Vroueboer leef haar droomwerk

2
On the tractor are Alida (female farmer) and all her children. With her is Petronella, her youngest daughter. Below from left to right is her son Johannes Geswindt, her right-hand man John Mtaya, her husband Gerhard and her other son Franko.
“Boerdery is my lewe, dit is nie ՚n werk nie.” So sê die passievolle vroueboer, Alida Venter, wat tussen die Outeniekwaberge, tussen Uniondale en Knysna, boer.
“Dit is tussen niks en nêrens, maar op die perfekte plek, deur ons Here se hand uitgesoek. ՚n Besonderse stukkie wêreld, byna afgesny van die besige buitewêreld, behalwe vir Desembermaand wanneer die smal grondpad ՚n hoofroete word na die gewilde kusdorpe,” sê sy.
Alida is nuut in die omgewing. Sy het ses jaar gelede saam met haar gesin vanaf die Waterberg in Limpopo na die Wes-Kaap verhuis. Hulle huis is heeltemal van die stelsel af.
“Dit is nie ՚n mak wêreld die nie en ek noem myself maar in baie nederigheid ՚n boer, want hier is baie uitdagings, maar die belonings is meer,” sê sy.
Alida boer met Brits Alpynse-melkbokke, Pedi-skape, bye, en het ՚n groentetuin en hoenders vir huishoudelike gebruik.
Boerdery is in haar bloed
Dit was nog altyd haar roeping om te boer. “Ek het altyd aan my pa se lippe gehang as hy sy boerderyplanne uitgelê het. Hy kon nie wag om Maandae die skuur oop te sluit sodat die week kon begin nie.
“Ek het die groot voorreg gehad om by Tuks Dierewetenskap (BSc Agric) te gaan studeer en toe vir ՚n paar jaar saam met my pa te boer. My ma het my ook baie ondersteun en nooit beïnvloed om eerder in ՚n ander rigting te gaan werk nie. Dit is ՚n wonderlike voorreg om die ondersteuning en geleenthede van jou familie af te ontvang,” sê sy.
Alida sê ook dat boerdery familie-vriendelik is. “Almal kan saamwerk in ՚n boerdery vir die volgende geslag. Dit is vir ons sussies so mooi om te sien hoe ons boetie en sy vrou my pa se nalatenskap laat voortleef.”

Sy is opgewonde oor die toekoms van landbou
“Ek haal my hoed af vir die groot kommersiële boere in Suid-Afrika en wêreldwyd, want ons beweeg in ՚n nuwe tyd in.”
Die landboubedryf is besig om te verander deur tegnologie en menslike hulpbronne. “Jong boere moet in nederige leergierigheid na die ouer boere vir raad en wysheid gaan en die ouer boere moenie vrees om nuwe rigtings in te slaan nie,” sê Alida.
Sy glo ook dat mans- en vroueboere mekaar kan aanvul in die proses, “want ons is verskillend, maar het dieselfde liefde en passie in ons hart.”
John Deere stap die pad saam met Alida
Alida het grootgeword met die groen trekkers en werktuie op haar pa se plaas. “Ek verstaan nou self waarom my pa John Deere bo ander werktuie gekies het. Dit is voorwaar vakmanskap.”
Sy het ՚n John Deere 5503 met ՚n 553-skopgraaf. “Hy is beweeglik en sterk genoeg om legio take te verrig op ons bergagtige stukkie grond,” sê sy.
Die trekker is nie net verantwoordelik vir die normale vestiging van weiding nie, maar kan volgens Alida en haar kinders alles op die plaas doen, soos: “Komposmaak, byekorwe vervoer, klippe aanry vir kraalmure, vragmotor en waens uitsleep, buitelandse toeriste vervoer, vee vervoer, hout aanry vir die donkie en houtstowe, en kraalmis aanry.
“So kan ՚n mens aanhou, en ek is baie opgewonde oor wat die trekker nog vir ons gaan doen oor die jare.”
Om ook ՚n staatmaker John Deere-trekker aan te skaf, besoek hulle webtuiste by www.deere.africa/en/.