Categories: NewsPublished On: 20th September 2016

Veediewe loop hulle rieme styf in die Vrystaat

By 3 min read
645 words

boeie3

Altesaam elf veediewe is in die Vrystaat aangekeer nadat hulle op heterdaad deur plaaswagte en/of die Polisie betrap is. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is ses verdagtes verlede week in twee voorvalle in die Edenville-distrik aangekeer. In die eerste voorval is drie verdagtes aangekeer terwyl hulle drie skape gesteel het en in die tweede voorval is drie verdagtes aangekeer terwyl hulle besig was om 10 beeste te steel.

Lomon Terreblanche, veiligheidskoördineer van die Edenville Boerevereniging, sê die arrestasies spruit uit goeie samewerking tussen boere en die Polisie. Veediewe teiken die gebied die afgelope paar maande, en die vermoede bestaan dat die aangekeerde verdagtes met meer as een saak verbind kan word.

Die arrestasies het gevolg na die boere wat die gebied gepatrolleer het, die Polisie van verdagte optrede in kennis gestel het. Boere patrolleer die gebied elke nag met sewe voertuie.

In ’n derde voorval is vier verdagtes in die Brandfort-distrik aangekeer terwyl hulle besig was om 43 beeste te steel. Die groep word al lank deur die Valke ondersoek en nadat inligting van beplande aktiwiteite uit die gebied ontvang is, kon die Polisie op hulle toeslaan.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee, sê twee voorvalle waartydens die Polisie vyf verdagtes vir skrootdiefstal in hegtenis geneem het, is ook die naweek aangemeld. Die twee voorvalle het in Deneysville en Oranjeville voorgekom.

“Ons wil graag ons opregte dank uitspreek teenoor die talle boere en Polisiebeamptes wat hulle beste gee om misdadigers aan te keer. Talle Polisiebeamptes doen hulle uiterste bes om veral veediefstal te probeer bekamp. Dit is jammer dat talle van hierdie geesdriftige mense se werk bemoeilik word deur ’n gebrek aan voertuie by Polisiestasies. Ons is bewus van veediefstalbeamptes wat al 22 km per voet afgelê het om by tonele uit te kom,” aldus Tommie.

Die tekort aan voertuie is ’n kwessie wat gereeld met die topbestuur van die Polisie bespreek word.

Interprovinsiale Veediefstalvoorkomingsforum

Tommie het ook die Interprovinsiale Veediefstalvoorkomingsforum bedank vir hulle harde werk om veediefstal tussen die Vrystaat, Gauteng en Noordwes vas te vat. Een van die sake waarop die forum tans fokus, in samewerking met die Polisie, is veediewe wat diere met kapmesse doodmaak en slag. “Hulle kap meestal die beeste se hakskene met pangas af en sny die beeste se boude af,” verduidelik Johan Stadler, voorsitter. Die groep het sedert 29 Julie 2016 al vyf keer toegeslaan op plase in Noordwes en die Vrystaat. Met die laaste twee voorvalle is die groep wel vort sonder van die vleis en hulle slagmesse.

Statistiek

Die lessenaar het die afgelope twee en ’n half maande 43 ernstige voorvalle van veediefstal in die Vrystaat aangeteken. Meer as 190 beeste, 700 skape en 10 perde is tydens dié voorvalle gesteel. Dit wil voorkom of skape die meeste gesteel word, met vier voorvalle van meer as 120 skaap wat per insident gesteel is. In een voorval by Ficksburg aangemeld, is 169 skape gesteel en in twee voorvalle by Brandfort is 126 en 129 skape gesteel. ’n Voorval is ook by Qwa-Qwa aangemeld waar meer as 120 skape gesteel is.

Meer as 25 verdagtes is in verband met nege voorvalle aangekeer deur boere en/of die Polisie. Sowat 120 stuks vee is in nege voorvalle teruggevind.

Oor ’n tydperk van ’n maand is veediefstal ter waarde van R476 000 by sewe Polisiestasies in die Ficksburg Cluster aangemeld, met die Zamdela Cluster (wat Sasolburg insluit) se verliese vir een maand wat R500 000 beloop het. Veediefstalverliese wat in die Trompsburg Cluster oor ’n periode van drie maande aangemeld is, beloop meer as R1-miljoen.

Te midde van die droogte plaas hierdie erge toename in veediefstal verdere ekonomiese druk op landelike ekonomieë, wat op die ou end ook ’n verlies van inkomste vir die staat tot gevolg het.

Vrystaat Landbou vergader binnekort met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en Departement van Justisie om die belangrikheid van swaarder strawwe vir veediewe weer eens te beklemtoon.

Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0