Categories: NuusPublished On: 9th February 2021

Swaar reënval kan steeds voorkom in Maart/April

By 6 min read
1282 words

20210124_112034

Foto: Vanderkloofdam

Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS) , Santam Landbou

Baie swaar reënnneerslae is gemeet oor die sentrale tot oostelike dele van die land in die tweede deel van Januarie en die eerste week van Februarie. Meer as 100mm per 24 uur periode is op verskeie plekke gemeet en het vloedtoestande veroorsaak. Watervlakke in die Benede Oranje Rivier het tot vlakke gestyg wat laas in 2011 gesien is.

Gebiede wat die meeste geraak is deur die reën is die westelike, suidelike en suidwestelike dele van die Vrystaat en aangrensende dele van die Oos-Kaap in distrikte soos Hoopstad, Wesselsbron, Bloemfontein, Trompsburg, Aliwal Noord en Lady Grey; die sentrale tot oostelike dele van die Noord-Kaap in distrikte soos Kuruman, Kathu, Vaalharts, Daniëlskuil en aangrensende dele van die Noordwes Provinsie soos Vryburg.  Baie swaar neerslae het ook voorgekom oor die noordwestelike en noordelike dele van Limpopo soos Vaalwater en Lephalale. Vloede het ook op plaasvlak voorgekom in die Oos-Vrystaat in gebiede soos Reitz en Frankfort.

Na die droë periode in die eerste deel van Januarie oor gedeeltes van Mpumalanga het swaar reën ook voorgekom in hierdie gebiede as gevolg van die oorblyfselfs van tropiese storm Eloïse teen die einde van Januarie en begin Februarie.       

Baie ernstige droogtetoestande heers steeds in die suidelike-, suidwestelike en noordwestelike dele van die Noord-Kaap in distrikte soos Williston, Van Wyksvlei, Carnavon, Calvinia en Loeriesfontein sowel dele van die westelike Kalahari soos Askham en Noenieput. Esktreme droogtetoestande kom steeds voor in die westelike tot sentrale dele van die Oos-Kaap in distrikte soos Aberdeen, Willowmore, Uniondale, Steytlerville Jansenville, Kirkwoord, Riebeeck Oos en Port Elizabeth. Die grootste deel van die Langkloof tussen George en Kareedouw het ook baie min reën gekry in die laaste paar maande. 

Die somergraanoes het skade gekry in dele van die noordwes- en oos-Vrystaat asook kleiner kolle in ander Provinsies. In teenstelling is daar baie gebiede in Noordwes Provinsie asook Vrystaat en Mpumalanga wat rekordopbrengste verwag. Die verwagte droër toestande vir Februarie sal baie help om opbrengste te stabiliseer of te verhoog in versuipgebiede en die opbrengspotensiaal op te stoot na rekordvlakke waar versuiptoestande nie voorgekom het nie en genoeg bemesting toegedien is.        

Weidingstoestande het baie verbeter in die gebiede waar genoegsame en opvolgreën voorgekom het. Probleme met dieresiektes begin groot afmetings aanneem en gaan verdere probleme veroorsaak in die volgende twee maande met die groot hoeveelhede staande water wat ideaal is vir insekte soos muskiete en muggies om uit te broei en siektes te veroorsaak.

Die vlakke van opgaardamme in die Somerreënvalgeid is baie goed met byna alle groter damme wat oorloop. Die Gariepdam het ‘n vlak van meer as 120% bereik teen die einde van Januarie 2021. Die Tzaneendam het gestyg tot omtrent 50% nadat dit nog in Desember minder as 10% van vol kapasietit was. Watervlakke van die Karibadam is steeds onder 30% met die Katzedam in Lesotho wat vinnig tot meer as 65% van vol volume gestyg het tot in die eerste week van Februarie vanaf ‘n laagtepunt van 26% in Desember 2020. Die Hardapdam in Namibië is ook teen einde Januarie 2021 op 72% vol.

ENSO en Indiese Oseaan

ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)

Al die Nino-gebiede het ‘n styging van ongeveer 0.2°C in see-oppervlaktemperature ervaar sedert die laste week van Januarie 2021 volgens die Australiese Weerburo.  Dit is ‘n aanduiding dat die huidige La Nina-fase besig is om te verswak maar dit sal by La Nina-vlakke bly tot ten minste April 2021.     

