Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 19th June 2025

‘Unieke’ artisjokke in die Klein-Karoo

By 3 min read
662 words

artisjokke 3

Manlike artisjokplante. (Bron: Verskaf)

Theo en Denielle Landman boer op Vogelsang, die tuiste van Karusa Wyne, in die Kangovallei by Schomans-hoek sowat 12 km buite Oudtshoorn.

Hier aan die voet van die Swartberge boer hulle met wyndruiwe, steenvrugte, olywe, Meatmaster-skape en, les bes, artisjokke.

Theo het op Oudtshoorn grootgeword en nadat hy by Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal matrikuleer het, het hy by Nelson Mandela Universiteit se Saasveld-kampus landbou studeer. Hy het ՚n ruk lank by Ceres/Prince Alfred Hamlet gewerk voordat hy in 2004 Vogelsang toe gekom het. Denielle het aan die Vrystaat Universiteit onderwys studeer. Hulle is tien jaar getroud en het twee dogters Dalét (7) en Taliyah (3).

Vogelsang bestaan uit 140 ha waarvan 35 ha besproeiingsgrond op die oewer van die Grobbelaarsrivier is. “Dit is alles maar spoelgrond wat goed dreineer,” vertel Theo. Die gemiddelde winterreënval is tussen 250 en 400 mm per jaar en die somers is baie warm.

“Ons glo in diversifikasie en boer met ՚n verskeidenheid produkte,” sê Theo. Die produkte is uitvoer- steenvrugte, soos perskes, appelkose en interspesifieke pruime, wyndruiwe waarvan Karusa se lekker wyne gemaak word, rosyne, wat plaaslik bemark word, olyfbome waarvan hulle hulle eie olyfolie pars, en Meatmaster-skape wat aan ՚n plaaslike slaghuis gelewer word. En natuurlik die artisjokke wat vir hulle saad gekweek word.

“Ons het gesoek na ՚n ander vertakking. Ons het al baie van die artisjokke gehoor en dit was vir ons iets uniek. Toe die geleentheid in 2022 oor ons pad kom om artisjokke onder kontrak te verbou, het ons dit aangegryp.”

Artisjokke is ՚n Mediterreense plant wat floreer in ՚n warm klimaat. Die plant benodig goedgedreineerde grond en presteer beter op swaarder gronde. Omdat dit met ՚n risoom groei, is die Klein-Karoo se droër klimaat geskik. Die plante kan oop son hanteer, maar verlang taamlik water in die somermaande wanneer hulle blomstele stoot en die mooi pers blomme dra.

“Ons kweek die artisjokke as meerjarige plante wat tussen drie en vyf jaar produseer, afhangend van hoe gesond die plant is. Op die oomblik is daar sowat twee hektaar.”

Verbouing

Die voorbereiding van die grond is belangrik. “Die grond word diep losgemaak met ՚n skeurploeg en fyngewerk vir ՚n saadbed. Blokke word uitgesit en plantjies word geplant.“

Plantmateriaal kom as weefselkultuur van die buiteland af. Die aanplanting is onder drup-besproeiing wat 400 mm uitmekaar is en 1,2 liter per uur lewer. Stikstof word toegedien, asook taamlik kalium omdat dit ՚n plant is wat blomme dra.

Oestyd

Planttyd is April/Mei en die stuifmeel word einde Oktober geoes. Bestuiwing begin middel-November en die wyfie-blomme word einde Februarie met die hand met ՚n skêr afgesny. Die artisjok is die blom, so die mannetjie-blom word kompos na die stuifmeel geoes is, terwyl die wyfie-blom buiteland toe gaan.

“Ons oes die mannetjie-blomme en hang dit in ՚n saadhok om stuifmeel te stoot,” verduidelik Theo. “Die stuifmeel word met ՚n stofsuiertjie geoes sodat die wyfie-blomme daarmee bestuif kan word.“

Wanneer die wyfie-blomme gereed is word die koppe gesny en gedroog. “Dit is arbeidsintensief. Ons het ses seisoenswerkers vir die hele proses, maar dit is sewe dae ՚n week. Geen spesifieke opleiding is nodig nie.”
Die gedroogte blomme word gelewer aan Beyer of Nunumis op Worcester waar die saad uit die wyfie-blomme geoes word. “Die saad word verpak en na die buiteland verskeep. Die plantmateriaal bly die maatskappy (Nunumis en Beyer) se eiendom.

Volgens Theo is die grootste uitdagings die wisselende weerpatrone en natuurlik pes-, siekte- en onkruidbeheer, want al lyk artisjokke op die oog af gehard, is die plant maar baie blootgestel aan die grille van die natuur.
Die onkruid word tot op ՚n punt chemies beheer en daarna met die hand verwyder. Peste soos plantluise en rooispinnekop, en siektes soos botritis en witroes word met ՚n chemiese spuitprogram beheer.

Kontak Theo Landman by 083-950-8332 of besoek die webtuiste by www.vogelsangboerdery.co.za

Bronverwysings

Globe Artichoke Production Guideline Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development
https://www.dalrrd.gov.za/phocadownloadpap/Brochures_and_Production_Guidelines/Brochure%20Globe%20artichoke.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0