Trekkerverkope is 12% hoër vanjaar

trekker
Trekkerverkope van 569 eenhede in Junie is byna 19% meer as die 479 eenhede wat verlede Junie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope vir die eerste vyf maande van die jaar byna 12% hoër as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar.
Stroperverkope van 25 eenhede in Junie is vyf eenhede meer as die 20 eenhede wat verlede Junie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou byna 5% laer as verkope verlede jaar.
Trekkerverkope bly baie lewendig in ʼn mark wat selfs mededingender geword het. Algehele oesvooruitsigte lyk goed met die grootste sojaboonoes ooit, van meer as 1,5 miljoen ton, wat nou verwag word. Die mielie-oes wat vervroeg is weens die onlangse baie koue weer, gaan onverpoosd voort. Die jongste raming vir die mielie-oes is hoër aangepas tot meer as 13 miljoen ton. Ongeag die swakker waarde van die rand, bly oespryse bedruk en dit beïnvloed baie boere se kontantvloei.
Met die hoër vlakke van trekkerverkope oor die afgelope maande, is ramings aangepas tot ʼn vlak van tussen 6 500 tot 6 750 eenhede vir die jaar. Dit is marginaal meer as verkope in 2017.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie