Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 5th August 2021

Voorkom en beheer dikvoet in koolgewasse

By 6 min read
1174 words

thomas-griggs-ZniXwcApTVM-unsplash

Teleurstellende en verwoestende nuus vir enige koolgewasboer is sekerlik die verskyning van dikvoetsiekte op die plaas. Dikvoet is ՚n vreesaanjaende siekte vir enige Brassica boer, daarom moet die boer deurgaans bedag bly om die siekte te identifiseer en sy boerdery fyn bestuur om steeds produkte te lewer.

“Produsente moet aanvaar dat dikvoet deel van die risiko’s sal bly solank koolgewasse geplant word,” sê Francois Barnard, saadspesialis van InteliSeed. “Die siekte sal meer of minder raak volgens die seisoene van die jaar, maar nie verdwyn nie. Hierdie ontdekking hoef nie noodwendig die
einde van koolgewasse op die plaas te beteken nie, want met noukeurige
bestuur en gebruik van die regte kultivars kan boere nog steeds produkte aan klante lewer.”

Om die oorhand te kry oor hierdie grond-, wind- en plantoorgedraagde siekte, is dit belangrik om te weet hoe dit lyk, waar dit skuil, hoe dit beweeg en – baie belangrik – hoe om dit te beveg! Francois Barnard deel graag sy kennis oor dikvoet se oorsprong, invloed en die bestuur met ProAgri se lesers.

Waar is dikvoet ontdek en wat is die invloed daarvan op die bedryf?

Dikvoet word veroorsaak deur ՚n mikro-organisme genaamd Plasmodiophora brassicae. Die eerste verwysing na dikvoet was in die 13de eeu in Europa. In die laat 18de eeu vernietig dikvoet ՚n groot koolaanplanting buite die stad St Petersburg, Rusland. Die Russiese wetenskaplike, Mikhail Woronin, identifiseer die dikvoet-siekte as die organisme Plasmodiophorous in 1875 en gee dit die naam Plasmodiophora Brassicae.

Sedertdien het die siekte na 176 lande versprei. Dit is nie ՚n swam of ՚n bakterie soos baie ander plantpatogene nie, maar dit is wel ՚n eensellige organisme met eienskappe soortgelyk aan swamme. Die simptome is opgeswelde wortels, soos duidelik sigbaar in Figuur 1, 2 en 3.

Blare toon tydelike verwelk gedurende sonnige dae, maar soos die plant verswak, verander dit in permanente verwelk.

Wat is die siekte, hoe beweeg dit in die grond en waarom is dit so moeilik om te beheer?

Die siekte is ՚n oerswam wat deur die beweging van gronddeeltjies versprei word van plaas tot plaas, streek tot streek en provinsie tot provinsie. Die spoor beland in die grond en wanneer ՚n gasheer beskikbaar is, baie grondvog teenwoordig, hoë grondtemperature (20 – 24 °C) en die pH laer as 6,5 is, ontkiem die spoor en produseer soöspore. Die swam tas hoofsaaklik
brokkoli, brusselse spruitjies, kool, blomkool, rape, radys- en mosterdtipes aan.

Die soöspore, wat parasiete is, swem deur die vogtige grond en dring die
gasheerplant se wortels binne deur wonde of wortelhare. Hier vorm dit ՚n plasmodium (massa protoplasma sonder selwande en met talryke selkerns) deur die herverdeling van baie Amebe-tipe selle.

Hierdie spore kan dan weer die oorspronklike gasheer herbesmet of dit
kan ander gasheerplante in die omgewing aanval. Hierdie sekondêre soöspore word meganies versprei, of deur water-erosie, en vorm dan ‘n
sekondêre plasmodium wat die gasheer se hormone aantas. Dit is hierdie
sekondêre plasmodium wat die selswelling op die wortels veroorsaak.
Die selle verander dan na wortelgalle, waarin die spore rustend oorwinter wanneer die galle verrot.

Die rustende spore kan tot 20 jaar in die grond oorleef, in afwagting op ՚n
wortelpunt van ՚n gasheerplant wat daar naby groei. Dikvoet het baie meer gashere as net koolgewasse en soos lande navorsing doen omtrent die siekte, vind hulle al hoe meer uit van die gashere.

՚n Paar bekende spesies wat as gashere kan dien is:
• Kweekgras
• Herderstassie (Capsella bursapastoris)
• Rooiklawer
• Doringpapawer

Wat is die simptome op die land?

