Categories: Crop productionPublished On: 22nd March 2017

Wen weiveld met Zimmatic

By 4 min read
794 words
Zimmatic

zimmatic 1

Tien hektaar meer onder besproeiing en 200 melkkoeie meer op die plaas. Dit is die verskil wat die Zimmatic-spilpunte op die Fabers van Kookhuis se plaas gemaak het. Kobus en sy seun, Neels, melk tans so 400 Jerseykoeie en wil dit graag opstoot na 600. “Die spilpunte maak uitbreiding moontlik,” sê Neels.

Boere in die vallei tussen Cradock en Kookhuis het van 1975 af toegang tot besproeiingswater uit die Groot Visrivier en aanvanklik is net vloedbesproeiing toegepas, maar al hoe meer boere gebruik spilpunte vir meer doeltreffende waterbenutting.

Neels sê met presies dieselfde waterkwota kan hulle nou baie meer doeltreffend besproei. Met vloedbesproeiing moes dele van die weiding tot vyf weke wag om weer water te kry, maar met die spilpunte kan jy natmaak waar dit nodig is, wanneer dit nodig is.

Tagtig persent van die besproeide lande word vir weiding gebruik en twintig persent vir mieliekuilvoer en lusern. Die weiding word intensief bestuur met elektriese draadjies wat die spilpuntsirkel soos koeksnye verdeel. Die draadjies is styf genoeg om die Jerseys op hulle plek te hou, maar buigbaar genoeg vir die spilpuntwiele om hulle af te druk en bo-oor te loop.

Daar is ses spilpunte op die plaas, naamlik twee 3-torings, drie 4-torings en een 10-toring reus. Die 10-toring se pype is 200 mm (8 duim) dik ter wille van stewigheid en goeie watervloei. Die eerste Zimmatic het drie-en-’n-half jaar gelede sy staan gekry op die plaas en die Fabers het sedertdien nog nooit weer teruggekyk nie.

Met die waterskemakanaal wat teen die berg bokant die plaas verbyloop, is duur pomptoerusting nie eers nodig nie. Neels sê Lindsay, die invoerders van Zimmatic, het deur die plaaslike handelaar, Die Koöperasie (vroeër Humansdorp Koöperasie), vir hulle ’n goeie pakket aangebied om die hele plaas geleidelik na spilpunte om te skakel en om die jongste bestuurstegnologie te beproef.

Hy sê aanvanklik het sy vriende hom geterg as hy by ’n vleisbraai gou kyk hoe gaan dit met sy spilpunte en hulle aan- of afskakel. “Nou bel hulle op ’n streep op soek na daardie spilpunte wat jy met die selfoon kan aansit,” lag hy.

Die Fieldnet-stelsel van Zimmatic maak volkome elektroniese afstandbeheer moontlik en jy kan in ’n oogwink volledige rekords sien van alle watertoediening en ’n waarskuwing ontvang as iets fout gaan.

Waarom juis Zimmatic?

Neels het heelwat navorsing gedoen voordat hulle op Zimmatic-spilpunte besluit het. Benewens die gevorderde bestuurstegnologie, moes die spilpunt immers ook stewig wees, maklik bekombaar wees en daar moes goeie diensondersteuning wees.

Een van die groot voordele van Zimmatic is dat sekere eienskappe wat ander spilpuntvervaardigers teen bykomende koste as voordele aanbied, sommer standaard saam met ’n Zimmatic verskaf word. Die groot wiele (14,9 x 24”) wat sorg dat die spilpunt minder vassit, is byvoorbeeld standaardtoerusting.

Zimmatic bied iWob of enige van die Nelson-sproeiers en selfs die sproeiers van die Komet-reeks as standaard – dit hang slegs van die boer se voorkeur of die betrokke toepassing af. Neels sê die voordeel van iWob-sproeiers is dat hulle groter druppels deurlaat wat vir akkurate plasing, selfs in winderige toestande, sorg.

Van wind gepraat – by elke toring is daar ’n kruisstut stewig vasgebout wat die hele spilpunt stabiliseer, sodat selfs die sterkste wind wat deur die vallei swiep nie ’n hopie staal agterlaat nie.

Nog ’n voordeel is dat elke Zimmatic se segmente of spanne ’n standaard lengte en vorm is. Dit maak nie saak of dit ’n drietoring of sestoring is nie, as ’n deel vervang moet word, kan die nuwe deel maar net van die fabriek af gestuur word. Dit sal elke keer pas.

Neels hou ook daarvan dat die elektriese bedrading netjies aan die buitekant van die hooftoevoerpyp loop en nie saam met die water in die pyp nie (’n unieke voordeel van Zimmatic). Oor dienslewering kan hulle beslis nie kla nie. Neels sê daar was met een van die spilpunte ’n strukturele probleem kort nadat dit opgerig is. Zimmatic het ’n ingenieur uitgestuur en op hulle eie koste die segment vervang aangesien dit moontlik ’n fabrieksfout kon wees.

Hy geniet ook die kundige ondersteuning van die plaaslike Zimmatic-spilpuntontwerpers en -oprigters. “Met mense soos Chris Vermeulen en Albert van Heerden in die omgewing kan jy net wen.”

Skakel Richard Joseph van Lindsay by 084-788-9412 of 021-986-8900 om uit te vind hoe naby jou naaste Zimmatic-handelaar is, of stuur n e-pos aan richard.joseph@lindsayafrica.co.za. In die Suid-Kaap kan Deon van Staden van Die Koöperasie geskakel word by 082-615-0565.

 

Neels, Ellie en klein Kobus Faber spog met hulle kuilvoermielies. Kort na ProAgri se besoek het ’n haelstorm 50% skade veroorsaak, maar Neels sê hulle het steeds 60 t/ha gesny.

Zimmatic

Met die Fieldnet-beheerstelsel hoef jy nooit eers die spilpuntkas oop te maak nie! Let ook op die netjiese
sleepring vir die bedrading.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0