Vriesbrand met droë ys: Duidelik, permanent en dierevriendelik

WhatsApp Image 2025-07-18 at 14.00.02
Die vriesbrand merk wys duidelik die wit haargroei op ’n ouer koei. Steeds perfek leesbaar teen die swart jas van die dier, selfs in wintertoestande.
In die hartjie van Mpumalanga, net buite Ermelo, boer Petrus Taljaard met Drakensberger beeste, ’n stoet wat net soveel waarde as identiteit dra. Vir Petrus is die identifisering van sy vee nie net ’n administratiewe plig nie, maar ’n kernonderdeel van doeltreffende bestuur, naspeurbaarheid en eiendomsbewys.
Daarom het hy oorgeskakel van die tradisionele warm brandmerk na die vernuwende vriesbrandingstegniek met droë ys van Dry Ice 4 Farming en hy sal nie weer terugkyk nie.
Duidelike, lewenslange identifikasie
“Jy kan dit eintlik nie vergelyk met warm branding nie,” sê Petrus. “Met vriesbrand beskadig jy die haarfollikel en kry jy ’n wit haarmerk. Warm branding beskadig die vel en laat ’n letsel as merk. Die vriesmerk is baie duideliker, mooier en dierevriendeliker.”
Vriesbrand maak dit ook moontlik om op ’n vroeë ouderdom te begin merk, selfs by jong kalwers. Die merk groei saam met die dier, wat beteken dat dit altyd sigbaar bly, selfs wanneer die dier ouer en die vel dikker word. Volgens Petrus bly ’n korrek toegepaste vriesbrandmerk vir die dier se leeftyd leesbaar. In droë of stowwerige toestande kan die wit hare vuil lyk, maar sodra die area afgeskeer word, is die merk weer kristalhelder.
“In my ervaring hoef ’n sigbare merk nooit herhaal te word nie,” voeg hy by. “Daar is dalk 10% van die gevalle waar ’n letter nie perfek uitkom nie, maar dis die uitsondering,” deel Petrus.
Ontwikkeling van die merk oor tyd
Petrus wys hoe die vriesbrandmerk oor tyd verander: van ’n effense verkleuring in die eerste paar dae, na duidelike wit hare wat na ’n maand begin verskyn, en ná drie maande gevestig is as ’n permanente kenmerk.

Hierdie foto vertoon duidelik die merk op ’n jonger dier in die vroeë stadiums. Jy kan sien hoe die hare stadig begin verkleur om ’n duidelike nommer te vorm.
Tydsbesparing en praktiese doeltreffendheid
Petrus het die proses van begin tot einde volledig geoptimaliseer. Hy begin deur die deel te skeer waar die brand geplaas gaan word. Dan plaas hy die ysters in ’n alkohol-druppelbad wat afgekoel is met droë ys. Ná ongeveer 30 minute is die ysters koud genoeg om die werk te doen.
“Elke letter vat tussen 35 en 45 sekondes, afhangend van die dier se ouderdom. Jy brand een letter op ’n slag, plaas dit terug in die ysbad, vat die volgende een, en wanneer jy weer terugkom is die eerste yster reeds weer koud genoeg,” verduidelik Petrus. “Dis ’n ritme wat goed werk.”
In vergelyking met warm branding, wat net sowat 3 sekondes per letter neem, klink dit stadig, maar die voordele weeg swaarder. “Om oor ’n afstand ’n duidelike merk te sien en nie naby te moet kom nie, spaar jou eintlik later baie tyd,” sê hy.
Met die regte hanteringsgeriewe kan een persoon die proses self uitvoer. Maar vir groter troppe, of waar kalwers op ’n jong ouderdom gemerk word, is dit raadsaam om twee tot drie werkers in ’n klein opvangkraaltjie te gebruik.
“Gebruik die kalm tyd van die seisoen wanneer die kalwers nog klein is. Dan hoef jy dit nie in die besige speentyd te doen nie.”

Dit is ’n dier met ’n pas voltooide merk. Perfek geplaas en maklik leesbaar, danksy behoorlike voorbereiding en tydsberekening.
Koste en verbruik
Wat die koste betref, is die metode heeltemal uitvoerbaar – selfs op skaal. Om 100 beeste te merk met ’n ID en jaartal (vyf letters) op een dag is heel moontlik met die regte toerusting. Vir so ’n sessie gebruik Petrus tussen 20 en 40 kg droë ys, en ongeveer 4 liter alkohol.
“Daar is ’n kostebesparing op groter troppe, want jy gebruik die droë ys op. By kleiner troppe gaan jy dalk oorbly, maar met slim beplanning is dit geen probleem nie,” sê hy.
Hy verduidelik verder dat, sodra jy die meerderheid van jou kudde gemerk het, jy net jou vervangingsdiere in opvolgende seisoene hoef te brandmerk.
Veiligheid en praktiese raad
Hoewel die gebruik van droë ys relatief veilig is as dit versigtig hanteer word, beveel Petrus aan dat boere steeds basiese voorsorg tref, veral met betrekking tot velbeskerming. “Ons het nog nooit beserings gehad nie, al gebruik ons dit al jare lank sonder handskoene. Maar handskoene is beslis raadsaam,” sê hy.
Behalwe vir praktiese doeltreffendheid, bring vriesbranding ook ’n sosiale voordeel. Die merk is duidelik genoeg sodat selfs ’n buurman wat daagliks verbyry, dit kan memoriseer. Dit help met naspeurbaarheid en beskerming teen diefstal.
“Maar dis ook ’n nadeel,” lag Petrus. “Jy kan nie sommer ’n swak kalf by die veiling aflaai nie, want almal sien dadelik dis joune!”
Om meer uit te vind oor hoe Dry Ice 4 Farming jou kan help om jou kudde doeltreffend en meer dierevriendelik te merk, besoek hulle webblad of stuur ‘n e-pos na cynthia@dryice.co.za of skakel hulle by (+27)078-164-1712.