Valtrac spog met die nuwe Jumil Global by NAMPO

DSC_0057
Presisieboerdery verg dat die boer elke deel van sy boerdery produktief moet maak. Elke onnodige uitgawe moet gesny word, elke werktuig moet optimaal en doeltreffend benut word en nuwe toerusting wat aangeskaf word moet die boerdery verbeter. Dit is ՚n uitdaging, maar dit word aansienlik makliker gemaak wanneer jou meganisasievennoot die vereistes verstaan.
By NAMPO Oesdag 2023 het Valtrac, die verspreider van Jumil-werktuie in Suid-Afrika, weer gewys dat hulle werklik die Suid-Afrikaanse boer verstaan met die bekendstelling van die splinternuwe Jumil Global-geenbewerkingsplanter.

Die Global-planter het ՚n modulêre ontwerp wat beteken dit kan maklik wyer of smaller gemaak word. Jy draai net doodeenvoudig die boute los en skuif of verwyder die planterkarretjies.
Jumil, ՚n Brasiliaanse vervaardiger, streef daarna om boerderye se produktiwiteit te verhoog deur presisietegnologie. Hulle luister na die boer se uitdagings en lewer ՚n doeltreffende werktuig wat ՚n aanwins is vir die boer in sy omstandighede. Die nuwe Jumil Global-planter is spesiaal vir Suid-Afrikaanse omstandighede ontwikkel.
“Die mense van Brasilië het verlede jaar hier kom rondkyk en toe ՚n planter ontwerp wat hulle gevoel het die beste hier sal aard,” veruidelik Devin Dedwith, Valtrac se tegniese direkteur. “Wat hierdie planter anders maak, is dat die karretjie dieselfde is as wat vir die Jumil 3090 gebruik word, maar daar is ook ՚n paar toevoegings en die struktuur is effens kleiner en ligter.”
Die Jumil Global is nommerpas vir Suid-Afrika
Om die planter ligter te maak is die raam en die kunsmisbakke kleiner. ՚n Ligter struktuur beteken minder krag word benodig om die planter te sleep en dus gebruik die trekker minder brandstof. Die ligter struktuur sak ook nie te diep in sagte grond in nie. Die planter is dus geskik vir bewerkte of sagter grond en onbewerkte of harder grond.
Die saad word met lugdruk geplaas wat presisie verseker en grondkontak verbeter.
Die planter se karretjies is modulêr. Dit beteken dat die wiele en karretjies geskuif kan word met spasiëring vanaf 760 tot 915 mm.

Die Jumil Global-planter gebruik lugdruk om die saadkorrel in die grond te plaas. Om die saadbuis skoon te maak, kan die saadbak opgelig word deur die blink gespe los te maak.
“Alles word aanmekaar geheg met boute. Die voordeel hiervan is dat die wydte van jou planter en rye verander kan word na behoefte. As jy dit byvoorbeeld van ՚n 6-ry 91 cm na ՚n 8-ry 76 cm wil verander, voeg jy twee karretjies by en skuif hulle nader aan mekaar,” vertel Devin. “Jy kan dit selfs verstel om ongewone rywydtes te plant as dit is wat jy soek. Al wat jy doen is om die boute los te maak en die karretjie te skuif. Jy kan modules byvoeg of wegvat.”
Die kleinste planter wat beskikbaar is, is die 6-ry model, maar dit kan tot en met 12 rye aangelas word.
Boonop het elke Global-planter die verskillende moniteringstelsels wat Jumil self vervaardig. Een van hierdie is die FertiSystem wat in alle Jumil-planters beskikbaar is. “Hierdie stelsel is ontwerp om seker te maak dat kunsmis egalig uitgemeet word,” sê Devin.
Die planter kan opgradeer word na vol-presisie elektriese saaduitmeting.
Jumil se nuwe-tegnologie planters is toegerus met hulle eie satellietposisioneringstelsels wat op grond van presisiekaarte saadplasing kan aanpas. Al die inligting word op ՚n beheerskerm in die kajuit vertoon.
Elke boer wat plant, hetsy mielies, bone en selfs sorghum, kan net wen met so ՚n presisieplanter.
Doeltreffend en maklik om te gebruik
Een van die uitstaande kenmerke van die Jumil Global is dat die saadbak met een vinnige beweging losgehaak en opgelig kan word om toegang tot die saadbuis te gee sodat dit maklik skoongemaak kan word.

Die 1,6-meter hoogte van die ontwerp maak die planter ligter en maliker om vol saad te maak.
Met ander planters is dit moeilik om verstoppings te verwyder omdat toegang beperk is.
Alle onderdele is ook algemeen beskikbaar, omdat dit soortgelyk aan sy voorloper, die Jumil 3090, is.
Ander spesiale kenmerke sluit in dat die wiele so geplaas is dat dit die stabiliteit van elke karretjie oor ongelyke grond verbeter.
Die 1,6-meter hoogte van die saadbakke vergemaklik die volmaakproses.
Trappies op na die raam verseker ook dat die werker of boer wat die bak volmaak, gemaklik – en veilig – die bak kan bereik.
Spesiale aanbod!
- Die trekker is ՚n BH 154 Valtra – 114 kW met vier silinders.
- Die planter is ՚n Jumil 3070 6-ry planter.
- Die Kuhn-spuit is ՚n 3 000-liter Eco Ranger met ՚n 25-meter balk en seksiebeheer. Dit sluit ook die Timble GFX750 ISOBUS-stelsel en TeeJet-spuitpunte in.
Die aanbieding is beskikbaar solank voorraad hou teen R3-miljoen (BTW uitgesluit).
Vir meer inligting oor die Jumilreeks van Valtrac, kontak Attie de Villiers by 083-261-9863 of 056-817-8006, of stuur ‘n epos na attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook die webwerf www.valtrac.co.za.