Tekort aan strategiese entstowwe veroorsaak ramptoestand in Rooivleisbedryf
“Die tekort aan strategiese entstowwe in die vee- en dierebedrywe het nou ‘n
ramptoestand in die rooivleisbedryf veroorsaak.”
“Kommersiële en opkomende produsente ly nou ernstige verliese weens bloutong
uitbrekings wat tot 50% mortaliteite onder kuddes veroorsaak en Afrika perdesiekte maai
onder perde en donkies wat ‘n ondersteunende rol speel in die produksieproses van
rooivleis,” sê die Voorsitter van die nasionale RPO, James Faber.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het gewaarsku en voorspel dat dit sou
gebeur weens die tekort aan voorsiening van sekere entstowwe wat slegs deur
Onderstepoort Biologiese produkte (OBP) geproduseer word.
“Dit is tragies dat dit voorkom kon word indien die voorgestelde haalbare aksiestappe
deur die owerheid geneem was. Ons voel die owerheid het die bedryf in die steek gelaat”,
aldus mnr Faber.
Dit is ironies dat die bedryf nou maatreëls en strategieë implementeer hoe om sonder die
entstowwe te produseer. Ten spyte van die RPO se advies daarteen, wend sommige
produsente hulle nou tot die gebruik van onwettige ongeregistreede entstowwe wat groot
risiko’s inhou.
Die RPO ondersteun die aksies van die nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF) en is
ook lid van die NDGF. Die RPO was deel van die NDGF se aksies wat insluit ‘n ope
gesprek met die Agbare Minister van Landbou op 30 Maart 2023. Tydens die vergadering
is ’n sub-komitee aangestel om spoedeisend voorstelle te maak wat die Minister moes
adviseer en die Minister het ’n sperdatum van 28 April hiervoor gestel. Op navraag aan
die NDGF het die komitee nie vergader nie ten spyte van verskeie navrae vanaf die
NDGF.
Die gebrek aan dringendheid deur die owerheid is uiters frustrerend vir die RPO.
Die traagheid om die nodige voorgestelde regstellende aksies te neem ondermyn die
doelstellings van die AAMP (Agriculture Agro-processing Master Plan) en het ernstige
dierewelsynimplikasies en hou ook risiko’s in vir menslike gesondheid.
Die NDGF het namens die vee- en dierebedrywe al by verskeie geleenthede die
behoeftestelling vir entstowwe gedoen en oplossings voorgestel wat onder andere
insluit:
- Entstowwe moet deur meer as een diensverskaffer geproduseer word ten einde risiko te verdiskonteer en mededingendheid te verseker;
- Kapasiteit by die kantoor van die Registrateur van Wet 36 moet verhoog word om registrasie-aansoeke vinniger te prosesseer. Dieselfde beginsels geld vir Wet 35 aansoeke.
- Sekere entstowwe kan met behulp van die privaatsektor geproduseer word of onder ‘n lisensie geproduseer word namens OBP.
Die RPO versoek dringend dat die oplossings nou deur die owerheid afgekondig en
geïmplementeer moet word binne spoedeisende tydslyne. “Alhoewel dit reeds te laat is, moet alles moontlik gedoen word om nasionale pandemies te verhoed” aldus mnr. Faber.
Die RPO wil dit op rekord stel dat in belang van voedselsekuriteit, armoedeverligting, implementering van die AAMP, menslike gesondheid, uitvoerstrategieë en dierewelsyn, meer drastiese stappe geneem sal word indien nodig, om te verseker dat die entstof kwessie spoedeisend opgelos word.
Die RPO wil dit op rekord stel dat in belang van voedselsekuriteit, armoedeverligting, implementering van die AAMP, menslike gesondheid, uitvoerstrategieë en dierewelsyn, meer drastiese stappe geneem sal word indien nodig, om te verseker dat die entstof kwessie spoedeisend opgelos word.
Bron: RPO