Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 5th May 2025

Vye is Lohanri van Kammanassie se passie

By 7 min read
1356 words

lohanri 2

Die Evita-kultivar lewer vrugte van gehalte met ‘n goeie houvermoë. (Bron: Verskaf)

Lohanri Boerdery boer met vye op die plaas Sanddrift in die Kammanassie. Lohan Stander is op Robertson gebore en het in George grootgeword. Elseri Marais is op Lichtenburg gebore en getoë en het daarna aan Noordwes Universiteit, toe nog die Potchefstroomse Universiteit, Menslike Hulpbronbestuur studeer en later Honneurs in Bedryfsielkunde en Honneurs in Arbeidsverhoudinge gedoen.

“Ons het mekaar hier in die Kammanassie ontmoet nadat ons albei afsonderlik hierheen verhuis het — ‘n plek wat intussen ons tuiste en ons hart geword het,” vertel Elseri.

Lohan boer voltyds met vye, groentesaad en Angorabokke; in die week werk Elseri op Jimmy Zondagh se appel- en peerplaas op Avontuur waar sy die vrugte-oudits, menslikehulpbronbestuur en administratiewe werk doen.

“Ons is passievol oor plaaslewe, oor mense, en oor geloof – die waardes wat ons daagliks probeer uitleef in alles wat ons doen.”

Lohan Stander en Elseri Marais is die trotse eienaars van Lohanri Boerdery wat met vye in die Kammanassie boer. (Bron: Verskaf)

Kammanassie in die Klein-Karoo

Lohanri Boerdery is geleë op die plaas Sanddrift sowat 30 km buite Uniondale in die hartjie van die Klein-Karoo. “Dit is ՚n bergagtige streek met besonderse natuurskoon en ons is baie bevoorreg om hier te kan boer. Die plaas bestaan hoofsaaklik uit goedgedreineerde, klipperige grond wat ideaal is vir vyebome wat nie van nat voete hou nie,” vertel sy.

Die klimaat is tipies van die Klein-Karoo: Warm, droë somers en koue winters, met min reënval. Hulle maak staat op reënwater en bergstrome en bestuur die water baie noukeurig. Juis omdat die klimaat droog is en die grond arm aan voedingstowwe, presteer vye baie goed want die bome is gehard, droogtebestand en floreer in hierdie tipe omgewing.

“Daar is iets besonders aan ՚n vy wat onder moeilike toestande groei en tog soet vrugte dra – dit pas by ons manier van lewe hier in die Kammanassie.”

Hulle plant hoofsaaklik die Evita-kultivar, wat baie gewild is vir goeie gehalte, smaak en houvermoë. “Hierdie variëteit lewer mooi, eenvormige vye met ՚n soet, sappige binnekant, wat ideaal is om vars te gebruik, te droog en te verwerk.”

Volgens Elseri is die versorging van die vyebome ՚n deurlopende proses wat aandag, geduld en goeie bestuur verg. “Die grond moet goed dreineer. Ons doen gereeld grondontledings om seker te maak die voedingstowwe is in balans, en ons bemes doelgerig op grond van hierdie resultate. Organiese materiaal speel ook ՚n belangrike rol om die grondgesondheid en -struktuur te verbeter.”

Die bome word ver genoeg uit mekaar geplant en gereeld gesnoei om lig en lug deur te laat. “Snoei is noodsaaklik – nie net om die boom se vorm te beheer nie, maar ook om vruggehalte te verbeter. Dit help om lig tot in die middel van die boom deur te laat, wat bydra tot beter rypwording en minder siektes.”

Hulle gebruik mikrobesproeiing om water doeltreffend toe te dien. “Elke boom kry presies wat dit nodig het, en ons moniteer gereeld die vogvlakke in die grond. Al hierdie aspekte – van grond tot water – werk saam om gesonde bome en soet, gehalte-vrugte voort te bring.”

Oestyd

Oestyd begin gewoonlik vroeg in Maart en strek tot om en by einde Mei, afhangend van die weer. “Dit is ՚n besonderse tyd van die jaar op die plaas en alles word op volle vaart gedoen om die oes so glad moontlik te laat verloop.”

Vyeboerdery is veral gedurende oestyd redelik arbeidsintensief, want elke vrug word met die hand gepluk om gehalte te verseker. Hulle gebruik seisoenale arbeid en die meeste van die mense kom van Dysselsdorp tussen Oudtshoorn en De Rust.

“Ons werk al vir jare met van hierdie families en dit is vir ons belangrik om ՚n goeie verhouding te hê met elke werker wat met respek en eerlikheid ՚n gesamentlike trots in wat ons produseer met ons deel. Sonder hulle hande en harde werk sou hierdie boerdery nie moontlik wees nie.”

