Categories: NuusPublished On: 30th March 2022

Voedselsekerheid behoort tot ‘n nasionale bate verklaar te word

By 2 min read
452 words

GOSA 2

GOSA se raad is tydens die algemene jaarvergadering eenparig herkies. Voor (van links): Willem Strauss, Anzel Oosthuizen (Sekretaresse), Hein Rehr (president), Marco Pretorius (tesourier) en George du Plessis (GOSA Kaap-president). Agter: Lukas Swarts, Stefan van Staden, Ferdinand Meyer, Johan van Rensburg (vise-president), Dries Dannhauser en Tom Terblanche.

Die uitvoere van landbouprodukte soos wyn, mielies en sitrus is een van die weinige middele wat nog positief bydra tot groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie – en die graanwaardeketting speel ‘n integrale rol hierin.

“Suid-Afrikaanse landbouprodusente se rekorduitvoere gedurende verlede jaar het die invoerwaarde van landbouprodukte en kos oortref. Kos en drank ter waarde van R177,8 miljard is in 2021 uitgevoer. Dit is 5,2% meer as in 2020, wat beteken dat R75,4 miljard se goedere meer uitgevoer as ingevoer is,” het mnr Hein Rehr, president van die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika (GOSA), by die organisasie se onlangse simposium in Mosselbaai gesê.

Volgens Rehr het GOSA se lede iewers ‘n aandeel in die uitvoere gehad hetsy in die gradering van mielies, die opberging, verhandeling, finansiering of vervoer daarvan. Die geskatte huidige mielie-oes van 14,6 miljoen ton – en die jaarlikse verbruik van 11,8 miljoen ton – dui daarop dat uitvoere weer gaan plaasvind vanjaar. Gegewe die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne sal Suid-Afrika dalk nie op die korttermyn enige tekorte ervaar nie, maar die krisis gaan verseker ‘n invloed hê op voedselprysinflasie omdat pryse wêreldwyd reeds styg.

“Landbou hou nog Suid-Afrika se deure oop. Met sowat 30 miljoen mense wat hul inkomste van die staat ontvang, voed 36 000 boere en werkers elke dag Suid-Afrika se 58 miljoen inwoners. Die regering van die dag behoort voedselsekerheid – net soos Eskom – as ‘n nasionale bate te klassifiseer,” het Rehr bygevoeg.

37ste simposium

GOSA se 37ste simposium is op 17 en 18 Maart by Diaz Strand Hotel in Mosselbaai aangebied. Die sprekers tydens die simposium was dr Roelof Botha (ekonoom), mnr Theo Venter (onafhanklike politieke en beleidspesialis), mnr Wessel Lemmer (AGBIZ Grain) en mnr Benoit Le Roy (SA Waterkamer). Graanspesifieke wegbreeksessies is gefasiliteer deur mnre Pieter Fourie (Eko Design), Japie Snyman (Olam SA), Wayne Rosewall (Premier Milling) en Me Alta Swanepoel (Alta Swanepoel en Assosiate). ‘n GOSA sake-ontbyt is deur prof Jannie Rossouw (Wits Sakeskool) toegespreek.

Nuwe seisoen breek aan

Tydens die Covid-19-pandemie kon die GOSA-simposium en algemene jaarvergadering – wat al sedert 1980 jaarliks gehou word – nie plaasvind nie, maar behoeftegedrewe werkswinkels is met sukses aanlyn aangebied. Benewens die simposium beplan GOSA vier werkswinkels per jaar waarvan twee virtueel en twee in persoon aangebied sal word. GOSA Kaap se jaarlikse byeenkoms sal ook steeds plaasvind.

“GOSA is trots op sy naam, sy bestuur, sy lede, erelede en dit wat sedert 1980 bereik is. Daarom kan hy met reg aanspraak maak op sekere voorbehoude ter beskerming van sy identiteit en integriteit in die vorm van neergelegde reëls,” het Rehr gesê.

In pas met GOSA se toekomsgerigtheid is ‘n splinternuwe GOSA-embleem tydens die simposium bekend gestel. ‘n Moderne uitbeelding van die GOSA-letterwerk word afgerond met ‘n groen blaar wat groei simboliseer asook die slagspreuk: “Connecting the grain value chain.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0