Categories: NuusPublished On: 5th May 2020

Taakspan gaan volstoom voort om voedsel te versprei

By 3 min read
678 words

Foto 1

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, en Morné Mostert, hoof van plaaslike regering saam met Gellie Geldenhuys en Attie den Houden van die Emily Hobhouse Tehuis in Capital Park. Die burgerregteorganisasie het vandag sowat tien ton nartjies in Pretoria versprei.

Die taakspan wat deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek gestig is, het vandag meer as tien ton sitrusprodukte by 20 tehuise in die Pretoria-omgewing afgelewer, ten spyte van pogings deur die regering om die verspreiding van voedsel te sentraliseer. Solidariteit Helpende Hand het ook ’n verdere tien ton sitrus direk na Benoni gestuur vir verspreiding.

Hierdie inisiatief behels dat voedsel en noodsaaklike items aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos onder meer kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe regoor die land versprei gaan word, veral in die huidige moeilike omstandighede waarin verskeie gemeenskappe hulself bevind.

AfriForum is verantwoordelik om in samewerking met Saai verspreiding op grondvlak vanuit die Josef Silo’s en ander instansies se afsetpunte te behartig sodat die items – wat  byvoorbeeld deur Solidariteit Helpende Hand verpak en voorberei word – so gou as moontlik by behoeftiges uitkom. Familieboere kan voedsel en ander skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s of ander afsetpunte aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikroverspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sal die burgerregteorganisasie voortgaan met die verspreiding van voedsel aan mense in die gemeenskap wat dit nodig het. “Volgens AfriForum is daar geen regsbasis vir pogings deur die owerheid om die verspreiding van voedsel onder regeringsbeheer te sentraliseer nie. Die burgerlike samelewing het ’n rol om te speel in hierdie noodsituasie en ons sal voortgaan met die uitvoering van hierdie rol, ongeag mense wat die verspreiding van voedsel wederregtelik wil sentraliseer.”

Petrus Coetzee van AfriForum

“Saai se posisie is duidelik ten opsigte van die regulering van skenkings: ons gaan nie toelaat dat die skenkings wat boere aan ons toevertrou om aan die mees kwesbare mense te versprei, deur die regering gereguleer word nie. Daarom is Saai deel van hierdie inisiatief in samewerking met AfriForum en Solidariteit Helpende Hand,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Solidariteit Helpende Hand het reeds ons regspan opdrag gegee om die wetlikheid van hierdie regulasies te ondersoek. Ons hoor uit alle oorde dat ons mense regtig swaar trek gedurende die staat van inperking – daar is baie onsekerheid en mense verloor hoop. Mense is onseker op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak. Dit is nodig om in hierdie tye van nood mekaar moed in te praat en opreg dankbaarheid te toon teenoor donateurs, vrywilligers en vir alle skenkings.

Ian Cameron van AfriForum

Die skenking vandag wys net weer dat ons saam sterker is en dat mense steeds in staat is om hoop te skep in tye van onsekerheid. Helpende Hand is elke dag opnuut dankbaar vir die samewerking en verspreidingsnetwerk tussen Helpende Hand, AfriForum, Saai en Solidariteit. Ons leuse van “Met hart, in krag, tot hoop” wat ons drie jaar voor COVID-19 geskep het, dra nou soveel meer betekenis,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Die uitdeel van sitrusprodukte skakel ook in by AfriForum se immuniteit-inisiatief, om gesondheid binne gemeenskappe te bevorder.

Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Rekeninghouer: Solidariteit Helpende Hand

Bank: FNB

Rekeningnommer: 62 331 445 503

Tak: Centurion (takkode: 250 655)

Verwysing: Korona

Swift-kode: FIRN ZA JJ

Besoek www.helpendehand.co.za en klik op die skakel vir maatskaplike hulp om aansoek te doen vir hulp.

Die regering het dit onwettig gemaak vir wit mense om ‘n kleiner onderneming te besit. Die regering beveel almal om hul deure te sluit, maar befonds dan slegs dié wat aan hul rassevereistes voldoen. Solidariteit het reeds na die Konstitusionele Hof geappelleer om te verseker dat geregtigheid bo blatante rassediskriminasie seëvier. Solidariteit is ook op pad om die Suid-Afrikaanse regering by die hoogste owerhede ter wêreld te gaan aankla. Hulle gaan ‘n klagte by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (CERD) aanhangig maak. Die hele wêreld moet weet.

Voeg jou naam by die VN-Massaklag:

https://corona.org.za/massaklag/

Bron: AfriForum, SAAI, Solidariteit Helpende Hand

0

Deel hierdie artikel.

2 Comments

  1. Elsabe le Roux 8th May 2020 at 12:53 - Reply

    Dankie vir alles wat julle doen. Bowenal is dit hartsverblydend dat die rassedidskriminasie verder gevoer gaan word omdat hier op dooie ore van hierdie regering val. Ek het in elk geval my hele respek (die biejtie wat ek nog gehad het) verloor. Ek vertrou hulle net nie meer nie.
    Baie dankie nogmaals en sterkte aan elkeen wat soveel bydrae.
    Elsabe le Roux

  2. David Peddle 5th May 2020 at 14:36 - Reply

    Well done! Quite correct.

Leave A Comment

0