Wêreldvoedseldag met talle landbou-kosprojekte gevier

Kosdag 1 Julian Williams Minister Meyer and Dr Keith Du Plessis
Julian Williams saam met dr Ivan Meyer en dr Keith du Plessis tydens die Wereldvoedseldagviering op 11 Oktober in Uniondale. (Bron: Foto verskaf)
Woensdag 16 Oktober is Wêreldvoedseldag. Die dag is in 1945 deur die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) ingestel om die belangrikheid van voedselsekerheid te beklemtoon.
Vanjaar se tema is ‘Die reg tot voedsel vir ‘n beter lewe en toekoms.’
Lede van die gemeenskap Wereldvoedseldag Vrydag 11 Oktober by ‘n sportterrein op Uniondale in die Suid-Kaap saam met verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Landboudepartement, die Tuinroete -distriksmunisipaliteit, George-munisipaliteit en Casidra (Cape Agency for Sustainable Integrated Development in Rural Areas) gevier.
Volgens Jackie von Brandis, burgemeester van die groter George-munisipale gebied wat Uniondale insluit, ly tot 30% van die inwoners honger. “Ten spyte van 117 Voedingsentrums op George en nog ses in Uniondale, ly die mense steeds honger. In ‘n poging om die honger mense te voed sal alle onwettige stortingsterreine in die munisipale gebied in groentetuine omskep word.”
Tans word verskillende stortingsterreine ondersoek en die grond getoets om te verseker dit is geskik vir groenteverbouing. Sodra die terreine identifiseer is, sal dit omhein en van water voorsien word en begunstigdes aangewys word.
Adrew Stroebel, uitvoerende burgemeester van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, meen voedselsekerheid gaan ook oor waardigheid, ekonomiese ontwikkeling en bemagtiging. “Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is daartoe verbind om ‘n model van weerstandigheid te ontwikkel waar alle inwoners toegang tot gesonde kos het.”

Wes-Kaap minister van Landbou saam met Moira Antonie en Julian Williams van Haarlem, Andrew Stroebel, uitvoerende burgemeester van Tuinroete-distriksmunisipaliteit en Jackie von Brandis, burgemeester van George-munisipaliteit. (Bron: Foto verskaf)
Die distriksmunisipaliteit beoog om ‘n verwerkingsaanleg vir heuningbostee te skep wat werk sal verskaf en kleinboere toegang tot die produk se waardeketting gee.
“Landbou kan die hoeksteen van volhoubare ontwikkeling in die Tuinroete-distrik wees,” sê Andrew.
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het gesê ten spyte daarvan dat boere genoeg kos produseer om Suid-Afrikaners te voed, ly baie mense steeds honger. “Ons ondersteun alle pogings om die voorkoms van honger te verlig en voedselsekerheid te bewerkstellig.
“Wêreldvoedseldag is die ideale geleentheid om as ‘n gemeenskap saam te staan en ‘n poging aan te wend wat help dat niemand in die wêreld honger gaan slaap nie.”
Ten einde gestalte te gee aan die versugting, het die Landboudepartement en sy vennote verskeie voedselsekerheidsprojekte in die omgewing van Uniondale en Haarlem van stapel gestuur. “Die projekte is ‘n bewys van ons gesamentlike pogings en ‘n bron van hoop en ondersteuning in die toekoms,” het dr Meyer gesê.
Volgens dr Mogale Sebopetsa, hoof van Landbou in die Wes-Kaap, het die departement 100 huishoudelike landbouvoedselproduksie inisiatiewe in Haarlem (34) en Uniondale (64) geloods.
Twee bestaansboerdery-projekte is ook by Mina Moo-kleuterskol en die Chris Nissen-kleuterskool op Uniondale van stapel gestuur, asook twee kostuinprojekte by die Haarlem Senior Sekondêre Skool en Avontuur Primêr.
Nog 78 huishoudings sal binnekort by landbou-voedselsekerheidsprojekte betrek word.
Begunstigdes van die huistuinprojek het produksieinsette ontvang, insluitend tuinmaakgereedskap en watertenks, asook opleiding in groenteverbouing. Die kostuinprojekte by die skole in Haarlem en Avontuur het onder meer heiningmateriaal, tuingereedskap en besproeiingstelsels, asook produksie-insette soos wurm- en grondkompos ontvang om volhoubare kostuine aan die gang te kry.

Die Mountain of Food is letterlik ‘n berg kos wat geskenk is en aan vyf nie-regeringsorganisasies in Uniondale en twee speelskole in Avontuur en Haarlem uitgedeel is. (Bron: Foto verskaf)
Die twee kleuterskole het plantbokse, tuingereedskap, gieters en waterherwinningstelsels, asook saailinge ontvang.
Die Landboudepartement se Food Mountain-kosinsamelingsprojek en Wêreldvoedseldag-projek se plakaatkompetisie het ook groot belangstelling ontlok.
Met die ondersteuning van borge en personeellede is die kos wat ingesamel is aan vyf plaaslike nie-regeringsorganisasies oorhandig, naamlik die Haarlem- en Avontuur-speelskool, en die Integrated Empowerment Project (Uniep), Feladelfia United Revival Mission en Addict Lives Matter op Uniondale.
Volgens Anthony Blaauw van Uniep is die nood op Uniondale baie groot. “Ons as nie-regeringsorganisasies bly verbind daartoe om met die staatsdepartemente saam te werk om na ons gemeenskappe se behoeftes om te sien.”
Die Laerskool Dirk Bischoff en die Laerskool Avontuur het met ywer deelgeneem aan die jaarlikse plakaatkompetisie wat gefokus het op bewusmaking van die uitdagings van voedsel-onsekerheid in die gemeenskappe.
“Wêreldvoedseldag bied die ideale geleentheid om ons kinders aan die dink te sit oor gesonde kos en hoe dit volhoubaar produseer, verantwoordelik gebruik en versprei kan word,” het dr Meyer gesê.
“Die beste manier om voedsel-onsekerheid te takel is om te werk. Ons is vasberade om ‘n toekoms te skep waar die Wes-Kaapse ekonomie ‘n groeikoers van 5% per jaar handhaaf. Hierdie groei sal honderde-duisende werksgeleenthede skep wat mense uit armoede sal verlos en vooruitgang verseker en bowenal vir hulle waardigheid skep.”