Categories: Hulpbronbestuur, NuusPublished On: 3rd September 2024

Waarom Suid-Afrika bewaringslandbou nodig het

By 5 min read
930 words

Nedbank’

Daar is nou wêreldwye konsensus dat ploeggebaseerde boerdery, wat steeds wyd beoefen word, onvolhoubare fondamente het. Ploeg en die verwydering van oesreste na die oestyd stel die grond aan wind en reën bloot, wat tot geleidelike gronderosie lei. In Suid-Afrika het hierdie bewerkingsbenadering gelei tot ‘n buitensporige tempo van gronddegradasie, wat ons kwesbaarheid vir klimaatsverandering verhoog. Daneel Rossouw, hoof van landbouverkope by Nedbank Kommersiële Banksake, ondersoek hoe bewaringslandbou (BL) die volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse landbou aansienlik kan verbeter.

Die 3 sleutelelemente van BL – minimum bewerking, diversifikasie van gewasse en permanente bedekking – verdubbel die waarde daarvan in ons verhittende wêreld: nie net verminder dit kweekhuisgaskonsentrasies in die atmosfeer nie, maar ook die impak van klimaatverwante gebeure, soos langdurige droogtes en swaar reën. BL verbeter ook grondgesondheid en vrugbaarheid deur organiese materiaal te bewaar en erosie te verminder sodat die grond water en voedingstowwe meer effektief kan behou. Dit maak gewasse meer bestand teen uiterste weertoestande en verbeter waterinfiltrasie en -retensie, wat die behoefte aan besproeiing verminder en droogteweerstand verhoog.

Omskakeling na BL vereis eerstens om enige tekortkominge in die grond en enige gekompakteerde lae reg te stel. Ongelukkig is die masjinerie wat vir hierdie proses benodig word duur, maar dit kan gehuur word en is geredelik beskikbaar. Hoewel die omskakeling nie kapitaalintensief is nie, is dit bestuursintensief, wat beteken dat boere bereid moet wees om aktief op die plaas betrokke te wees. Dit is egter belangrik om die aanvanklike koste, of bykomende tyd en inspanning wat nodig is, op te weeg teen die kostebesparing (bv water, kunsmis, plaagdoders en masjinerie) en die hoër opbrengste wat hierdie boerderystelsel meebring wat in die lang termyn tot groter winsgewendheid gaan lei.

Tog, ten spyte van die duidelike voordele van die praktyk, word slegs 25% van Suid-Afrika se bewerkbare grond volgens BL-beginsels bewerk volgens die jongste navorsing van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie vir 2021. Die studie toon wel ook dat die oppervlakte onder BL-produksie in Suid-Afrika van 2016 tot 2019 met 366% toegeneem het, wat daarop dui dat die opname van BL in die land versnel. Die stadiger opname hier kan toegeskryf word daaraan dat, anders as in Europa en die Verenigde State waar regeringsprogramme BL-opname aanspoor, die oorgang in Suid-Afrika produsentgedrewe is.

BL bevorder omgewings- en sakeveerkragtigheid

Nog ‘n rede vir die stadiger opname is moontlik dat, in teenstelling met organiese of vrylopende produkte, daar tans geen sertifisering is wat BL-produksie meer wenslik maak vir verbruikers of wat produsente toelaat om hulle produkte teen ‘n premie te verkoop nie. BL-boere wat koolstofbepalings nakom, kan egter wys dat hulle produkte ‘n laer koolstofvoetspoor het, wat positiewe implikasies vanuit ‘n sake- en omgewingsveerkragtigheidsperspektief bied, veral omdat beleide soos die Europese Unie se koolstofgrensaanpassingsmeganisme – in wese ‘n koolstoftarief – tans geïmplementeer word.

Daarbenewens groei verbruikersvraag na verantwoordelik geproduseerde goedere steeds. ‘n 2022 Nielsen-verslag het bevind dat 73% van globale verbruikers beslis of waarskynlik hulle verbruiksgewoontes sal verander om hulle impak op die omgewing te verminder, terwyl 64% van die respondente in die 2024 Simon-Kucher globale volhoubaarheidstudie ‘omgewingsvolhoubaarheid’ as een van hulle top 3-aankoopoorwegings beskou.

Dit kan aangevoer word dat die sterkste aansporings om na BL oor te skakel verlaagde insetkoste en laer risiko’s op ‘n geheelplaasgrondslag deur middel van verhoogde opbrengste en oesintensiteite is, wat hoër en meer stabiele opbrengste tot gevolg het. Byvoorbeeld, in ‘n 2023-studie wat saam met die Wes-Kaapse Departement van Landbou gedoen is, is koringproduksie by die Langgewens- en Tygerhoek-navorsingsplase van 2002 tot 2020 bestudeer om die omgewings- en ekonomiese impak van die oorskakeling van konvensionele koringproduksie na die nul- en geenbewerkingstelsels van BL te bepaal. Die resultate toon dat BL-koringproduksie meer winsgewend en omgewingsvriendelik is in vergelyking met konvensionele bewerking, met die produksie van 1 kg koring by Langgewens wat toon dat nul- en geenbewerking onderskeidelik 113% en 55% meer doeltreffend is.

Benewens die finansiële en doeltreffendheidsvoordele, het die studie ook gewys hoe BL ‘n plaas se veerkragtigheid teen klimaatsverandering verhoog deur voedingstofsiklusse, waterdoeltreffendheid en grondstruktuur te verbeter, asook gronderosie, onkruid, plae en siektes te verminder. Deur 100% konvensionele bewerkingskoringproduksie met BL-stelsels te vergelyk, het die studie ‘n vermindering van R269.2–402.5 miljoen in omgewingskade getoon.

Win kennis in om die vrugte van BL te pluk

Hindernisse ten opsigte van die aanvaarding van BL in Suid-Afrika blyk te wees ‘n gebrek aan kennis en ‘n onwilligheid om te verander. Dit verg ‘n groot verandering in denkwyses en ‘n paar vooraf aanpassings voordat die vrugte gepluk kan word. By Nedbank glo ons dat ons rol verder strek as om bloot die oorgang na ‘n meer volhoubare en klimaatveerkragtige toekoms te finansier. Daarom gebruik ons ons kundigheid en begrip van die sektor om bewustheid rakende volhoubare landboupraktyke, soos BL, te kweek. Ons borg dus ook die insiggewende 9de Wêreldkongres oor Bewaringslandbou (wat onlangs in Kaapstad gehou is), die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek en die Melkprodusente-organisasie (MPO) se rentmeesterskaptoekennings. Daarmee saam werk ons al dekades lank met WWF-SA om bewustheid rakende die belangrikheid van volhoubaarheid onder produsente, maatskappye en gemeenskappe te verhoog.

Bewaringslandbou is ‘n onderwerp wat ons breedvoerig by ons stalletjie by Nampo Kaap in Bredasdorp vanaf 11 tot 13 September 2024 gaan bespreek. Ons nooi jou uit om ons stalletjie te besoek. Kom ontmoet ons landbouspesialiste en gesels saam oor hierdie en ander sake terwyl jy die wynproe, met komplimente van ons vennote in volhoubare landbou, Boland Cellars, geniet. Lede van die media kan kommunikasiespesialis Gillian Gernetzky by +27 82 892 8378 of gillian@percheron.co.za kontak.

Hierdie artikel is met insette van professor Johann Strauss, senior wetenskaplike by die Wes-Kaapse Departement van Landbou en medeprofessor by die Universiteit van Stellenbosch se Departement van Agronomie en Shelly Fuller, programbestuurder vir Volhoubare Landbou by WWF-SA, geskyf.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0