werkskeppingsvermoë van die landbou is net so belanglik soos die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se bewering dat die landbou 1 miljoen werksgeleenthede kan skep. Die bevindings en aanbevelings van die NOP is ongetwyfeld een van die belangrikste redes waarom die ANC se beleid die ekonomie en die land totaal sal vernietig omdat dit op suiwer sosialistiese en kommunistiese leerstellinge geskoei is wat jare gelede totaal in die wêreld verwerp is.
Die aanbevelings van die NOP was in werklikheid nog altyd irrelevant en nooit implementaarbaar nie omdat dit baseer is op ‘n ekonomiese groeiteiken van 4,5% wat suiwer deur die kommissarisse wat dit geskryf het uit hulle duime gesuig is. Sedert dit geskryf is was die groeikoers skaars 1% en die kans dat die ekonomie weer sal groei is uiters skraal.
Die NOP het ook ‘n voorwaarde gestel vir die werkskepping wat hulle uit die lug gegryp het dat die uitvloei van arbeid uit die landbou sal afneem en sonder om die ontwikkeling van nuwe tegnologie soos gevorderde rekenaars, sensors en robots wat reeds besig is om die landbou baie vinnig te verander en arbeid aansienlik sal verminder in ag te neem en nog minder die ongewensde gevolge van grondonteiening sonder vergoeding.
Daar bestaan nie ‘n moontlikheid dat die nuwe eienaars van die landbougrond wat onteien gaan word eers naastenby soveel arbeiders en hulle families sal kan onderhou nie met die voorsiening van gratis voedsel en behuising-, medies- en vervoervoordele, asook onderwys en opleiding nie.
As die kommissarisse so slim was sou hulle geweet het dat die ANC se ideologie waardeur hy al die bates, potensiële ekonomiese groei en rykdom van die land wil herverdeel die ekonomie totaal sal vernietig eerder as om hulle aanbevelings uit hulle duime te suig en uit die lug te gryp!
Die landbou se primêre doelwit is nie om werk te skep nie, maar om meer voedsel deur groter doeltreffendheid, winsgewendheid en volhoubaarheid met minder basiese hulpbronne en produksiefaktore soos grond, kapitaal, arbeid en bestuur te produseer om sodoende die finansiële oorlewing van boere, voedselsekerheid vir die land en die landbou se bydrae tot ekonomiese groei te verseker.
Daar bestaan gevolglik geen gronde waarop die president van die land sy aansprake dat die landbou baie werksgeleentede kan skep, kan baseer nie soos deur die NOP beweer is nie.
Feitlik alle politieke en landbouleiers het al dekades gelede baie gereeld op elke vergadering gesê dat die “deure van Afrika oopstaan” vir die landbou maar sedertdien het dit nog baie min voordele vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte opgelewer. Selfs die Wêreldvoedselorganisasie van die Verenigde Nasies en die groot internasionale donateurs wat die Afrikalande van voedsel voorsien koop feitlik geen landbouprodukte by Suid-Afrika nie, maar eerder by hulle eie lande.
Afrika voer gemiddeld ongeveer R50 miljard se voedsel per jaar in wat deur internasionale donateurs gefinansier word waarvan feitlik niks van Suid-Afrika af ingevoer word nie.
Suid-Afrika voorsien, byvoorbeeld, jaarliks net ongeveer 600 duisend ton mielies van die totale verbruik van die 10,5 miljoen ton plaaslik geproduseerde mielies as die belangrikste stapelvoedsel aan sy onmiddellike buurlande, naamlik Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland. Alle surplus mielies wat in Suid-Afrika geproduseer word, word na oorsese markte teen verliese uitgevoer.
“Daar moet egter geen twyfel bestaan nie dat die ANC-regering nog nooit sedert 1994 die kommersiële landbou wat 95% van die land se voedsel produseer, finansieel ondersteun het nie en slegs die kommersiële witboere as kapitaliste en rassiste uitgemaak het en daarom ook altyd sy beste probeer het dat hulle nie enige voordeel uit die staatskas trek nie, selfs nie eers tydens die ergste droogte wat die land in sy geskiedenis twee jaar gelede beleef het nie. Daarom behoort Agri SA eerder te probeer om te kyk hoeveel kommersiële boere op hulle plase in produksie gehou kan word om ‘n ongekende uittog van duisende plaaswerkers uit die landbou te verminder en sonder om duisende klein swart bestaansboere en hulle families in armoede te dompel,” sê Brink.
Bron: Agri SA en Fanie Brink