Dikvoetsimptome op
brokkoliplante.

Een van die eerste simptome van ՚n land wat dikvoet het, is dat die dele wat nie versuipte kolle is nie verwelk teen drie tot vier ure na sonop, wanneer die transpirasievlakke van die plant sy wateropname oortref. As die plante dan uitgetrek word, sal ՚n mens abnormale verswelling van die wortels vind en die galle wat daar sit belemmer die opname van voedingstowwe en water.

Ander simptome sluit in:
• Vergeling, verdwerging en verwelking van plante
• Verlaagde produksie en gehalte (houvermoë)
• Plante gaan te vroeg dood
• Jong, wit galle op die wortels (Britte het dit Vingers-en-Tone-siekte genoem)

Wat is die oplossing vir die beheer van die gevreesde oerswam?

In 1987 het Peter Tjeertes besluit om te begin teel aan ՚n breë-spektrum weerstand teen die vernaamste spesies dikvoet op koolgewasse. In 1995
behaal sy span die deurbraak en na wêreldwye proewe, bevestig Syngenta die weerstand en doen in 2003 aansoek om patentregte op die gene. In 2008 begin Syngenta proewe in Suid-Afrika en sedertdien is daar gevind dat die weerstand baie goed staan teen die spesies dikvoet wat in ons grond voorkom.

՚n Ander uitweg is die gebruik van chemiese gewasoplossings om die grond te berook. Hierdie produkte is baie doeltreffend, maar ook ՚n baie duur oplossing. Een probleem wat met beroking ontstaan, is dat niemand die tydperk kan voorspel wat ՚n land na beroking veilig teen dikvoet sal wees nie.

Die kanse is goed dat voertuie, diere of mense die siekte binne 6 tot 12 maande weer na die land kan versprei, en omdat kool ՚n laewaardegewas is, regverdig dit nie die koste of risiko om die siekte so te beheer nie.

Die groot vraag bly: Hoe moet ՚n koolgewasboer sy plaas se gewasproduksiestelsels benader?

Wanneer dikvoet wel op die landerye gevind word, moet die boer klem lê op die volgende aspekte:

Neem waar
Dit is belangrik dat gereelde besoeke aan alle dele van ՚n land afgelê moet word, veral nat kolle en naby ingangshekke waar werktuie besmette grond kon indra. Trek verdagte plante uit om te kyk vir enige verdikkings ondergronds.

Verwyder
Enkele plante wat tydens warm dae verlep, kan op die siekte dui en indien sulke plante wel dikvoet het, moet dit verwyder en vernietig word. Onthou dat verskeie onkruidsoorte gasheer kan speel vir hierdie organisme.

Staak
Beskerm jou plaas teen dikvoetbesmetting deur voete en verkeer deur jou plaas en landerye te beperk. Indien ՚n besmette gebied geïdentifiseer is,
moet die grond liewers nie versteur word nie. Die spore is baie mobiel en kan maklik beweeg, hetsy in klonte grond wat vassit aan skoene, wiele, en
werktuie, of met deur stof wat deur die wind gewaai word. Die aanbeveling is dat die betrokke stuk grond bedek moet word en glad nie bewerk moet word nie.

Wisselbou
Wisselbou is belangrik om gashere vir die siekte te beperk. ՚n Wisselboustelsel waar daar vir minstens twee jaar geen Brassica-gewasse geplant word nie, behoort spoorgetalle in die grond te laat verminder.

Die blomkoolkultivar links het ‘n genetiese weerstand teen dikvoet teenoor die kultivar regs wat nie weerstandig is nie.

Bestuur
Bestuur die grondstatus deur te fokus op ‘n pH van >7, oorbenatting van lande te beperk of gebruik te maak van drupbesproeiing, en die produksie van koolgewasse wanneer die grondtemperatuur >20 °C is. Beheer ook onkruid tussen gewasse sodat daar nie gashere op die lande kan groei nie en maak gebruik van dekgewasse.

Plant weerstandbiedende kultivars van Syngenta. Dit is belangrik om bedag en waaksaam te wees en vroegtydig te reageer sodra probleme kop uitsteek. Tesame met bogenoemde aspekte, haal weerstandige kultivars die risiko uit die verbouing van blomkool, brokkoli, kopkool en brusselse spruite in besmette grond.

Bronne:

Compendium of Brassica Diseases, Rimmer, S R et al, bl 25 – 28
InteliSeed

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0