Veediewe brand los op boere en die Polisie

vrystaat-landbou-logo-275×275
Die veediewe wat vroeg Woensdagoggend 16 November op twee boere asook op Polisiebeamptes in die omgewing van Bothasberg naby Kestell in die Oos-Vrystaat losgebrand het, word steeds gesoek. Die een boer het Dinsdagaand ligte in die veld opgemerk terwyl hy na sy vee omgesien het, wat deur ’n jakkals geteister word.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is hy en ’n buurman vroeg Woensdagoggend terug na die veekamp toe, waar hulle die veediewe gevind het. ’n Onbekende aantal mans het glo probeer om van die boer se beeste te steel. Hulle het op die twee boere losgetrek, en die boere het die toneel verlaat en die Polisie ontbied.
Die veediewe het ook op die Polisiebeamptes geskiet, en die Polisie se Tegniese Reaksie Taakspan is ook ontbied. Die verdagtes het vermoedelik oor die Lesothogrens gevlug, en geen vee is gesteel nie. Die boere is van plan om klagtes van poging tot moord te lê.
Wees uiters versigtig
Vrystaat Landbou (VL) en die lessenaar wil boere maan om, veral met die naderende feestyd, uiters versigtig te wees op hulle plase. “Ons rig ‘n spesiale versoek aan ons boere om oor die algemeen op hulle eie veiligheid te fokus, veral ook in die feestyd,” aldus Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê dit is die tweede voorval van veeroof wat die afgelope drie maande in die provinsie voorgekom het.
“Ons wil boere aanmoedig om, wanneer hulle op veediewe of so ’n toneel afkom, nie die verdagtes alleen te konfronteer nie. Veerowe is uiters gevaarlik, en die boere moet onmiddellik die plaaslike veiligheid struktuur aktiveer en die Polisie ontbied.”
Tommie sê hulle is bekommerd oor dié voorvalle, en het in Augustus die jaar reeds die Polisie se hoofbestuur gevra dat sake van betreding ernstige aandag moet geniet en dat swaarder strawwe vir betreders moet geld. Sodoende sal sulke voorvalle voorkom kan word. Die komitee en lessenaar dryf ook ’n deurlopende proses met die Polisie en Departement van Justisie in verband met vervolging van verdagtes en swaarder strawwe vir veediefstal.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar