Waatlemoene: Gesond, lekker en ’n groot geldmaker vir die somerseisoen
Min dinge is so lekker in die warm somerweer soos ՚n lekker, soet, sappige waatlemoen en dit is weer daardie tyd van die jaar waar die meeste boere waatlemoene oes. Waatlemoene is ՚n somersvrug en is nie te moeilik om te plant nie. Waatlemoene word vanaf laat Augustus tot Desember geplant. Die grondtemperatuur moet bo 15 grade wees, dan is dit reg om geplant te word. Dit kan vroeër in die jaar in ՚n kweekhuis geplant word.
Die waatlemoensaad moet 30 tot 40 cm diep in nat grond geplant word. Die plante moet 50 tot 75 cm uitmekaar in rye wat 150 tot 200 cm van mekaar is geplant word. Dit is gewoonlik 8 000 tot 15 000 plante per hektaar. Die groeitydperk tot oestyd is gewoonlik tussen 12 en 18 weke.
Bemesting speel ‘n groot rol
Sonder die regte hoeveelheid kunsmis kan die waatlemoene nie die regte oes lewer nie. Vyf weke voor planttyd moet ՚n groen dekgewas en kompos saam met 350 kg superfosfaat per hektaar in boonste 500 mm grond ingeploeg word.
՚n Paar dae voor planttyd, as die finale grondbewerking plaasvind, moet daar sowat 800 kg 2:3:4-mengsel per hektaar in die boonste 20 cm grond ingeploeg word. Sodra die plante gevestig is, ongeveer drie tot vier weke na planttyd, moet 300 tot 400 kg stikstof (N) en kalium (K) langs die plantry toegedien word en daarna natgemaak word. Om te kan help met die ontwikkeling van die vrugte en rypwording kan ՚n verdere 300 tot 400 kg kunsmis per hektaar omtrent drie weke daarna toegedien word. Na enige kunsmistoediening moet daar onmiddellik water gegee word.
Die belangrikste: Water
Die grond moet voor planttyd deeglik natgemaak word. Die gemiddelde weeklikse besproeiing is tussen 30 en 35 mm. Dit word gewoonlik in twee of selfs drie keer per week verdeel. Sodra die vrugte ontwikkel en die wortelstelsels groter is, kan die besproeiing in swaarder leemgrond tot een keer per week verminder word. As oestyd naby is, moet minder water gegee word en in die laaste week voor oes kan dit heeltemal gestaak word, behalwe as die temperatuur baie hoog is.
‘n Waatlemoen vir elke kwaal
Waatlemoene is nie net die lekkerste vrug nie, maar ook baie gesond want dit is die vrug wat die minste kalorieë bevat en dit het ՚n hoë waterinhoud. Waatlemoene bevat likopeen en vitamien C wat jou brein gesond hou. Likopeen help ook om jou oë teen ontsteking te beskerm. Die sitrullien, ՚n aminosuur in waatlemoen, help om spierpyne te verminder. Daarom is die waatlemoensap goed om te drink na oefening. Waatlemoen bevat ook vitamien A en C wat bydra tot gesonde hare en ՚n vogtige vel, want dit help die liggaam om kollageen te vervaardig.
Bronnelys:
Brand, D. 2021. Waatlemoen: Vier gesond fees: https://maroelamedia.co.za/leefstyl/gesondheid/waatlemoen-viergesond-fees/
Waatlemoenverbouing: https://southafrica.co.za/af/waatlemoen-verbouing.html