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat die maatstaf is van die koppeling tussen see-oppervlaktemperature in die Nino-gebiede en die oorliggende weersisteme bly redelik sterk La Nina-neigend. Die SOI het tans ‘n indekswaarde van +13.95 op ‘n skaal van +30 (baie sterk La Nina) en -30 (baie sterk El Nino). Dit is die hoogste SOI waarde sedert Desember 2011.  

ENSO keer gewoonlik terug na neutrale vlakke vanaf April tot Augustus. Huidige voorspellings gee ‘n redelike waarskynlikheid nan La Nina tot ten minste neutrale vlakke vir 2021/22 met slegs ‘n baie klein waarskynlikheid vir El Nino. Dit is ‘n vroeë aanduiding vir gunstige reënvaltoestande om voort te duur vir 2021/22 vir die Somerreënvalgebied van Suidelike Afrika.         

Indiese Oseaan

Die grootste deel van die Indiese Oseaan het teen die einde van Januarie 2021 koeler as normale see-oppervlaktemperature aangetoon met die uitsondering van ‘n relatief klein gebied van warmer as normale temperature rondom en suidoos van Madagaskar. Die mate van afkoeling van die Indiese Oseaan is uniek gegewe die laaste twee dekades waar dit hoofsaaklik warmer as normaal was.      

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks bly neutraal en voorspellings dui dat dit neutraal of effens negatief gaan wees vir komende maande (koeler as normaal in die westelike Indiese Oseaan).  

Reënval- en klimaatsvooruitsigte

Somerreënvalgebied

Reënval

Die La Nina van 2020/21 reageer redelik “normaal” in terme van reënval met baie swaar reën en vloede oor gedeeltes van die Somerreënvalgebied wat tipies van La Nina-verskynsels is. Daar is egter steeds gebiede wat nie nog nie reën gekry het soos verwag is tydens La Nina-verskynsels nie.    

Korttermynvoorspellings dui ‘n droër periode aan vir die res van Februarie oor die sentrale tot westelike dele van die land. Tropiese storms rondom Madagaskar kan verantwoordelik wees vir swaar reën oor Mosambiek, Madagaskar asook oor die binneland na Zimbabwe, Zambië en noordoostelike dele van Suid-Afrika vanaf 9 Februarie tot later in die maand.

Langer termyn vooruitskouïngs is steeds positief vir redelike swaar reën in Maart, veral in die tweede deel van Maart oor die grootste deel van die Somerreënvalgebied.     

Temperatuur

Met minder reën wat verwag word in komende weke sal temperature rondom gemiddeld wees maar baie warm oor die westelike binneland. Die hoër temperature sal baie voordelig wees vir die somergraanoes wat tot op hede minder hitte-eenhede gekry het.  

Winterreënvalgebied 

Baie min of geen reën word verwag oor die grootste deel van die Wes-Kaap vir ten minste die volgende paar weke nie met die uitsondering van ligte reën wat moontlik is rondom 20 Februarie.  Met die huidige La Nina wat gaan verswak na neutraal vanaf April kan dit ‘n laat aanvang van die winterreënvalseisoen beteken.  

Namibië

In teenstelling met Suid-Afrika waar min reen verwag word vir die volgende paar weke, lyk vooruitsigte beter vir Namibië, veral vir die noordelike tot noordoostelike dele waar meer as 50mm moontlik is voor die laaste week van Februarie. Baie min reën word verwag oor die suidelike dele.   

Opsomming en samevatting

  • Baie swaar reën wat tipies is van La Nina-toestande het voorgekom oor die sentrale tot oostelike binneland sedert die laaste deel van Januarie met vloede wat voorgekom het. 
  • Die huidige La Nina-episode is nou besig om te verswak maar sal by La Nina-vlakke bly tot ten minste April. 
  • Korttermynvoorspellings toon ‘n droë periode vir die grootste deel van die Somerreënvalgebied aan (uitsondering verre noordoostelike gebiede) vir Februarie maar swaarder reën is weer moontlik in Maart 2021.

Vrywaring:  Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal,  waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie. 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0