Categories: NuusPublished On: 15th April 2024

Voëlgriep onder koeie, mense wek kommer

By 7 min read
1415 words

voelgriep 1

Groot kommer heers oor voorvalle van voëlgriep wat na koeie en na mense oorgedra is en wetenskaplikes ondersoek die moontlikheid dat die virus kan muteer om makliker tussen koeie en tussen mense oorgedra kan word. (Bron: Pixabay)

Die eerste voorkoms van voëlgriep onder melkbeeste in Texas in die VSA in Februarie vanjaar en die feit dat die virus ook twee mense besmet het, is ‘n groot bron van kommer en die melkbedryf hou die situasie fyn dop.

Dr Mark Chimes, veeartsenykundige adviseur vir Melk Suid-Afrika, sê die risiko dat beeste in Suid-Afrika die hoogs patogene voël griep (HPAI) kan opdoen, is uiters skraal, maar die bedryfsorganisasie Melk SA hou dit situasie dop. Sou die voelvirus muteer sodat dit van bees tot bees en van mens tot mens oorgedra word, kan dit verrykende gesondheid-  en geldelike risiko’s inhou.

Oorspoel na mense rede tot kommer

In 1918-’19 het ‘n voël griepvirus wat aangepas is om mense aan te tas, gelei tot die Spaanse Griep. Volgens dr Chimes kan dieselfde gebeur indien HPAI na mense oorspoel.

Die feit dat ‘n mens met die virus besmet geraak het, verhoog die vrees dat dit binne mense kan muteer en van mens tot mens kan versprei. “Sou dit gebeur, kan ons nog ‘n wêreldwye pandemie op hande hê, afhangende van die erns van simptome by mense,” sê dr Chimes. “By diere veroorsaak die virus hoofsaaklik respiratoriese en neurologiese skade met simptome soos longontsteking, verlies aan balans, verlamming en selfs stuiptrekkings. As hierdie simptome by mense voorkom, kan dit  weer tot ‘n Covid-19 scenario lei.”

Oordrag na mense

Oordrag na mense is uiters skaars, maar die blote feit dat dit wel plaasvind, is kommerwekkend. Vanaf 2003 tot 2023 het 878 mense wêreldwyd positief vir die H5N1-virus getoets, waarvan 458, dus meer as die helfte, gesterf het.

Die uitbreek onder beeste het tot die besmetting van ‘n plaaswerker op die besmette melkplaas gelei en ‘n mens kan aanvaar dat die siekte van ‘n koei na hom oorgedra is. In die geval het die aangetaste persoon slegs tekens van konjunktivitis, ook bekend as pienk-oog, getoon en homself isoleer.

Toetse wat deur die National Veterinary Services Laboratories in die VSA uitgevoer is, het getoon dat die virus nog nie enige aanpassings toon wat dit meer oordraagbaar na mense maak nie.

Oordrag na ander soogdiere

Ten spyte daarvan dat die H5N1 voëlgriepvirus klaarblyklik gewoonlik nie goed aangepas in om soogdiere te besmet nie, word al meer wilde soogdiere in Noord- en Suid-Amerika, Europa en Asië en selfs Antarktika die voëlgriepvirus besmet.

Dit is nog nie presies duidelik hoe die oordrag plaasvind nie. Dooie wilde voëls wat besmet is, is op sommige plase gevind, kan dalk die infeksie verklaar.

“Oorspoeling van die virus na soogdiere hou verband met noue kontak met besmette voëls waar die geleentheid vir blootstelling groot is,” verduidelik dr Chimes. “Dit kan oorgedra word na soogdiere deur besmette waterbronne en voedsel, deur die virus in te asem of deur besmette voëls te eet.”

Voëlgriep by beeste

Hoewel voëlgriep in die verlede eksperimenteel aan beeste oorgedra is, is die uitbreking in Februarie vanjaar in die VSA die eerste geval van natuurlike oordrag van voëls na beeste.

Die koeie is nie die eerste soogdiere wat daarmee besmet raak nie – in Desember 2023 is berig dat ‘n ysbeer in die afgesonderde Antarktika daarvan gevrek het, naas talle ander soogdiere soos robbe, vosse en muishonde wat met die virus besmet geraak het deur van die duisende besmette seevoëls wat daarvan gevrek het, geaas het.

Die eerste bevestigde geval van die voëlgriepvirus onder melkbeeste is op Maart aangemeld, terwyl die tweede geval van ‘n mens wat in twee jaar besmet is, is op 1 April aangemeld.

Dit het van die Texas -panhandle begin en na naburige state Kansas en Nieu Meksiko versprei.  Dit het intussen ook na Noord-Carolina, Ohio, Michigan, Idaho en nou ook na Suid-Dakota versprei.

Reuters berig dat melkboere in die VSA alles probeer om wilde voëls van hulle kuddes af weg te hou, soos om besoekers te verban en motorbande te ontsmet, asook om bome af te kap om die plaas minder aanloklik te maak vir migrerende voëlspesies.

Terwyl die siekte klaarblyklik deur voëls na beeste in Texas en Kansas oorgedra is, meen die USDA dat oordrag tussen beeste tog moontlik is omdat beeste in Michigan en Ohio beeste vanuit Texas ontvang het.

