Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 10th December 2025

Vriend of vyand? Vreedsame naasbestaan is moontlik

By 7 min read
1405 words

leopard pixabay

Luiperds is bo-aan die voedselketting en speel ’n belangrike rol in die handhawing van balans onder plant- en vleisvreters. (Bron: Pixabay)

In die voorafgaande artikels van Vriend of Vyand het ons gekyk na verskeie dierespesies wat moontlik ’n konfliksituasie op ’n plaas kan veroorsaak. Dit sluit in luiperds, jakkalse en rooikatte, ystervarke, bosvarke en ratels, asook die groototter, bruin hiëna, bobbejane en ape, en vlermuise.

Soos genoem is die natuur sonder menslike inmenging in volmaakte harmonie – elke dier, plant en fungus vorm deel van die legkaart van ’n geïntegreerde ekosisteem.

’n Ekosisteem – gesonde grond, vars water en bestuiwing – voorsien alles wat nodig is vir lewe, nie net vir die natuur nie, maar ook vir die mens wat moet kos produseer. ’n Gesonde ekosisteem is afhanklik van die interaksie van spesiebiodiversiteit – hoe meer gesonde organismes in ’n ekosisteem, hoe beter is die volhoubaarheid daarvan.

Maar soms is mens en dier in konflik, veral waar hulle mekaar se voortbestaan bedreig. Die mens maak die natuur ‘mak’ deur sy plaas te omhein, die grond te bewerk en die water te gebruik om oeste te produseer of om lewende hawe aan te hou sodat hy kan eet en die oorskot kan verkoop teen ’n wins.

Wanneer ’n wilde dier binne die heining ‘oortree’ om kos te soek vir oorlewing, ontstaan konflik tussen die mens wat sy ‘eiendom’ wil beskerm, en die wilde dier wat eintlik maar net instinktief optree soos oor baie eeue heen: hulle eet en plant voort – sonder winsbejag.

En so word sommige diere as ‘ongediertes’ of ‘probleemdiere’ verklaar en hulle – die lot wat hierbo genoem en wie se doen en late in die reeks omskryf is – word verwilder en gejag om hulle weg te hou van boere se bron van inkomste.
Maar navorsing, veral deur mense soos Niël Viljoen, ’n roofdierspesialis vir die veebedryf, het getoon dat dodelike jag- en of vangmetodes soos skerp slagysters nie werklik die ‘ongediertes’ stuit nie: skade aan vee en of gewasse kom steeds voor.

Dit kan ook tot ernstige nadeel van die diere wees omdat dit ekologiese, gedrags-, fisieke en psigologiese gevolge kan hê wat hul oorlewingsvermoë in die natuur belemmer. Dink maar aan al die plante, diere, voëls en insekte wat reeds uitgesterf het weens die mens se doen en late – en wat ook tot die mens se nadeel is.

Die Cape Leopard Trust (CLT) wys dat mens en dier – met ’n bietjie geduld – tog naas mekaar kan bestaan. Die CLT se benadering is dat dit “noodsaaklik is dat welsynsoorwegings vir mense, lewende hawe en wilde diere oor alle vlakke van konflikbestuur heen geïntegreer en daarvan rekenskap gegee word”.

Volgens die CLT is proaktiewe en holistiese voorkoming van potensiële konflik die sleutel tot die bestuur van hierdie kwessie en om op die lange duur die bestaan of oorlewing van die mens en wilde diere te verseker. Die benadering kom daarop neer dat daar saam met die natuur geboer moet word. Dit vermy konflik en verhoog dikwels produktiwiteit en opbrengs.

Boere speel ’n belangrike rol in die bevordering van harmonie tussen wilde diere en die mens om nie net ekosisteemprosesse en -dienste te beskerm nie, maar om daadwerklik by te dra tot die bewaring van wilde diere – dink maar aan die groot bydrae wat renosterboere soos John Hume, Derek Lewitton en soos Piet Warren gemaak het om witrenosters se voortbestaan te verseker, terwyl die renosters in die Krugerwildtuin gestroop is. Vandag is daar vier keer meer wild op wildplase in die staat se bewaringsgebiede.

Wanneer boere in ’n konfliksituasie met wilde diere die reg in eie hande neem, loop die konflik onvermydelik uit op een van die volgende uitkomste:

•die boer ‘wen’ en die wilde diere word plaaslik uitgeroei;
•die wilde diere ‘wen’ en die boer kan nie meer winsgewend voortbestaan nie; of
•versagtingsmetodes word toegepas wat vreedsame naasbestaan tussen die boer en die wilde diere moontlik maak.

Maar dit is nie altyd maklik om die ou manier van ‘voor die voet skiet’ af te leer nie: ’n kopskuif is nodig. “Om in balans saam te bestaan handel nie oor kant kies nie, maar oor die vind van ’n gemeenskaplike middelpunt waar mens en dier saam kan floreer,” meen die CLT.

In ons reeks oor wilde diere wat konflik kan veroorsaak, het ons gesien hoe elke wilde dier ’n unieke rol speel om die natuur se balans te handhaaf.

