Wat is nuut? Agriteknuus

LEMKEN_Combined_Powers_1
Combined Powers
Krone en LEMKEN het letterlik kragte saamgespan om ‘n nuwe, outonome stelsel met die naam, Combined Powers, aan te bied.
In hierdie gesamentlike projek is ‘n outonome eenheid bestaande uit ‘n aandrywingseenheid en verskeie werktuie ontwikkel.
Nadat hierdie vernuwende konsep die toetse ten opsigte van bewerking, ploeg, plant, sny, belug en hark verlede jaar geslaag het, sal dit nou in die welbewese bewerking- en hooimaakstelsels van die twee maatskappye geïntegreer word.
Die diesel-elektriese aandryfeenheid wat tot 170 kW lewer is ontwerp om oorgenoeg krag vir die werktuie te bied. Die krag word elektries na die wiele en kragaftakker oorgedra, en vandaar na die werktuig wat aan die driepuntstelsel gemonteer word.
Veelvuldige sensors hou die onmiddellike omgewing en die werktuig waarmee gewerk word dop. Die operateur beheer en moniteer die kombinasie vanaf ‘n mobiele toestel wat opdragte en werksverslae deur ‘n kommunikasiemodule en die agriversender na die versamelpunt stuur.

Die besondersheid van die verwerkingseenheid lê daarin dat dit deur die werktuig beheer word en nie andersom nie. Hierdie besonderheid is as noodsaaklik beskou om die beste resultate te bereik. Die werktuig en die aandrywingseenheid tree as een, geïntegreerde slimstelsel op.
Op grond van die lang ervaring in die toepassing van ISOBUS en TIM met Krone- en LEMKEN-werktuie, werk die aandryfeenheid en die werktuig saam en deel letterlik alle soorte data.
Intensiewe toetsing in alle soorte toestande en die versameling van terugvoer vanaf boere en kontrakteurs sal vanjaar voortduur.
Meer inligting is beskikbaar by www.combined.powers.com. (Bron: Combined Powers.)
Valtra: Selfs meer seksiebeheer

Voorheen kon seksiebeheer aan Valtra-trekkers ‘n ISOBUS-aanpasbare werktuig soos ‘n spuit in 24 of 36 seksies verdeel. Die jongste weergawe vermeerder hierdie seksies tot 96, en die Multibalk-kenmerk maak dit moontlik om tegelykertyd tot drie verskillende balke ten volle outomaties te beheer.
Hierdie vermoë is perfek vir die beheer van ISOBUS-aanpasbare planters, kunsmisstrooiers en rygewas-grondbewerkingstoerusting. Seksies van die nuwe weergawe kan met afsonderlike voerders in een, twee, of drie opeenvolgende rye beheer word. Daar kan ook een werktuig voor aan die trekker gemonteer word en die ander aan die agterkant.
By ‘n planter kan kunsmis byvoorbeeld met die eerste voerstelsel gestrooi word, saad in die volgende een en aanvangskunsmis of fynsaad met die derde een.
“Afhangende van die werktuig is die saad- en kunsmistenks dikwels tussen twee of meer seksies verdeel,” sê produkspesialis Johan Grotell. “Seksiebeheer 99 beheer elkeen van hierdie seksies en voerders met akkuraatheid van een sentimeter.”

Die koppelvlak is soortgelyk aan die bestaande een (die trekker moet outostuur en ISOBUS-werktuigbeheer hê) op die SmartTouch-armleuning. (Bron: Valtra)
Die nuwe JUMBO 8000 kerf veel korter

