VS besproeiingsboere trek swaar met fase 6-beurtkrag

Jacobsdal 2
Foto: Jacobsdal boer
Die huidige hittegolftoestand tesame met fase 6-beurtkrag, plaas geweldige stremming op veral mielie- en sojaboon oeste op droëland en selfs onder besproeiing in verskeie streke in die Vrystaat.
“Die sameloop van omstandighede veroorsaak groot angs in die landbougemeenskap op ʼn kritiese tyd in die ontwikkeling van ons graangewasse.” sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL).
Kempen Nel, besproeiingsboer en bestuurslid van VL, bevestig dat mielie-aanplantings in die Oranje-Riet Water Gebruikersvereniging (WGV) gebied op die nippertjie van ʼn kritiese saadskiet stadium is maar “langdurige fase 6-beurtkrag verhoed besproeiingsboere om genoeg water neer te lê om in die optimale behoeftes van die mielieplant te voorsien.” Nel sê dat boere in die gebied baie bekommerd is oor hul opbrengste en gevolglik finansiële verlies as gevolg van beurtkrag.
Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, noem dat die organisasie vroeg verlede jaar met ESKOM oor dieselfde probleem vergader het. “Die voorgestelde oplossing deur Eskom was om “Load curtailment” (beperking van las) toe te pas, maar dit was nie prakties werkbaar vir die Oranje-Riet WGV nie. Die huidige voorgestelde oplossing van “Load reduction” (las vermindering) is ook nie prakties nie, meen Armour, aangesien die duur pomptoerusting (starters) groot skade lei weens onvoldoende kragtoevloei.
Verder meer, sê Wilken dat ESKOM se bediening en toepassing van beurtkrag die platteland dikwels benadeel. “Boere en plattelandse gemeenskappe loop onder baie langer ure van beurtkrag deur as wat daar in die stede ervaar word op die selfde vlak van beurtkrag. Ons sal graag ’n duidelike antwoord oor hierdie onreg wil ontvang”, sê Wilken.
Nel het bevestig dat Vrystaat Landbou op 23 Februarie ʼn geskeduleerde vergadering met ESKOM het om onder andere die kwessie van beurtkrag dringend aan te spreek. “Ons sal ook graag die kwessie van beurtkrag vrystelling dringend wil ondersoek.” Nel het verwys na die hofbevel deur die Pretoria Hooggeregshof wat Minister van Energie, mnr Ramokgopa, opdrag gegee het om dringend te verseker dat hospitale, skole en polisiestasies van beurtkrag vrygestel word.
“Die hof het verklaar dat verskeie menseregte, soos toegang tot water en voedsel, aangetas word deur beurtkrag. Ons (besproeiingsboere) is die voedselvoorsieners, maar word deur beurtkrag beperk of verhoed om dié behoefte aan te spreek en daarom is ons van mening dat landbou ook dringend van beurtkrag vrygestel moet word.”
Bron: Vrystaat Landbou