Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 7th May 2024

Vlakte Bonsmara Studiegroep hou uiters suksesvolle 18de produksieveiling ten spyte van droogte en taai ekonomie

By 3 min read
614 words

videoframe_10080

Ten spyte van die droogte, ekonomiese uitdagings en boere se geldsake wat onder druk is, het die Vlakte Bonsmara Studiegroep uitstekend presteer tydens hulle 18de produksieveiling met ‘n goeie omset en pryse wat vir die tye behaal is.

Die gehalte van die diere wat aangebied is, was weer eens ‘n toonbeeld van die groep se strewe na eenvormigheid en om topgehalte diere aan te bied.

Kobus du Toit, voorsitter van die Vlakte-groep sê: “Ek weet elke teler het regtig diep gedelf om uit te haal wat vandag op die veiling aangebied word. Ons verwagtinge van die veiling is vêr oortref. Met ‘n ongelooflike uitdagende mark wat ons tans in die gesig staar, klimatologies en ekonomies, het die Vlakte weer vandag bewys dat jy altyd ‘n premieprys vir gehalte diere sal kry.”

Hy voeg by: “Dit is werklik ‘n voorreg om deel te kan wees van hierdie ongelooflike studiegroep, en om weer terug te kan kyk na ‘n suksesvolle veiling maak my baie trots. Die kopers kom jaar na jaar terug, want hulle weet wat hulle kry by Vlakte.”

Die visie van die Vlakte-groep is om as een van die top vyf voorkeurverskaffers van meerderwaardige Bonsmara teelmateriaal in SA gereken te word, gegrond op persentasie terugkerende kliënte, pryse van diere en kliëntetevredenheid.

Derick Fick van Fick Agri, Dendron, meen: “Die rede waarom ons die Vlakte-groep se veilings ondersteun is absoluut oor die gehalte diere wat hier aangebied word. Ons stap vandag hier weg met top teelbulle en besonderse dragtige vroulike diere en ons wens die Vlakte-telers geluk met wat hulle keer op keer aan boere en mede-Bonsmaratelers op hulle veilings bied.”

Kobus het boere bedank vir hulle ondersteuning wat die prestasies tydens die veiling in moeilike tye moontlik gemaak het en so ook sy dank aan elke lid van die Vlakte, borg en betrokke party uitgespreek.

Hoogste prys bul van die dag: Lot 10, KDT 21-114 van KDT Bonsmaras is verkoop vir R180 000 aan André en Judi Thirion van AJT Boerdery tesame met Lukas Eksteen van Bufland Boerdery.

Gemiddelde en hoogste pryse van die dag was soos volg:

  • Gemiddeld van die 29 bulle wat verkoop is: R70 775,86. Hoogste prys: Lot 10, KDT 21-114 van KDT Bonsmaras is verkoop vir R180 000,00 aan André en Judi Thirion van AJT Boerdery, tesame met Lukas Eksteen van Bufland Boerdery.
  • Gemiddeld van 53 dragtige koeie met kalwers (3-in-1): R31 443,40. Hoogste prys: Lot 47 van TKB, Tian Kruger Boerdery verkoop vir R40 000,00 aan Albert Blignaut van AAG Boerdery.
  • Gemiddeld van 34 dragtige koeie: R19 941,18. Hoogste prys: Lot 65 van TKB, Tian Kruger Boerdery verkoop vir R26 500,00 aan Thinus Maritz-boerdery.
  • Gemiddeld van 19 koeie met kalwers: R23 289,47. Hoogste prys: Lot 88 van TKB, Tian Kruger Boerdery verkoop vir R31 000,00 aan Derick Fick van Fick Agri.
  • Gemiddeld van 96 dragtige verse: R26 671,88. Hoogste: Lot 78 van TKB, Tian Kruger Boerdery verkoop vir R37 000,00 aan George Barnard van Morgan Trading.
  • Oop verse verkoop teen ‘n gemiddeld van R15 000,00. Hoogste: Lot 92 van Elandskerk Boerdery verkoop vir R15 000,00 aan Salamus Properties.
  • Verse by bul geloop verkoop teen ‘n gemiddeld van R18 000,00. Hoogste: Lot 90 van George Barnard van Morgan Trading verkoop vir R19 000,00 aan Juan Pera van Somerset Nature Reserve.

Die veiling het ‘n totale omset van R7 691 000,00 behaal.

Kopers van die duurste bul van die dag, André en Judi Thirion van AJT Boerdery tesame met Lukas Eksteen van Bufland Boerdery (afwesig) saam met verkoper en voorsitter van die Vlakte-groep Kobus du Toit van KDT Bonsmaras.

Dagboek Vrydag 18 Oktober 2024, om 11:00 vir die Vlakte-groep se 15de Bulveiling op die plaas, Doornpan. Besoek ook die Vlakte se webwerf om op hoogte te bly van alle komende veilings van die groep https://www.vlaktebonsmara.co.za/.

Die groep Vlakte-telers wat tydens die 18de produksieveiling diere aangebied het.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0