Tegnuus: Die jongste in landboutegnologie van regoor die wêreld

Picture3
DeLaval dis voer op met robot

DeLaval het sy reeks robotte uitgebrei met ՚n outonome voerverspreidingsrobot – Optiwagon. Voer is een van die grootste uitgawes op ՚n melkplaas en boonop die mees arbeidsintensiewe bedrywigheid na melk. DeLaval stel nou hulle nuwe robot bekend as ՚n module in hulle volledig geoutomatiseerde voeroplossing – DeLaval Optimat™.
Hierdie volledige voeroplossing sluit alles in vanaf weeg, kerf en meng tot die opdis van die voer aan die beeste. Dit sal binnekort aan boere in Europa beskikbaar gestel word.
Die jongste robot is ontwerp as ՚n module vir gebruik saam met die vervaardiger se Optimat vasstaande outomatiese voerstelsel. Dit meng die bestanddele, wat dan na die OptiWagon se pens oorgeplaas word om dit aan die diere te gaan opdien.
Ludo Bols, voerstelselspesialis by DeLaval, sê: “Die nuwe voerverspreidingsrobot optimaliseer die omskakeling van ruvoer na melk. Die vermoë om dit doeltreffend te doen is ՚n groot voordeel op ՚n melkplaas. Die inskakeling van die OptiWagon as deel van die Optimat-stelsel bied die boer ՚n doeltreffende en aanpasbare voerstelsel wat help om waardevolle tyd te bespaar en energiekoste op die plaas te beperk.”
DeLaval hou by hulle konsep om afsonderlike spesialistoerusting te hê vir kerf en voer en vir opdiening. “Op hierdie manier verskaf ons die allerbeste toerusting om elke taak op die beste moontlike manier af te handel,” sê Ludo.
Die mengresepte en bedieningsroetes word met DeLaval se Delpro-plaasbestuurstelsel opgestel en aangepas en dan voorsien die OptiWagon twaalf keer per dag verskillende voermengsels aan verskeie dieregroepe.
DeLaval sê die Optimat-stelsel werk al op meer as 600 plase, hoofsaaklik in Europa. Dié eenvoudige, doeltreffende stelsel is geskik vir 120 tot 130 koeie. Die Master-weergawe is ’n ten volle outomatiese voeroplossing vir melkkuddes van tot 1 000 diere. (Bron: DeLaval.com)
Hoë eerbetoon vir Valtra se “Beast”
Valtra vier nog ՚n onderskeiding deurdat hulle Q-reeks “Beast” die gesogte Red Dot-toekenning vir Produkontwerp losgeslaan het. Hierdie aankondiging kom in minder as ses maande nadat Valtra se jongste trekker, die Q-reeks, vrygestel is. Die nuwe reeks pas netjies in die hoërperdekragsegment.
Die Q-reeks is in September 2022 geloods en het gou aandag in die bedryf getrek deur November verlede jaar die Plaasmasjineriejurietoekenning 2023 by die SIMA-skou in Partys te wen. Die jurie het die Q-reeks aangeprys vir sy toespitsing op die behoeftes van landboukontrakteurs.
Teen 171 tot 227,5 kW (230 tot 305 perdekrag) vul die Q-reeks die gaping tussen Valtra se T-reeks en S-reeks. Klante is veral ingenome met die Q-reeks se gladde ratoorskakeling, ratse bestuurbaarheid en goeie uitsig vir so ՚n hoëperdekragtrekker. Die sorgsame en slim ontwerp van die Q-reeks het al hierdie eienskappe moontlik gemaak.
Die hoof van die Nywerheidsontwerp- en Gebruikerservaringdepartement, Kimmo Wihinin, verduidelik dat die beste trekkerervaring van luister na die klant kom: “Klante het gevra vir ՚n groter T-reeks. Ons het ՚n totaal nuwe trekker gebied. Groot plase en landboukontrakteurs benodig ՚n doeltreffende hoëperdekragtrekker, maar met ratsheid en ՚n goeie uitsig. Alles, vanaf maklike toegang via die aluminiumtrap, die nuwe, sterk werksligte, kajuitgerief, ten volle geïntegreerde tegnologie via die SmartTouch-gebruikerskoppelvlak, spruit uit gebruikersversoeke. Alles is ontwerp om die Q-reeks ՚n gerieflike en goed-toegeruste trekker te maak. Dit is die beste trekker wat ons ooit hier in Sualahti in Finland ontwerp en gebou het. Ons is baie bly dat die Q-reeks Valtra se geskiedenis van die verowering van Red Dot-ontwerptoekennings voortsit.
Valtra se vorige suksesse met die verowering van Red Dot-toekennings sluit in ՚n toekenning vir die T-reeks in 2016, ՚n Eerbare Vermelding vir die N-reeks in 2017, ՚n wentoekenning vir die A-reeks in 2018, vir die G-reeks in 2021 en, meer onlangs, ՚n Red Dot-toekenning vir die N-reeks in 2022.
Valtra se Q-reeks sal binnekort deur Europa toer as deel van Valtra se SmartTour 2023. (Bron: world-agritech.com)
Outomatiese herlaaistasie vir hommels