Die JUMBO 8000 hoëwerkverrigting-kuilvoerwaens van Pöttinger kerf kuilvoer byna 30 persent korter. Dit beteken selfs hoër kuilvoergehalte sonder om enigiets op die laaivermoë in te boet.
Met sy wringkrag van 3 500 Nm lewer die kuilvoerwa nou ‘n hoër werkstempo as ‘n selfaangedrewe kuilvoerkerwer.
Tans is kerflengtes van 34 mm moontlik vir kuilvoerwaens, maar danksy die nuwe aandrywingskonsep, die rotor en die kerfstelsel met 65 lemme, kerf die JUMBO 8000 nou lengtes van 25 mm, waarvoor hy net 15 percent meer krag vra.
Die lemme is afsonderlik beskerm en beweeg eenvoudig weg van vreemde voorwerpe wat in die kerwer beland.
Die outomatiese voerstelsel het nou ‘n bykomende se sensor aan die rotorskrapermontering. Dit beteken dat tot vier sensors (wringkrag by die rotor, hidrouliese druk, materiaallaai, ensovoorts) gebruik word om die laaiproses so doeltreffend as moontlik te maak.
Die nuwe sensorstelsel sien wanneer materiaal bo die rotor te veel saamgepers word en sit die laaiwa se vloer in beweging voordat enige meganiese skade aangerig word. Dit beteken dat die JUMBO 800 altyd die beste gebruik maak van ruimte in die laaikamer, afgesien van die soort gewas.
Wanneer enige voer gemaak word, ook graskuilvoer, wil die boer die hoogste gehalte kuilvoer maak om wins te verhoog. Een van die hooffaktore wat voergehalte beïnvloed is die kerflengte. Dit is die voordeel van die kuilvoerwa wat die materiaal korter kerf.

Kortgekerfde kuilvoer kan beter saamgepers word, wat die pH-gehalte vinniger verminder. Dit verminder die risiko van mislukte gisting en verhoog die stabiliteit van die graskuilvoer, wat natuurlik dieregesondheid en -prestasie bevorder.
Nog ‘n opbrengsverbeterende voordeel van die korter kerflengte is die 10 persent digter laaivermoë teenoor ‘n kuilvoerwa met ‘n kerflengte van 34 mm. Die hoër loonvrag te danke aan die hoër digtheid beteken meer kostedoeltreffendheid.
Ten spyte van die relatief klein ruimte van 25 mm tussen die lemme, maak die AUTOCUT-slypstelsel hulle skerp. Dit bespaar diesel en tyd. AUTOCUT sord dat die lemme altyd skerp is tydens werk. Skerp lemme bewerkstellig ‘n brandstofbesparing van tot 20 persent.
Die nuwe tegnologie sal vanaf Augustus 2022 beskikbaar wees. (Bron: Pöttinger)
John Deere gaan elektries
Dit lyk of outonome elektriese trekkers deesdae ‘n plek in die beplanning van al die groot landboumaatskappye inneem.
John Deere het ‘n video vrygestel van ‘n ten volle battery-aangedrewe trekker met die naam SESAM2.
Die jongste konsep, wat ook outonoom kan werk, is ‘n verdere ontwikkeling van die SESAM-projek (Sustainable Energy Supply for Agricultural Machinery) waaroor die sluier die eerste keer by SIMA2017gelig is. Die diesel-enjin in ‘n gewone 6R is toe met ‘n batterystel van 130 kWu met vier werksure vervang.
Die SESAM2-prototipe lyk nie net anders nie, maar het ‘n veel groter batterystel van 1 000 kWu. 500 kW daarvan gaan na die ten volle elektriese aandryfstelsel en die ander 500 kW dryf eksterne werktuie aan. Hierdie ekstra batterykrag stel die SESAM2 in staat om tot 10 uur teen 80% van sy vermoë te werk nadat die batterye volgelaai is.
‘n Verwyderbare kajuit en draadlose kommunikasie vanaf die masjien vorm deel van SESAM2, wat dit moontlik maak om hom met die hand of outomaties te beheer – met of sonder kajuit.
In die land kan die kajuit verwyder en op die wenakker gelaat word sodat die operateur ‘n ogie oor die trekker kan hou en verstellings kan maak indien nodig. Een operateur kan verskeie masjiene wat op dieselfde land werk dophou en beheer.
Die eerste SESAM-konsep was op die 6R gegrond en het baie soos ‘n standaard-trekker gelyk waarvan die dieslenjin met ‘n batterystel vervang is.
Kyk hier na die video. (Bron: profi)