Die aangetaste koeie in Texas het in middel- tot laat-laktasie in koeie wat twee of meer laktasies gehad het voorgekom. Simptome is verminderde eetlus, minder rumenaktiwiteit en laer melkproduksie. Hulle het ‘n ligte koors en die fermheid van die mis is nie normaal nie. Die simptome bereik vier dae na infeksie ‘n hoogtepunt en duur tussen tien en veertien dae.

Die meeste koeie herstel met ondersteunende behandeling, maar sowat 10% word ernstig geraak met melkproduksie wat nie weer behoorlik herstel nie of heeltemal ophou.

Die melk was dikker en geler en het gelyk soos kolostrum. Die dikker melk word vernietig en beland nie in ‘n grootmaat-melktenk nie. Pasteurisasie vernietig die virus en die melk op winkelrakke is dus veilig vir gebruik deur die mens en om vir kalwers te voer. Omdat die virus in die melk afgeskei word, moet rou melk nie vir kalwers, ander plaasdiere of troeteldiere gegee word nie.

Navorsing het getoon dat die virus in die beeste nie ‘n mutasie is nie, maar steeds ‘n voëlvirus. Dis kommerwekkend dat die virus wel oorgespring het na koeie omdat koeie se melkproduksie met tot 20% kan afneem. Tot in die stadium is min kuddes geraak en geen vrektes is aangemeld nie.

“Die vermoede dat die virus van koei tot koei kan versprei, verhoog die risiko dat die virus kan muteer en erger word of dat dit epidemiese afmetings kan bereik. As sterftes soos by pluimvee begin voorkom bestaan die gevaar dat owerhede dit sal oorweeg om volledige kuddes te slag, soos wat met pluimvee gedoen word, om die verspreiding te stuit,” sê dr Chimes. Maar in hierdie stadium is die simptome by koeie lig en daar is nog geen vleisbeeste aangetas nie.

Suid-Afrika

Voëlgriep kom al ‘n lang pad in Suid-Afrika en tot dusver was dit hoofsaaklik hoenders, ander pluimvee en volstruise wat aangetas is. Verlede jaar het die ergste uitbreking tot dusver daartoe gelei dat meer as sewe miljoen voëls vernietig moes word om die verspreiding te stuit.

Voëlgriep is endemies in Suid-Afrika met die H5N1-stam wat redelik algemeen voorkom. Wilde voëls, en veral watervoëls, is die primêre  bron  van die voëlgriepvirus. In  Suid-Afrika  word kolganse en wilde eende,  bloukraanvoëls, skoorsteenveërs, en selfs spreeus gereeld as verspreiders van die virus geïmpliseer.

In 2023 het Suid-Afrika een van die ergste voëlgriep-uitbrekings beleef met meer as 7 miljoen voëls wat vernietig is om die verspreiding van die virus te stuit.

Volgens dr Chimes is die Suid-Afrikaanse stam van die virus minder aangepas om soogdiere te besmet as die Amerikaanse en Europese stam en is dus minder geneig om beeste te besmet.

“Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes van SA (NICD) doen gereeld opnames om moontlike menslike infeksies, by persone wat op geaffekteerde plase aan die virus blootgestel is, op te spoor. Tot op hede was daar geen menslike gevalle van Voëlgriep A in Suid-Afrika nie,” së dr Chimes.

Biosekuriteit van grootste belang

Kontak tussen beeste en besmette wilde voëls veral by oop waterbronne hou die grootste risiko vir oorspoeling na beeste in.

Dr Chimes stel voor dat boere alles in hulle vermoë moet doen om voëls van water- en kosbakke en uit voerskure te hou. Beeste moet ook nie by oop waterbronne water drink nie, maar dis nie regtig haalbaar nie. Afskrikmiddels om voëls weg te hou kan dalk help.

Siek diere moet ook dadelik uit die kudde verwyder en geïsoleer word. ‘n Boer wat die simptome opmerk moet dadelik ‘n veearts raadpleeg.

Melk  SA  werk  nou  saam  met  die Departement van Landbou, Grondhervorming  en Landelike Ontwikkeling, Veterinêre  Publieke Gesondheidsdepartement en die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF).

Verwysingsbronne

Anthes, E. (2024) First Bird Flu Deaths Reported in Antarctic Penguins. The New York Times

https://www.nytimes.com/2024/01/30/science/antarctica-bird-flu-penguins.html#:~:text=A%20highly%20lethal%20form%20of%20bird%20flu%20has,Island%20in%20the%20Falkland%20Islands%2C%20a%20British%20territory.

Milk SA (2024) Avian Influenza Diagnosed in Dairy Cattle – USA . Dairy Standard Agency

https://nahf.co.za/information-milk-sa-dairy-standard-agency-avian-influenza-diagnosed-in-dairy-cattle-usa-2024/

Polansek, T. (2024) Bird flu pushes US dairy farmers to ban visitors, chop trees. Reuters

https://www.reuters.com/business/healthcare-pharmaceuticals/bird-flu-pushes-us-dairy-farmers-ban-visitors-chop-trees-2024-04-11/

Weston, P. (2024) Scientists confirm first cases of bird flu on mainland Antarctica. The Guardian

https://www.theguardian.com/environment/2024/feb/26/scientists-confirm-first-cases-of-bird-flu-on-mainland-antarctica

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0