Varkpes: Hou varke op hok!

vark 8
Afrika-varkpes is endemies in sekere gedefinieerde AVP-gebiede van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal waar wilde varkspesies soos vlakvarke en bosvarke en ‘n sagte bosluis voorkom wat dit onmoontlik maak om die siekte te beheer. (Bron: Pixabay)
Afrika-varkpes (AVP) dool voort in al die provinsies van die land en nuwe uitbrekings kom steeds voor. Dit kan dalk toegeskryf word aan traak-my-nie-agtige kleinskaalse varkboere wat laks is om sekerheidsmaatreëls toe te pas. Al word die siekte nie na mense oorgedra nie, bedreig dit die ganse varkvleisbedryf en dus voedselsekerheid.
Volgens ‘n verklaring deur dr Mpho Maja, direkteur van die Departement van Dieregesondheid, is daar op die oomblik vier nuwe oop uitbrekings. Een nuwe uitbreking is gedurende Mei in die Oos-Kaap, drie in Gauteng, en nog een in die Vrystaat aangemeld. Een hiervan is in Mei deur die Wêreldorganisasie vir Diergesondheid (WOAH) in Mei gesluit.
In KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, of in die Noord- en Wes-Kaap sedert 31 April voorgekom nie. Daar is wel talle voorvalle wat steeds voortsleep en nog nie deur WOAH gesluit is nie.
In al die nuwe uitbrekings is die Afrika-varkpesvirus wat die siekte veroorsaak positief deur die LNR-Onderstepoort Veeartsenykunde-navorsing se Oorgrenslaboratorium vir dieresiektes identifiseer.

Voortslepende uitbrekings van Afrika-varkpes kan moontlik toegeskryf word aan kleinskaalse varkboere wat nie biosekerheidsmaatreëls toepas nie. (Bron: Pixabay)
Kliniese tekens
Die hoogs aansteeklike, hemoragiese siekte word veroorsaak deur die Asfivirus en Asfarviridae wat uitsluitlik in varke voorkom. Dit is endemies in sekere gedefinieerde AVP-gebiede van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal waar wilde varkspesies soos vlakvarke en bosvarke en ‘n sagte bosluis voorkom wat dit onmoontlik maak om die siekte te beheer.
Kliniese tekens sluit hoë koors, varke wat bly lê en ophou vreet, asook hoes, opgooi, diarree en veral ‘n rooi of pers verkleuring rondom die ore, onder die maag en bloeding uit die snoet of rektum in. Sôe kan aborteer. Die inkubasietydperk is vier tot 19 dae, wat beteken die meeste besmette varke gaan binne daardie tydperk vrek.
Beheermaatreëls
Beheermaatreëls berus op kwarantyn en bewegingsbeheer. Voorkomende biosekerheidsmaatreëls is al manier om die besmetting van gesonde varkpopulasies te voorkom.
Basiese maatreëls sluit in:
- Koop net varke wat direk van gesonde kuddes afkomstig is en nie by ‘n ander onveilige bron nie.
- Pas toegangsbeheer toe – slegs die eienaar, sy werkers en gesondheidsbeamptes moet op die eiendom toegelaat word.
- Die virus word deur voertuie wat varke en kosreste vervoer versprei. Hou die voertuie en bestuurders weg van die varkhokke. Die voertuie moet voor en na die aflewering met geregistreerde middels ontsmet word.
- Was hande en trek skoon klere en skoene aan wat nie met besmette varke in aanraking was nie.
- Die varke moet veilige voer kry, want afvalkos wat rou en besmette varkvleis of -produkte bevat kan die virus versprei.
Varkboere word deurlopend herinner aan die noodsaaklikheid van biosekerheidsmaatreëls, maar die boodskap val dikwels op dowe ore, veral in informele woonbuurte waar varke in die agterplaas aangehou en oorskietkos gevoer word.
Varkboere word versoek om eerder vrylopende varke op hok te hou of ten minste die erf toe te span. Dit gebeur selde en varke beweeg vrylik tussen die onomheinde erwe en langs toegangspaaie in hierdie buurte.

Kliniese tekens van Afrika-varkpes sluit hoë koors, lustelose varke sonder eetlus, hoes, opgooi, diarree en veral ‘n rooi of pers verkleuring rondom die ore, onder die maag en bloeding uit die snoet of rektum in; sôe kan aborteer. (Bron: Pixabay)
Monitering
Volgens dr Maja word die voorkoms van varkpes voortdurend gemoniteer. “Die beweging van varke vanaf besmette eiendomme en gebiede voor en na diagnose word nagespeur en enige moontlike uitbrekings word ondersoek. As enige kliniese tekens voorkom word monsters geneem om die diagnose te bevestig.
Op grond van die bewegingsgeskiedenis en kliniese tekens en/of nadoodse bevindinge, word die eiendom onder kwarantyn geplaas terwyl vir die uitslag gewag word. Naas kwarantyn word alle beweging van die varke op die besmette eiendom verbied.
Entstof
Die LNR is saam met internasionale instansies besig om te werk aan die ontwikkeling van ‘n veilige en doeltreffende entstof.
Eksperimentele entstowwe wat ‘n gemodifiseerde vorm van AVP gebruik, kan nie varke teen infeksie beskerm nie omdat dit die immuunstelsel teiken, wat voorkom dat varke immuniteit ontwikkel. Entstowwe wat elders in die wêreld evalueer word sal ook nie noodwendig in Afrika Suid van die Sahara suksesvol wees nie omdat die variante verskil.
Volgens Marzanne Roets, nasionale koördineerder van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF), is enstof teen varkpes breedvoerig bespreek by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) se onlangse algemene sessie. “Die vervaardiging van hierdie enstof word nog deur WOAH se tegniese span ondersoek,” sê sy.

Varkboere word versoek om eerder vrylopende varke op hok te hou of ten minste die erf toe te span. (Bron: Pixabay)
Bronverwysings
De Villiers, d P. (2021) SAVR doen ernstige stappe teen varkpes. Maroela Media.
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/savr-doen-ernstige-stappe-teen-varkpes/
Muller, C. (2021) AVP: ‘n Pes wat vinnig sy voelers uitsteek. Plaas Media
https://agriorbit.com/avp-n-pes-wat-vinnig-sy-voelers-uitsteek/
Njau, E P, Machuka, E M, Cleaveland, S, Shirima, G M, Kusiluka, LJ, Okoth, E A, Pelle, R. (2021) (African Swine Fever Virus (ASFV): Biology, Genomics and Genotypes Circulating in Sub-Saharan Africa
PMID: 34835091 PMCID: PMC8623397 DOI: 10.3390/v13112285
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/34835091/
Zhang, H, Zhao, S, Qin, Z, Shan, H, Cai, X. (2023) Vaccines for African swine fever: Update. Front Microbiol. 2023; 14: 1139494.
Doi: 10.3389/fmicb.2023.1139494 PMCID: PMC10173882 PMID: 37180260