Die werkspan is met sonopkoms op die plaas. “Die vye moet versigtig en met sorg uit die bome gehaal word, want die vrugte is delikaat en moenie beskadig word nie. Die arbeiders werk hard, soms in warm, lang ure, maar daar is ՚n gevoel van samewerking en trots in die lug wanneer die eerste kratte vye begin inkom.”

Die geplukte vye word volgens gehalte gesorteer. Die mooiste vye word gepak vir die uitvoermark; die vye wat nie heeltemal aan die standaard voldoen nie, word vir ander verwerkingsprosesse gebruik. “Oestyd is nie net ՚n tyd van baie harde werk nie, maar dit is ook wanneer ons die vrug van ons arbeid kan sien en waardeer. Dit is ՚n tyd van samewerking, respek vir die natuur en die mense wat help om die boerdery te laat floreer.

“Na ՚n dag se harde werk is daar ՚n gevoel van bevrediging wanneer ons die finale produk van ons pogings sien. Dit is ՚n tydperk wat deur die jaar getoets word, maar die beloning van die oes maak alles die moeite werd.”
Bemarking

Naas uitvoere versprei hulle ook die vye plaaslik. “Uitvoere word hoofsaaklik deur Star South en Toro Fruit internasionaal versprei. Ons verpak ook vir Woolworths en Freshmark, wat ons toelaat om plaaslik hoë gehalte vrugte aan bekende handelsmerke te verskaf.”

Veral oor naweke bemark hulle plaaslik. “Ons ry na dorpe langs die Tuinroete waar ons direk aan die publiek verkoop. Dit gee ons die kans om persoonlik met klante te gesels, hulle terugvoer te hoor, en die verhaal. Die media soos Facebook en Instagram speel ook ՚n groot rol in die bemarking. “Dit wys mense waar hulle die vye kan kry wanneer ons op pad is dorp toe. Dit maak ook die mense wat ons op sosiale media volg deel van die plaaslewe. Hierdie direkte kontak met klante het vir ons ՚n lojale aanhang gebou en help om ons produk ՚n gesig en ՚n storie te gee.”

Grootste uitdagings

Die beskikbaarheid van water is een van die belangrikste uitdagings. “In ՚n warm, droë seisoen kan droogte die opbrengs beïnvloed, terwyl buitensporige reën op die verkeerde tyd die vrugte kan beskadig.”
Arbeid is ook ‘n uitdaging: “Omdat vye met die hand gepluk word, is ons baie afhanklik van betroubare arbeid tydens oestyd. Dit verg goeie beplanning en verhoudingsbou om op die regte tyd genoeg hande te hê.

“Ten spyte van hierdie uitdagings, bly dit vir ons ՚n vreugde en roeping om in die grond te werk en iets waardevol te produseer.”

Grootste vreugde

“Die grootste vreugde van vyeboerdery lê vir ons in die eenvoud en skoonheid van die proses: Om met jou hande in die grond te werk, ՚n boom te sien groei, en uiteindelik ՚n soet, volryp vrug te pluk wat jy met trots kan aanbied. “Vye is iets besonders – hulle groei onder moeilike omstandighede, maar gee steeds ՚n ryk en smaakvolle oes. Dit herinner ons aan die lewe self – vol uitdagings, maar met soveel potensiaal vir seën,” sê sy.

“Vye is ՚n produk wat waarde dra – iets wat mense geniet, wat gesond is, en wat ՚n storie vertel. Daar is iets diep bevredigend daaraan om vrugte te produseer wat nie net ՚n mark bedien nie, maar ook mense bly maak.

“Vir ons gaan boerdery oor meer as net produksie – dit is ՚n roeping, ՚n lewenswyse, en ՚n manier om iets mooi en eerlik agter te laat. Die vreugde lê in die eenvoud: die stilte van die oggend, die eerste vye van die seisoen, die glimlag van ՚n klant, en die wete dat jy getrou was met dit wat aan jou toevertrou is.”

Toekomsdrome

Hulle wil graag die vyeboerdery en bemarking uitbrei, dalk met nuwe kultivars of produkte, en daarmee saam ook meer plaaslike werkgeleenthede  skep wat hoop en waardigheid in die gemeenskap kan bou.

“Ons sien ook daarna uit om meer mense deel te maak van ons plaasverhaal – of dit nou deur toerisme, plaasmarkte of sosiale media is. Uiteindelik gaan dit nie net oor die vye nie, maar oor die mense, die grond, en God wat dit alles moontlik maak. Ons toekomsdroom is om getrou te bly aan hierdie roeping – dag vir dag, seisoen vir seisoen.”

Kontak Lohanri Boerdery by 082-453-0381 of stuur ‘n e-pos na lohanri40@gmail.com vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0