Die Skydock outomatiese batterywisselstelsel vir hommeltuie is in Suid-Afrika ontwikkel
Hommeltuie kan baie nuttige hulpmiddels vir plaasbeveiliging en oesbeskerming wees, maar kort werktye as gevolg van beperkte batterykrag is problematies. Dock-One is Skydock Systems se outomatiese hommeltuigbattery-omruiling en sendingbeplanningsoplossing vir DJI Mavic; met ander hommeltuie wat binnekort sal volg.
Dock-one is ‘n bekostigbare hommeltuigbattery-ruilstasie wat in Suid-Afrika ontwikkel is vir die plaaslike en internasionale mark.
Dit laat jou toe om outomaties dag en nag hommeltuigsendings te vlieg. Die dokstasie is deur Roelf Diedericks en Wikus Combrinck ontwerp tydens Covid, toe ‘n familieplaas naby Mabalingwe-wildreservaat in die noorde van Suid-Afrika deur ‘n vlaag nagtelike inbrake geteister is. Patrollies deur die reservaat met behulp van ‘n termiese hommeltuig, het tot verskeie arrestasies gelei en het gedien as ‘n afskrikmiddel vir voornemende misdadigers. Insidente is met 99% verminder.
Die uitdaging van opgeleide personeel wat nodig is vir die hantering van die hommeltuie en voortdurende batterywisseling word deur die DockOne-dokstasie opgelos.
Gekoppel met die DJI Mavic 2 Enterprise-hommeltuig, laat DockOne jou toe om outomaties dag en nag te patrolleer. Deur die hommeltuig se bykomstighede soos die kollig of luidspreker te gebruik, kan skelmstreke gestuit word.
Hommeltuie wat vir oesmonitering en beskerming in boorde gebruik word, sal ook onophoudelik met hulle werk kan voortgaan. Deur die SkyDock/Flight Now-stelsel te gebruik, kan jy outomatiese sendings skep en die hommeltuig dophou oor die internet.
Die DockOne-oplossing bestaan uit drie komponente: Die DockOne-dokstasie, FlightNow-sendingsbeplanning en afstandbeheersagteware, en die DJI Mavic 2 Enterprise-hommeltuig.

DockOne vinnige inligting
- Vinnige batterywissel-dokstasie.
- 5 batterye altyd op laai.
- Weerbestande, poeierbestrykte omhulsel van staal.
- Ingeboude kamera vir afstandmonitering.
- Eksterne LUD-landingslig.
- 2 x 12 V-rugsteunbatterye vir veilige landing in kragonderbrekingsituasies.
- Outomatiese presisielanding.
- Dubbele, uitgebreide reeks hommeltuig-antennas (tot 10 km).
- Ingeboude 4G/LTE-, WiFi- of Ethernet-internettoegang.
- Afstandbeheerpaneel.
- Afmetings (H x B x W): 690 mm x 970 mm x 920 mm
- Gewig: 70 kg
SkyDock Systems is ‘n afdeling van ByteHeavy Industries (Edms) Bpk, ‘n Suid-Afrikaanse sagteware- en robotika-ingenieursfirma. Vir meer inligting, besoek https://skydock.systems/dock-one/.
Plaasbestuur deur digitale tweelingbeelde

Boere kan nou hulle plase van ՚n afstand bestuur deur 3D-tegnologie te gebruik.
Die Sweedse nuutskeppingsplatform, Agtech 2030, aangebied deur Linköping Universiteit, het ‘n digitale beheerkamer vir landbou geskep. Dit word die Agtech Dashboard genoem, kortweg AGDA, en sluit ՚n digitale tweelingbeeld van plase in.
Martin Stenmarck van die tegnologiemaatskappy HiQ sê: “Boere het vandag baie stelsels om te bestuur: trekkers, masjiene, melkrobotte en silo’s. Alhoewel ‘n mate van integrasie van die stelsels gedoen is, is daar nog baie meer nodig. Verder ontbreek gebruikersvriendelike koppelvlakke dikwels.”
Inspirasie uit Afrika
Fredrik Gustafsson, professor in sensor-informatika aan die Universiteit van Linköping, sê: “Ons is geïnspireer deur die behoeftes van wildwagters in Kenia. In die Ngulia-projek is nuwe tegnologie ontwikkel vir verhoogde beskerming van renosters. Dit gaan oor digitalisering, elektroniese veldverslae, sensornetwerke en posisioneringstelsels.
‘n Sentrale deel was posisionering en bewegingsontleding in werklike tyd. Ons het dit nou oorgedra en aangepas by die Sweedse landboukonteks.”
Die span het gevorderde funksies in die model getoets, byvoorbeeld kaarte waar jy presies kan sien waar elke koei die afgelope 24 uur beweeg het.
Digitale 3D-modelle
Die span het ook digitale tweelingbeelde geskep. Die idee is dat die boer die hele plaas as ‘n interaktiewe 3D-model moet kan opstel.
Die model sal ‘n boer in staat stel om ‘n goeie oorsig van sy plaas te kry en hy kan die werk makliker saam met sy span beplan. Die inligting is visueel en maklik om te absorbeer, jy kan dit selfs deur VR-bril beskou.
Mikael Pettersson, plaasbestuurder by Rotenberg Manor en deel van die span agter AGDA, sê: “Die 3D-model bestaan uit twee modelle, een oorsig wat die lande insluit en een wat op die plaasgeboue fokus. Hierdeur kan jy vinnig en duidelik wys na iets wat jy wil bespreek, byvoorbeeld watter sonpanele reggemaak moet word. Dit sal maklik wees om die werk te beplan en take te koördineer.”
Baie foto’s en video’s
Oscar Hoffmann van Linköping Universiteit, wat die 3D-model geskep het, verduidelik: “Die model is gegrond op ongeveer 4 000 stilbeelde wat met hommeltuie gefotografeer is, asook beelde van die grond af met ’n handkamera om besonderhede vas te vang. Die samestelling van die beelde in ‘n 3D-model word fotogrammetrie genoem. Die 3D-modelle het ook fokuspunte. As jy daarop kliek, word foto’s en in sommige gevalle video’s intyds vertoon.
“Hierdie konsep gee ‘n voorsmakie van hoe toekomstige plaasbestuur moontlik sal wees,” sluit Per Frankelius, skeppingsleier in Agtech 2030 af. (world-agritech.com)