Vlakte Bonsmara Studiegroep vier mylpaal met 20ste komende produksieveiling

651313418_1450285093570164_8860709346939862945_n
Vir meer as twee dekades reeds speel die Vlakte Bonsmara Studiegroep ’n betekenisvolle rol in die Suid-Afrikaanse bees- en Bonsmara-bedryf, ’n naam wat sinoniem geword het met uitnemendheid, toewyding en topgehalte genetika.
Hierdie dinamiese studiegroep, wat op die Springbokvlakte gevestig is, is in 2007 gestig deur ’n groep vooruitstrewende Bonsmara-telers met ’n gedeelde visie. Vandag, met 20 lede, staan hulle as ’n bewys van wat bereik kan word deur samewerking, dissipline en ’n passie vir genetiese verbetering.
Soos Kobus du Toit, voorsitter van die Vlakte Bonsmara Studiegroep, dit stel:
“Van ’n klein begin tot ’n sterk studiegroep met 20 lede, het Vlakte Bonsmara oor die jare bly groei, gedryf deur hardwerkende telers wat glo in streng seleksie, genetiese gehalte en ’n groep met dieselfde passie, visie en droom.”
- Van toe …
- Tot nou!
Op 11 Junie 2026 vier die studiegroep ’n besondere mylpaal met hul 20ste produksieveiling, ’n geleentheid wat nie net die gehalte van hul diere beklemtoon nie, maar ook die pad wat saam gestap is.
“Hierdie jaar beteken iets besonders … want ons hou nie net weer produksieveiling nie, maar ons vier vanjaar ons 20ste produksieveiling!” sê Kobus.
Die veiling sal aanlyn aangebied word deur beide Meerkat en SwiftVee se platforms, wat dit maklik maak vir kopers regoor die land om deel te neem aan die veiling.
By Vlakte Bonsmara is gehalte nie bloot ’n mikpunt nie, maar ’n vaste beginsel
“Hier by Vlakte Bonsmara is gehalte nie net ’n doel nie, dit is ’n belofte. Elke bul, elke koei, elke vers en elke dier op aanbod is die resultaat van jare se ervaring, kennis en ’n onvermoeide strewe na genetiese uitnemendheid,” verduidelik Kobus.
In ’n bedryf waar marktoestande voortdurend verander, bly die studiegroep gefokus op die lewering van diere wat werklik waarde toevoeg op plaasvlak.
“In ’n mark wat voortdurend verander, bly ons vas by waaraan ons altyd getrou bly – die lewering van bogemiddelde, aanpasbare en funksionele topgehalte Bonsmara-diere wat bydra tot die sukses van boere regoor die land.”
Op aanbod:
- 50 Bulle
- 250 Vroulike diere in alle produksiestadia’s
- ±600 Speenkalwers en vetvee

Volgens Kobus is dit egter nie net oor die diere nie, maar oor die mense en die verhoudings wat oor die jare heen opgebou is: “Ons is ongelooflik trots op wat ons saam opgebou het, uitstekende genetika wat jaar na jaar bevestig word deur terugkerende kopers, sterk pryse en vertroue in ons diere.”
Die groep nooi alle belangstellendes uit om deel te wees van hierdie spesiale geleentheid: “Aan al ons lojale kliënte, vennote en mede-telers … julle is deel van hierdie reis. Kom sluit by ons aan op hierdie mylpaal, Vlakte Bonsmara Studiegroep se 20ste produksieveiling. Kom ervaar die gees van die dag, die gehaltediere op aanbod … en die trots van wat ons saam bereik het.”
Vir meer inligting, besoek die Vlakte Bonsmara Studiegroep se webwerf.



