Suid-Afrikaanse landbou teken hoogste eerstekwartaal-handelsoorskot in geskiedenis aan

iStock-1292728276-1024×683
Suid-Afrika se landbousektor het in die eerste kwartaal van 2026 ‘n handelsoorskot van VS$1,55 miljard aangeteken. Dit is die hoogste eerstekwartaal-handelsoorskot op rekord en verteenwoordig ‘n verbetering van 16,1% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar, volgens AgriSA se eerste kwartaal handelverslag. Hierdie verslag ontleed landbou- en landbouverwerkte produkte wat onder die Geharmoniseerde Stelsel (HS) Hoofstukke 1–24 geklassifiseer word.
Totale landbou uitvoere het VS$3,30 miljard beloop, wat grootliks in lyn was met die vlakke van die eerste kwartaal van 2025, terwyl invoer met 10,6% afgeneem het tot VS$1,76 miljard. Dit het bygedra tot die verbeterde handelsbalans. Hoewel die rekord handelsoorskot bemoedigend is, dui die verslag daarop dat dit hoofsaaklik die gevolg was van laer invoer koste eerder as sterker uitvoergroei, wat die belangrikheid beklemtoon om momentum in uitvoerontwikkeling en markuitbreiding te handhaaf.
Die verslag beklemtoon die voortdurende sterkte van Suid-Afrika se tuinbousektor, wat gedurende die kwartaal 55% van alle landbou-uitvoer verteenwoordig het en sy rol as die ruggraat van die land se landbou-uitvoerekonomie verder bevestig. Sterk prestasies is aangeteken in druiwe, appels, pere, wyn, sitrus, bessies en boomneute. Tuinbou het die grootste bydrae tot Suid-Afrika se landbou-uitvoerprestasie gelewer en beklemtoon die sektor se belang vir buitelandse valuta-verdienste, werkskepping en markdiversifikasie.
Terselfdertyd bly strukturele uitdagings voortbestaan. Bek-en-Klouseer (BKS) beperk steeds veë-uitvoer, veral na hoëwaarde-markte in die Midde-Ooste en Asië, terwyl uitvoer na die Verenigde State gedurende die kwartaal met 39,9% afgeneem het. Die verslag wys ook op toenemende uitvoerkonsentrasie in ‘n beperkte aantal markte en subsektore, wat die behoefte aan voortgesette diversifikasie en marktoegangspogings beklemtoon.
“Die resultate bevestig die veerkragtigheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou in ‘n komplekse wêreldhandelsomgewing. Hoewel die rekordhandelsoorskot positief is, beklemtoon dit ook die belangrikheid daarvan om uitvoergroei te versterk, marktoegang te beskerm en biosekuriteitsuitdagings soos Bek-en-Klouseer aan te spreek,” sê Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA.
“Langtermynsukses sal afhang van ons vermoë om uitvoerbestemmings te diversifiseer, betroubare handelsverhoudings te handhaaf en ‘n gunstige omgewing te skep waarin produsente wêreldwyd mededingend kan bly.”
Die verslag beklemtoon positiewe ontwikkelings in uitvoerdiversifikasie en marktoegang, insluitend uitgebreide geleenthede in Asië en die Midde-Ooste, terwyl Suid-Afrika hom steeds as ‘n betroubare verskaffer van hoëgehalte-landbouprodukte aan wêreldmarkte posisioneer.
Belangrike aanwysers: Kwartaal 1, 2026
- Landbou-uitvoer: VS$3,30 miljard
- Landbou-invoer: VS$1,76 miljard
- Landbouhandelsoorskot: VS$1,55 miljard (rekordvlak vir ‘n eerste kwartaal)
- Tuinbou se aandeel van uitvoer: 55%
- Vyfjaargroei in die Kw1-handelsoorskot: 86%
Laai die volledige verslag hier af: AgriSA Quarterly Trade Report, Q1 2026.
Verslag metodologie:
- Bron: AgriSA Kwartaal 1 2026 Handelsverslag
- Onderliggende handelsdata is afkomstig van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) se doeanedatabasis en is via die AgricultureSA.io-platform ontleed.
- Die verslag dek landbou- en landbouverwerkte produkte wat onder die Geharmoniseerde Stelsel (HS) Hoofstukke 1–24 geklassifiseer word.
- Produkte soos wol, katoen, bosbouprodukte, huide en velle word van die ontleding uitgesluit.
- Gevolglik kan die totale uitvoerwaardes verskil van ander landbouhandelspublikasies wat breër produkdefinisies gebruik.
- Alle waardes word in Amerikaanse dollar (VS$) gerapporteer.
Vir enige navrae kontak vir Johann Kotzé, Hoofuitvoerende beampte van AgriSA by (+27)79-523-5767 of stuur ‘n e-pos na info@agrisa.org.za