Categories: NuusPublished On: 7th July 2026

Val Boeredag: Waar die toekoms van landbou in aksie ontvou

By 3 min read
662 words

Val Boeredag 1

Met 230 uitstallers, 5 950 besoekers en honderde demonstrasies het die 29ste Val Boeredag weereens bewys waarom dit een van Suid-Afrika se voorste landbougeleenthede is.

Daar is min geleenthede op die Suid-Afrikaanse landboukalender wat dieselfde opgewondenheid en praktiese waarde bied as Val Boeredag. Jaar ná jaar stroom boere van regoor die land na hier geleentheid om nie net die nuutste landboutegnologie te sien nie, maar dit ook eerstehands in aksie te beleef.

Vanjaar was geen uitsondering nie. Met 230 uitstallers, sowat 6 000 besoekers en ’n terrein wat van vroegoggend af gewemel het van gesprekke, masjinerie en die kenmerkende gees van die landbougemeenskap, het die geleentheid weer sy plek as een van Suid-Afrika se voorste landbou-boeredae bevestig.

Vanjaar was besonder betekenisvol, aangesien Val Boeredag sy 31ste bestaansjaar gevier het sowel as die 29ste aanbieding van hierdie besondere Boeredag. Die geleentheid het oor die jare gegroei tot ’n instelling waar boere, vervaardigers en landboukundiges jaarliks ontmoet om kennis te deel, verhoudings te bou en die nuutste tegnologie te ervaar.

Boeredag geskoei op praktiese benadering

Vir boere is daar eenvoudig geen beter manier om ’n aankoopbesluit te neem as om toerusting onder werklike werksomstandighede te sien presteer nie. ’n Brosjure of video vertel slegs ’n deel van die verhaal, maar wanneer ’n trekker, implement of planter deur die land beweeg en sy vermoë bewys, kry ’n boer die vertroue om met sekerheid te belê. Dit is juis hierdie praktiese benadering wat Val Boeredag jaar ná jaar so gewild maak.

Die demonstrasieblokke was deurentyd ’n groot trekpleister. Nie minder nie as 12 verskillende trekkervervaardigers en 30 implementvervaardigers het hul toerusting in aksie gewys. Boere kon ’n indrukwekkende verskeidenheid trekkers, grondbewerkingstoerusting, planters, stropers, spuite, hommeltuie en ander implemente onder werklike veldtoestande sien werk.

Van die grootste name in die landboubedryf het hul staal kom wys. Besoekers kon die nuutste tegnologie en oplossings beleef van Massey Ferguson, Fendt, CLAAS, New Holland, John Deere in samewerking met AFGRI, Smith Power Equipment, Case IH, Lovol en Landini, LEMKEN, Horsch, Falcon, BOK.I, Stark, Arlington Staalwerke, Rula Agri, Agrico, Jupidex en talle ander ondernemings wat die terrein omskep het in ’n ware toonvenster van moderne landbou.

Een van die hoogtepunte wat ook baie belangstelling gelok het, was die demonstrasie van veteraantrekkers. Hierdie ikoniese masjiene het herinneringe laat herleef en hul plek in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse landbou beklemtoon, ’n gepaste huldeblyk aan die meganisasie wat die grondslag gelê het vir die tegnologies gevorderde boerdery van vandag.

Benewens die indrukwekkende demonstrasies het die uitstallingsterrein self gewemel. Altesaam 5 950 besoekers het deur die hekke beweeg om die 230 uitstallers te besoek. Vir die uitstallers was dit ’n uitstekende geleentheid om nuwe produkte bekend te stel, bestaande kliënte te ontmoet en waardevolle gesprekke met potensiële kopers en boere te voer.

Trekkers van verskeie toonaangewende vervaardigers het hul vermoë tydens die demonstrasies gewys en boere die geleentheid gebied om die nuutste tegnologie onder werklike veldtoestande te ervaar.

Die jongste spuittegnologie is in aksie gedemonstreer en het besoekers gewys hoe presisie, doeltreffendheid en optimale toediening hand aan hand gaan.

Gewilde landbougeleentheid gevestig in kosbare verhoudings

Tog gaan Val Boeredag oor veel meer as net masjinerie. Dit is ’n dag waarop die hele landbougemeenskap bymekaarkom. Boere ontmoet ou vriende, deel ervarings, bespreek uitdagings en ontdek saam nuwe oplossings vir die toekoms. Dit is ’n lekker dag vir almal met ’n heerlike atmosfeer, ’n lekker gees, vermaak, uitstallings en verversings, wat die dag ook ’n ware gesinsgeleentheid maak.

Volgens die organiseerders was die terugvoer van uitstallers en besoekers oorweldigend positief. Die lekker winterweer, uitstekende bywoning en gehalte van die demonstrasies het bygedra tot nog ’n suksesvolle aanbieding. Boere het die waarde van die praktiese demonstrasies beklemtoon, terwyl uitstallers tevrede was met die blootstelling en om skouers te skuur met boere.

Met uitstekende bywoning, indrukwekkende demonstrasies en ’n sterk gemeenskapsgees het Val Boeredag weereens bewys waarom dit een van Suid-Afrika se gewildste landbougeleenthede bly.

Dagboek solank die datum vir volgende jaar: Die volgende Val Boeredag vind plaas op Woensdag 7 Julie 2027. Soos tradisie voorskryf, sal die geleentheid weer op die eerste Woensdag van Julie aangebied word, nog ’n dag waarna die landboubedryf en boere met groot verwagting kan uitsien.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0