Wanneer ’n ekosisteem in balans is, kan dit sekere basiese dienste aanhou lewer, wat veral in die lig van klimaatsverandering uiters belangrik is. Wanneer die landboubenadering verander om die natuur toe te laat om haarself reg te stel, word dienste gelewer wat boerdery makliker en meer winsgewend maak. Hierdie ekosisteemdienste sluit gesonde grond en verminderde erosie, beter indringing en opgaar van skoon water, voldoende weiding vir lewende hawe, gesonde bestuiwers vir beter oeste, en die voorkoming van ‘n ontploffing van insekbevolkings en siektes in.

Dierelewe voorsien ekosisteemdienste

Wildsbokke, hase en dassies wat plantmateriaal soos gras, blare en sade vreet help om die saad te versprei en terselfdertyd help hulle bosindringing verhoed. Op hul beurt is hierdie diere kos vir meso-roofdiere (mediumgrootte), waaronder jakkalse en rooikatte wat die diere weghou van vee af.

Ystervarke, bobbejane en ape wat plantmateriaal vreet help ook, net soos voëls en vlermuise, om sade deur hul spysverteringstelsel te versprei en by te dra tot die oorlewing van plante en ’n groter plantverskeidenheid. Bobbejane wat klippe omkeer op soek na ’n sappige kossie, ontbloot eweneens sade, bolle en knolle wat kan groei en vermeerder. Net so dra bruin hiënas, groototters en erdvarke hul deel by om biodiversiteit te handhaaf.

Rooikatte beheer jakkalsgetalle, so kies jou vriend of vyand versigtig! (Bron: Pixabay)

Roofdiere as ekosisteem-rentmeesters

’n Gesonde biodiversiteit sluit groot roofdiere soos luiperds, wat bo-aan die voedselketting is, in. Hulle handhaaf ’n balans in die ekosisteem deur die getalle van herbivore soos wildsbokke te beheer sodat hulle nie die plantegroei uitroei nie. Terselfdertyd beheer hulle die getalle van kleiner roofdiere soos jakkalse en rooikatte en hou hulle weg van die boer se vee.

Omdat groot roofdiere swak of siek diere teiken, voorkom hulle ook die verspreiding van siektes en swak genetika. Roofdiere, waaronder jakkalse en bruin hiënas wat aan karkasse aas, keer ook dat siektes versprei of insekplae soos brommers en vlieë floreer.

Nou kan jy sien waarom dit nie werk om ‘gediertes’ voor die voet uit te roei nie: Roofdiere en hul prooi is deel van die natuurlike stelsels se balans en as jy hulle verwyder, kring die gevolge uit.

Wat as …

Sonder roofdiere sal daar te veel herbivore soos bokke en dassies wees wat die natuurlike plantegroei gaan opvreet en dan met begerige oë na boere se landerye begin kyk … As jakkalse, rooikatte en tierboskatte nie knaagdiere soos muise vang nie, gaan hulle jou oeste opvreet … As jy die luiperd en rooikat verwyder, gaan die jakkalse jou van die plaas af vreet …

Holistiese konflikversagting in vyf stappe

Dit is dus beter om die konflik te versag eerder as om die lastige ‘ongediertes’ te verwyder. Proaktiewe optrede is hoeka makliker – en goedkoper – as om vies te word en los te trek op die lastige diere wat jou siel versondig. Dit gaan nie help nie. Nie al die voorkomende metodes is ewe suksesvol nie omdat die landskappe en omstandighede op verskillende plase en in verskillende distrikte wissel. Versagtingsmetodes moet ook op verantwoordelike wyse en binne die wet toegepas word. Die maatreëls moet ekologies volhoubaar wees met die minste moontlike versteuring of skade aan ekosisteme – en dit moet eties wees en die welsyn van die mens, vee en wilde diere in ag neem.

As jy die vyf beginsels korrek toepas, sal jy holisties saam met die natuur boer en konflik verminder, hoër produktiwiteit en beter opbrengste verkry, en rustiger slaap …

Die vyf sleutelbeginsels:

•Verstaan die oorsprong van die probleem wat jy ervaar;
•Wees verdraagsaam en respekteer die natuurlewe wat jou dalk versondig;
•Evalueer die probleem en bepaal watter dier(e) vir jou verliese en of skade verantwoordelik is;
•Pas versagtende maatreëls toe om skade of verliese deur die geïdentifiseerde dier(e) te voorkom;
•Gebruik spesifieke beheermaatreëls op die korrekte manier om die ware probleem te identifiseer en te hanteer sodat ander ‘onskuldige’ diere en die omgewing nie ook in die slag bly nie.

Kontakbesonderhede

Kontak Cape Leopard Trust se Jeannie Hayward by 082-337-0964 of communications@capeleopard.org.za vir meer inligting of besoek die webwerf by https://capeleopard.org.za/

Laai die Gids vir Grondeienaars hier af: https://www.capenature.co.za/uploads/files/Landowners-Guide-Human-Wildlife-Conflict-Afrikaans.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0