Veesiektes: Kyk nou uit hiervoor …

dieresiektes 4
Verskeie insekte kan siektes oordra en dit is belangrik om die vee voorkomend te behandel en gereeld te dip deur besproeiing of onderdompeling. (Bron: Pixabay)
Bloutong, knopvelsiekte en drie-daestywe-siekte is reeds na die draai van die winter in verskillende provinsies aangemeld.
Die jongste verslag van veeartse wat aan die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) behoort, lig die volgende veesiekteneigings uit. Die verslag is in die Rooivleisprodusentevereniging (RPO) se jongste nuusbrief vervat.
Eksterne parasiete B
Bloubosluise (Afrika- en Asiatiese bloubosluise) kan Afrika en Asiatiese rooiwater, galsiekte (anaplasmose) en knopvelsiekte oordra. ՚n Veearts kan die weerstandigheid van bloubosluise op jou plaas toets voordat jy bosluiswerende middels aankoop.
Bosluise vol bloed word versamel en gebruik vir die toetse. Bontbosluise dra hartwaterparasiete oor. Die bosluise veroorsaak bloedarmoede en skade aan die uier, ore en vel. Dis veral belangrik om die uier te beskerm want bosluise met lang monddele, soos bont- en bontpootbosluise kan onherstelbare skade aan die spene en uier veroorsaak. Skroefwurmbesmetting kom dikwels aan die beskadigde uier voor.
- Inenting is belangrik om galsiekte en rooiwater te voorkom. (Bron: Pixabay)
- Kalwers wat na geboorte biesmelk ingekry het, het ՚n natuurlike weerstand teen siektes. (Bron: Pixabay)
- Galsiekte (anaplasmose) en rooiwater kan deur bloedmonsters onder ՚n mikroskoop bevestig word. (Bron: Pixabay)
Bosluis-oordraagbare siektes
Asiatiese hartwater, een van die dodelikste siektes onder beeste, is besig om te versprei. Vrektes kom voor wanneer vatbare diere verskuif word na gebiede waar bosluis-oordraagbare
siektes voorkom. Die diere moet op agt maande geënt word. Dit is beter om ՚n veearts te raadpleeg. Uitbrekings van galsiekte, waarvan steekvlieë die belangrikste draers is, is in sewe provinsies aangemeld. Wanneer dieselfde naald tydens inenting vir meer as een dier gebruik word, kan dit die siekte versprei. Galsiekte en rooiwater kan deur bloedmonsters onder ՚n mikroskoop bevestig word. Inenting is belangrik om die siektes te voorkom.
Voorsorg is beter as nasorg
- Inenting is noodsaaklik om die siekte te voorkom.
- Vatbare diere moenie na gebiede waar besmette bosluise voorkom geskuif word nie; eweneens moet besmette diere nie na siektevrye gebiede geskuif word nie.
- Wanneer diere aangekoop word, moet die veearts in die gebied waar dit gekoop word EN die veearts in die gebied waarheen die vee geskuif word, geraadpleeg word.
- Moenie dieselfde naald vir meer as een dier gebruik tydens inenting nie, want so kan jy jou eie diere besmet.
Insek-oordraagbare siektes
Vanweë koue weer het siektes wat deur insekte oorgedra word afgeneem, maar sekere gevalle van oordraagbare siektes het steeds voorgekom. Bloutong het in die Wes-Kaap uitgebreek. Die gebrek aan geregistreerde entstof toe die ooie ingeënt moes word, het tot probleme gelei, maar ՚n nuwe inaktiewe bloutong-entstof is geregistreer en sal hopelik binnekort beskikbaar wees. Knopvelsiekte, wat deur steekvlieë, ander insekte en sommige bosluise oorgedra word, is in vyf provinsies aangemeld. Die virus kan ook deur ՚n spuitnaald wat vir meer as een dier gebruik word, versprei word.
Drie-dae-stywesiekte is in twee provinsies aangemeld. ՚n Lae bevrugtingskoerse is aangemeld in die gebiede waar die siekte algemeen voorkom. Slenkdalkoors kan die oorsaak van ՚n vlaag aborsies wees. Die siekte is ՚n soönose wat beteken dit kan aan mense oorgedra word. Vermy kontak met besmette materiaal soos bloed en nageboorte. Laat kom die veearts as jy slenkdalkoors vermoed.
- Afrika-perdesiekte word deur bytende insekte oorgedra en ՚n tekort aan entstof maak dit moeiliker om te beheer. (Bron: Pixabay)
- Voorkoming is beter as nasorg en diere moet beskerm word teen vlieënde en geleedpotige insekte wat siektes kan oordra. (Bron: Pixabay
Bakteriële siektes
Die meeste bakteriële siektes kan deur inenting voorkom word. Wanneer uitbrekings van sponssiekte steeds voorkom met die gebruik van ՚n inenting wat Clostridium chauvoei bevat, moet multi-klostridiale inentings gebruik word. ՚n Tweede inenting moet gegee word wanneer die geïnaktiveerde inenting vir die eerste keer toegedien word. Dit is belangrik om die aanwysings op die verpakking te volg.
Wanneer Cryptosporidium/E. Coli-uitbrekings in ՚n gebied voorkom, moet ՚n veearts geraadpleeg word om lam- en kalfverliese te voorkom. Ensoötiese aborsies word veroorsaak deur die bakterie Chlamydophila abortus, wat bydra tot verdwynsiekte, wat verwys na die ‘verdwyning’ van fetusse in skape en bokke wat in aftastings dragtig lyk. Voorkomend kan vervangingsooie met die lewende entstof geënt word voordat hulle by die ram geplaas word. Q-koors word veroorsaak word deur besmetting met die Coxiella burnetiibakterie. Dit kom wêreldwyd en al meer gereeld in Suid-Afrika voor. ՚n Vlaag aborsies onder skape kan ՚n aanduiding daarvan wees. As ՚n soönose hou dit ook gevaar vir mense in. Bloednier (Clostridium perfringens tipe D – epsilon toxin) veroorsaak die meeste vrektes onder skape. Verskeie faktore kan tot bloednier lei, soos die dermkanaal wat ophou werk weens ՚n skielike verandering in dieet.
Dit kan gebeur wanneer:
- verskuiwing na weiding of voergewasse soos lusern, groen koring en groen hawer
- ՚n dieet wat hoog in proteïen is
- oor-inname van konsentrate
- ontwurming en of koksidiose-besmetting
- ՚n skielike verandering in die weer
- weiding n verlepte grasvelde
Behandeling
- Maak seker jou diere is teen gallamsiekte (botulisme) ingeënt, veral wanneer hulle hoendermis gevoer word.
- Maak seker daar is geen karkasse in watertrôe en bale nie.
- Voorkom pika, wat verwys na die neiging om goed te eet wat geen voedingswaarde het nie of selfs skadelik kan wees, deur lekke te voorsien wat fosfor bevat.
Bronverwysings
Ensoötiese aborsie: Aborsies by skape en bokke (2018). Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vra-vir-faffa/Ensootieseaborsie-Aborsies-by-skape-enbokke-20180410
RPO Rooivleis Bulletin Augustus 2023 https://rpobulletin.co.za/?p=4116
Van Rooyen, C. (2021) Let op vir Qkoors. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/Bedrywe/Diere/let-op-vir-qkoors-20210521





